Die eerste Hilux-bakkies het in 1969 in Suid-Afrika aangekom. Daardie eerste, basiese kortasafstandmodel van 1,5 liter was ‘n baie aantreklike alternatief vir die groter Amerikaanse en Australiese bakkies met hul dorstige ses- en agtsilinderenjins wat in daardie stadium die bakkiemark oorheers het.
Die Hilux was uit die staanspoor gewild as ‘n ekonomiese oplossing vir ligte vervoerwerk, veral in die vloot- en die landbousektor. Binne enkele maande nadat die eerste Hiluxe te koop aangebied is, was dit ‘n gunsteling onder Suid-Afrikaanse bakkiekopers. In 1970, in sy eerste volle jaar op die mark, het die Hilux die markleier geword. En in die 38 jaar wat daarop gevolg het, was dit net vier keer nie die topverkoper nie – in 1969, 1978, 1997 en 1998.
Danksy hierdie weergalose sukses het die Hilux op die Corolla na die gewildste voertuig in Suid-Afrika geword – wat eintlik net ‘n weerspieëling was van wat in die res van die wêreld gebeur het. Internasionaal is die topverkoper-Hilux op die Corolla na die TMK se gewildste voertuig ooit.
Presies hoe gewild die Hilux is, blyk uit die feit dat internasionale verkope fluks op pad is na die 14 miljoen-kerf, met jaarlikse globale verkope van meer as 500 000 eenhede.
Onderweg na sy sukses in Suid-Afrika was die Hilux die voorloper met innovasies in die belangrike eenton-LHV-marksegment. Die eerste vernuwing aan die oorspronklike reeks was in 1972 toe ‘n langasafstandmodel vir die eerste keer beskikbaar gestel word. In 1973 is die tweede geslag van die Hilux in Suid-Afrika bekend gestel. Daarmee is die reeks uitgebrei tot vier modelle, aangedryf deur ‘n 1,6 liter- of ‘n 2 liter-petrolenjin.
Toe die derdegeslag-Hilux sy verskyning in 1979 maak, is die modelkeuse verder uitgebrei en kopers kon toe kies uit ‘n reeks van sewe bakkies. ‘n Eerste vir Toyota was die bekendstelling van ‘n 4×4-model, wat terselfdertyd ‘n heel nuwe en besonder belangrike marksegment in Suid-Afrika geopen het. Nog ‘n deurbraak vir Toyota in hierdie marksegment was die insluiting van ‘n 2,2 liter-dieselenjin vir die nuwe reeks.
In 1984 het Toyota die vierde geslag van die Hilux in Suid-Afrika bekend gestel. Dit het die eerste 4×4-dubbelkajuite ingesluit, wat weer eens ‘n beduidende nuwe marksegment in die eentonbakkiemark beteken het. Vir die eerste keer kon bakkie-eienaars wat hul voertuie vir uitspan saam met hul gesinne gebruik, die gerief en veelsydigheid van ‘n eentonner benut.
Twee jaar nadat hierdie modelreeks bekend gestel is, was Toyota die eerste voertuigvervaardiger wat ‘n vyfspoedhandratkas in sy eentonbakkies aanbied. In 1989 is die reeks verder uitgebrei met Suid-Afrika se eerste dieselaangedrewe 4×4-eentonner.
Om die Hilux se 21 jaar in Suid-Afrika te vier, het Toyota in 1991 die luuksueuse Raider-weergawes bekend gestel. Dit is veral gedoen om erkenning te gee aan die beduidende rol en groeipotensiaal van die mark vir uitspanvoertuie. Die Hilux-reeks het nou uit 14 verskillende modelle bestaan. Hierdie konsep van ‘n taai luuksebakkie is oor die jare verder ontwikkel om klasleier-luuksekenmerke vir die Hilux te verseker.
In November 1997 het die Hilux ‘n verdere mylpaal bereik toe verkope van hierdie Toyota-staatmaker die 500 000-kerf verbysteek.
‘n Jaar later, in 1998, is ‘n nuwe geslag van die Hilux bekend gestel. Weer eens het hierdie nuwe modelreeks die heel jongste in LHV-ontwikkeling van Toyota aangebied en daar is voortgebou op die soliede reputasie van die Hilux in die Suid-Afrikaanse mark. En weer het die Raider-modelle die doelpale verskuif met ‘n lys eerstes wat gemik was op die ontwikkeling van die Hilux as ‘n ware veeldoelvoertuig.
Die omvattende lys standaardkenmerke vir die Raider het veiligheidsitems soos ABS-remme en voorste lugsakke vir die vierwielaangedrewe vlagskip-dubbelkajuitmodelle ingesluit – in daardie stadium uniek in hierdie afdeling van die mark – asook luukses en geriefsitems soos ‘n klankstelsel, elektriese ruitverstelling en lugreëling.
