‘n Reeks van 18 modelle

Die jongste hersiening van die Hilux-eentonbakkiereeks beteken dat kopers voortaan sal kan kies uit 18 verskillende modelle wat voorsiening maak vir die wydste moontlike spektrum bedryfsbehoeftes. Die fokus deur die hele reeks is op veiligheid, duursaamheid, ekonomie, gerief en bekostigbaarheid, en om te verseker dat die nuwe Hilux voldoen aan die vereistes van klante uit alle sektore van die samelewing.

Daar is vier spesifikasievlakke, naamlik vir die basiese nutsmark (werkperd), S (‘n verbeterde veiligheidspesifikasie), ‘n middelslagvlak met bykomende geriefseienskappe (SRX) en die luukse-spesifikasie (Raider). Kopers het ook ‘n keuse tussen petrol- en dieselenjins – almal nuwegeslag-ontwerpe vir die Hilux – met ‘n verplasing van 2, 2,7 en 4 liter in die petrolreeks en 2,5 en 3 liter in die dieselreeks.

Dan is daar ‘n keuse tussen enkel- en dubbelkajuite en 4×2 of 4×4. In die basiese spesifikasie is daar ook ‘n kajuit/onderstel-konfigurasie verkrygbaar. Nuwe toevoegings tot die reeks sluit in ‘n outomatiese opsie in die vlagskip-Raider-dieselmodelle en die tweewielaangedrewe Raised Body Raider 4.0 V6 – dit is bo en behalwe die 4.0 V6 Raider-dubbelkajuit 4×4.

Enkelkajuit

In die Hilux-enkelkajuitreeks, wat vernaamlik op vloot- en nutsgebruikers gemik is, het kopers ‘n omvattende keuse tussen tien weergawes. In hierdie reeks is die gewildste petrolenjin die viersilindereenheid van twee liter wat 100 kW en 182 Nm se wringkrag ontwikkel. Hierdie jongstegeslag-enjin met 16 kleppe en VVT-i-kleptydreëling is ontwerp met die oog op krag en ekonomie. ‘n Viersilinderenjin van 2,7 liter met 16 kleppe en VVT-i (118 kW en 241 Nm) is beskikbaar in die Hilux 2.7 Raised Body Raider.

Kopers wat dieselkrag verkies, het ‘n keuse tussen die 2.4D-4D of die 3.0D-4D. Albei is die heel jongste eenhede van die Toyota-Motorkorporasie met aluminiumsilinderkoppe en turboaangedrewe, direkte inspuitdeelpyptegnologie.

Die 2,5 liter-enjin het twee spesifikasievlakke. Die maksimum-krag vir albei eenhede is 75 kW. Die enjin met normale spesifikasie lewer 200 Nm se wringkrag. Die 4×4- en Raised Body-modelle is toegerus met ‘n sogenaamde Hi-Spec-weergawe van hierdie enjin, wat 260 Nm se wringkrag ontwikkel. Die 3.0D-4D-enjin ontwikkel 120 kW en 343 Nm se wringkrag en spog met ‘n wisselwiek-turboaanjaer en ‘n tussenkoeler.

Die Hilux-werkperdspesifikasie is net in die enkelkajuitkonfigurasie verkrygbaar met die opsie van óf die tweeliter-viersilinderpetrol- óf die 2,5 liter-turbodieselenjin. Ratkaste is vyfspoedhandrat en die wiele is 15 duim-staal beslaan met 205/70R15C-bande.

Die werkperd-spesifikasie sluit die volgende eienskappe in:
*Modderflappe voor en agter
*Brandstoftenkskut
*Tandstang- en kleinratstuur (standaard in alle Hilux-bakkies)
*Hoogteverstelbare stuurwiel
*60/40-splitbanksitplek voor met PVC-bekleedsel
*PVC-vloerbedekking
*Getinte ruite
*Dubbelrommelkissie
*Deurvakkies
*Twee bekerhouers
*Afstandbeheerde petrolklap
*Lasaanvoel-, ewewigs- en omloopklep vir agterremme
*Veiligheidsel-kajuitontwerp
*Botsslagstawe in deure
*Kopbeskermingsbeslag
*Indringingsbeperker vir rempedaal
*Energie-absorberende stuurwiel en stuurkolom
*Transpondersleutel-immobiliseerder en alarmstelsel
*80 liter-brandstoftenk

Die S-spesifikasie sluit bykomende veiligheidseienskappe in, te wete:
*ABS-sluitweerremstelsel
*Lugsak vir die bestuurder en die passasier
*Afsonderlike sitplekke met materiaalbekleedsel
*Middelkonsole

