Outomatiese dieselmodelle vir verfriste Hilux-reeks

Toyota Suid-Afrika het die Hilux-bakkiemodelreeks pas verfris. Die produkreeks is terselfdertyd hersien en uitgebrei met drie nuwe modelle aan die bopunt van die reeks, waarvan twee outomatiese dieselmodelle is.

Die twee nuwe dieselmodelle is die Hilux 3.0D-4D Raised Body Raider outomaties met ‘n 4×2-kragoorbringstelsel en die Hilux 3.0D-4D 4×4 Raider outomaties. Die derde nuwe Raider-model is die 4.0 V6 Raised Body Dubbelkajuit-Raider 4×2 met ‘n outomatiese vyfspoedratkas.

Dit is die eerste keer dat Toyota kopers die keuse van ‘n outomatiese vierspoedratkas in die dubbelkajuit-dieselweergawes gee.

Hersienings aan die reeks is ook gemaak in die enkelkajuit-modelreeks in reaksie op klantvereistes in voertuie wat hoofsaaklik in werkperdtoepassings ingespan word. Die Hilux 2.0 VVTi SRX en sy dieselstalmaat, die 2.5D-4D SRX, word vervang deur die 2.0 VVTi S- en die 2.5D-4D S-model.
Die S-betiteling dui op die toevoeging van ABS-sluitweerremme en lugsakke vir die bestuurder en die passasier tot die spesifikasielys. ‘n Middelkonsole en afsonderlike materiaalsitplekke is ook deel van hierdie spesifikasie.

In ‘n verdere verandering aan die modelreeks word die Hilux 2.7 VVTi 4×4 SRX-enkelkajuitpetrolmodel vervang deur die dieselaangedrewe 3.0D-4D 4×4 Raider-enkelkajuit.

Kopers het nou ‘n keuse tussen 18 Hilux-weergawes – van basiese werkperdmodelle tot die luuksueuse Raider-spesifikasiebakkies wat ‘n veelsydige kombinasie van nutsruimte en ‘n luukse-passasierskajuit bied. Tien van die weergawes is enkelkajuit en die ander agt dubbelkajuit.

Die hersiening van die modelreeks val saam met veranderinge wat daarop gemik is om die kajuit en die buitestilering van Suid-Afrika se gewildste eentonbakkie te verfris.

Die Hilux is nie net die topverkoper in die eentonbakkiesegment van die Suid-Afrikaanse voertuigmark nie. Verkoopsyfers van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) van Januarie tot einde Oktober toon dat die Hilux die algemene topverkoper in ons mark is met gesamentlike verkope van 25 206 eenhede – 485 meer as die topverkopende passasiersmotor. In die eentonsegment het die Hilux ‘n markaandeel van 37%.

“Die Hilux het homself in die ligte handelsvoertuigmark gevestig as ‘n uitnemende waardeproposisie met sy soliede reputasie vir waarde vir geld, betroubaarheid, eienskappe en ongeëwenaarde prestasie ten opsigte van bedryfskoste oor die hele werkleeftyd van die voertuig,” sê Andrew Kirby, Toyota SA se Vise-President: Verkope en Bemarking.

“By Toyota monitor ons die mark voortdurend om op die hoogte te bly met veranderende klantvereistes. Met die snelle vordering in dieselenjintegnologie en die toenemende gewildheid van dieselvoertuie in Suid-Afrika het ons ‘n hoë vlak van klantbelangstelling bespeur in dieselaangedrewe vlagskip-dubbelkajuitmodelle met ‘n outomatiese ratkas. Ons navorsing het ook getoon dat daar groot belangstelling is in ‘n outomatiese weergawe van die tweewielaangedrewe petrol-Raider-dubbelkajuit met die vierliter-V6-enjin.

“Die Hilux-reeks word nou uitgebrei met hierdie drie nuwe dubbelkajuitmodelle om in daardie behoefte te voorsien. Twee van die bakkies word aangedryf deur Toyota se jongste 1KD-FTV-turbodieselenjin en die derde deur die V6-petrolenjin van vier liter. Al drie bakkies spog met ‘n omvattende spesifikasielys.

“Ons navorsing het ook getoon dat daar ‘n verandering is in klantverwagtings
aan die onderkant van die enkelkajuitmark. Hier het ons gevind dat kopers ‘n verbeterde veiligheidspesifikasie wat ABS-remme en lugsakbeskerming vir die bestuurder en die passasier bied, verkies bo die luukse-items wat in die SRX-spesifikasievlak ingesluit word. Om aan hierdie vereiste te voldoen, het ons die modelreeks aangepas deur twee van die SRX-spesifikasiemodelle te vervang deur ‘n S-spesifikasievlak wat hierdie veiligheidseienskappe insluit.”

Saam met die hersienings aan die modelreeks het Toyota ook die buitestilering hersien en ‘n aantal veranderinge in die kajuit aangebring.

Die hersiene buitestilering sluit in ‘n nuwe sierrooster met trapesoïede vorm, tesame met hersiene koplig- en bufferstilering wat ‘n meer geharde voorkoms aan die Hilux verleen. ‘n Dakgemonteerde “angel”-tipe antenna gee ‘n skoner voorkoms aan die voorkant van die voertuig. Die werkperdbakkies kry 15 duim-wiele (voorheen 14 duim) en die Raider-dubbelkajuite 16 duim-wiele. Laasgenoemde modelle kry ook ‘n sluitbare bakklap.

In al die handratmodelle is die ratkierie korter vir beter ergonomie. Verbeterings in al die enkel- en dubbelkajuit-Raider-modelle sluit in ‘n leeroortreksel vir die stuurwiel en die ratkierie en snelheidsbeheer vir die 3.0D-4D-Raider-modelle (reeks beskikbaar in die 4.0 V6-petrolmodelle).

Die dubbelkajuit-Raiders kry ook ‘n veelinligtingvertoon, Optitron-instrumentasie, klimaatbeheer-lugreëling en kant- en gordynlugsakke.

Lewer kommentaar

Leave a Reply