Toyota het terselfdertyd sy splinternuwe 5L-dieselenjin van 3 liter met langer diensafstande bekend gestel. Vir die eerste keer het kopers in die eentonsegment die keuse gehad van ‘n drieliter-dieselbakkie met ‘n diensafstand van 10 000 km.
So gewild was hierdie nuwe Hilux dat dit in 1999 Suid-Afrika se algehele topverkoper-voertuig geword het.
Op 3 Oktober 2003 het Toyota Suid-Afrika ‘n gedugte uitdaging aangepak toe die maatskappy ‘n groep van agt Hilux-bakkies – petrol- en dieselmodelle wat die hele reeks verteenwoordig – gebruik het om ‘n reeks Suid-Afrikaanse snelheids- en afstandsrekords vir bakkies op te stel. Na 72 uur op die Gerotek-toetsbaan buite Pretoria het 89 van hierdie rekords agter die Hilux se naam gestaan en is die Hilux in die rekordboeke verewig. Hierdie rekords staan tot vandag toe.
Onder al die nuwe snelheids- en afstandsrekords wat met hierdie standaardbakkies opgestel is, verdien twee spesiale vermelding. Die Hilux 2700i het ‘n gemiddelde snelheid van 160,009 km/h oor 72 uur gehandhaaf en die Hilux 2400D het ‘n totale afstand van 9 990,5 km afgelê – net nege en ‘n half kilometer onder die magiese 10 000 km-kerf. Wat hierdie prestasie soveel te meer merkwaardig gemaak het, was dat alle voorgeskrewe versieningswerk ten tyde van die rekordlopie gedoen is, insluitende die vervanging van olie en filters.
In ‘n poging om ‘n gemiddelde snelheid van 160 km/h vir die duur van die 72 uur-aanslag te handhaaf, het die Hilux 2700i soms tot 177 km/h bereik en is ‘n vinnigste rondtetyd van 170,3 km/h op Gerotek se ovaalbaan opgestel. Die agt voertuie het saam 84 887 km afgelê – en dit in dagtemperature wat by tye op 37 grade C gestaan en net by enkele geleenthede tot benede 24 grade gedaal het!
Toyota gaan voort om die Hilux te verfyn en te ontwikkel met byderwetse stilering om te voldoen aan klantvoorkeure in ‘n dinamiese mark. Die bewese formule dat die produk deurentyd verbeter word om te voldoen in Suid-Afrikaanse behoeftes, met die klem op lae algehele lewensbedryfskoste en buitengewone betroubaarheid en duursaamheid, is dié sleutel tot die Hilux se sukses.
Die jongste Hilux is meer as bloot net ‘n evolusie van die model en stel nuwe maatstawwe in die klas. Dit is groter, spog met passasiersmotorgerief, groter laairuimte, beter veiligheidskenmerke, die jongste geslag van petrol- en dieselenjins en selfs groter duursaamheid. Voeg hierby ‘n nuwe bekostigbaarheidsvlak danksy die nuwe globale vervaardigingsprogram wat vir hierdie reeks voertuie geïmplementeer is, en jy kan seker wees die wenformule duur voort.
Die nuwe Hilux het vervaardigingstandaarde by Toyota SA opnuut gedefinieer in ‘n stadium dat die maatskappy ‘n volwaardige lid geword het van die TMK se globale verskaffingsnetwerk as een van vier globale vervaardigingsgeriewe vir die IVV-projek, waarvan die Hilux die vernaamste element is. Vir die eerste keer het die voertuigproduksie van enige enkele platform vir uitvoer Toyota SA se algehele produksie vir die plaaslike mark in 2006 oorskry namate die Hilux se uitvoerproduksie hul teikenvolumes bereik het.
Hilux-verkope in Europa, ‘n belangrike bestemming vir Suid-Afrikaans vervaardigde Hilux-bakkies (ander Hilux-weergawes van ander globale vervaardigingsaanlegte word ook hier bemark) het in 2007 39 000 eenhede bereik vir ‘n markaandeel van 22 persent. In 2007 is altesame 508 107 Hiluxes wêreldwyd van die hand gesit. Dit het die verkope van die jongste geslag sedert die bekendstelling op 1 269 799 eenhede te staan gebring – en al hoe nader aan die 14 miljoen-kerf.
Van die begin van Toyota SA se uitvoerprogram in die middel van 2005 tot einde Oktober 2008 is altesame 176 459 eenhede uitgevoer. Van hierdie getal is 57 003 eenhede in die eerste tien maande van vanjaar na uitvoerbestemmings verskeep.