Bo en behalwe die werkperdeienskappe spog die Hilux Raised Body SRX-enkelkajuit met die volgende kenmerke:
*Hi-spec-D-4D-enjin van 2,5 liter (maksimum-wringkrag 260 Nm)
*Ewenaarslot
*Skottelsitplekke met materiaalbekleedsel
*Drie bekerhouers
*Lugreëling
*RDS-radio met voorlaai-CD-speler met MP3-koppeling
*Pasmatte
*Agterste skuifruit

Die Hilux SRX 4×4-enkelkajuit het die volgende bykomende eienskappe:
*Deeltydse 4×4
*4×4 kan in die ry geskakel word met outomatiese skakeling van die voorste ewenaar
*Stuurpompkeerklep om die deurvoer van padskokke te verminder

Die Hilux Raised Body Raider-spesifikasie bied kopers die volle reeks luukse-eienskappe. Enjinkeuses op hierdie spesifikasievlak is die 2,7 liter-petrolenjin met ‘n maksimum-krag van 118 kW en ‘n top-wringkrag van 241 Nm, en die 3.0D-4D-dieselenjin, wat 120 kW en 343 Nm se wringkrag ontwikkel.

Hierdie spesifikasievlak sluit al die eienskappe van die werkperd- en SRX-modelle in, plus:
*255/70R15C-bande aan 15 duim-allooiwiele
*Chroomkantspieëls
*Misligte voor
*Kanttreetjies
*Elektriese ruitverstelling voor
*Elektriese kantspieëlverstelling
*Sitplekgordels met voorspanners en kragbeperkers
*Afstandbeheerde sentrale sluiting met selektiewe ontsluiting

Dubbelkajuit

Die nuwe Hilux-dubbelkajuitreeks bestaan uit agt weergawes met petrol- en diesel-Raised Body 4×2-modelle in Raider-spesifikasie en vierwielaangedrewe petrol- en diesel-Raiders. Die vier vlagskip-modelle is die 3.0D-4D Raised Body Raider-outomaties, die 3.0D-4D 4×4 Raider-outomaties, die 4.0 V6 Raised Body Raider-outomaties en die 4.0 V6 Raider 4×4-outomaties.

Die dubbelkajuit-Raider-spesifikasie sluit in:
*Agterste ewenaarslot
*Stuurpompkeerklep om die deurvoer van padskokke te verminder
*265/70R16C-bande
*Allooiwiele
*Hoogteverstelbare stuurwiel
*Leerstuurwiel met satellietkontroles vir die klankstelsel
*Klimaatbeheer-lugreëling
*RDS-radio met voorlaai-CD-speler en MP3-koppeling
*Sportsitplekke met materiaalbekleedsel
*Pasmat
*Getinte ruite
*Agterste skuifruit
*Middelkonsole
*Deurvakkies voor en agter
*Veelinligtingsvertoon
*Optitron-instrumentasie
*Opslaansitplekke agter met bêreruimte onder die sitplekke
*Vyf bekerhouers
*Koplig-aan-waarskugonser
*Afstandbeheerde petrolklap
*Lasaanvoel-ewewigsklep vir agterremme
*Hoë stoplig in bakklap
*Kinderslotte aan agterdeure
*Veiligheidsel-kajuitontwerp
*Botsslagstawe in die deure
*Kopbeskermingsbeslag
*Energie-absorberende stuurwiel en stuurkolom
*Transpondersleutel-immobiliseerder en alarm
*Bakkleur-buffers en -wielnisomraming
*Chroomkantspieëls
*Misligte voor
*Kanttreetjies
*Elektriese ruitverstelling voor en agter
*Elektriese kantspieëlverstelling
*ABS-sluitweerremme
*Lugsakke vir bestuurder en voorste passasier
*Kant- en gordynlugsakke
*Sitplekgordels met voorspanners en kragbeperkers
*Afstandbeheerde sentrale sluiting met selektiewe ontsluiting
*Sluitbare bakklap
*Keuse tussen 2.5D-4D-dieselenjin (75 kW/260 Nm) met vyfspoedhandratkas; 2.7 VVTi-petrolenjin (118 kW/241Nm) met vyfspoedhandratkas; 4.0 V6-petrolenjin (175 kW/376 Nm) met outomatiese vyfspoedratkas; 3.0D-4D-dieselenjin (120 kW/343 Nm) met óf ‘n vyfspoedhand- óf ‘n outomatiese vierspoedratkas.
*Snelheidsbeheer is standaard in die 4.0 V6-petrol- en die 3.0D-4D-dieselweergawe.

Lewer kommentaar

Leave a Reply