Sahara, is ’n Westerse uitspraak van die Arabiese woord vir woestyn, letterlik “die grootste woestyn”. Dit is geleë in Noord-Afrika en is die planeet se grootste warm woestyn, meer as 8 600 000 km². Die Sahara is 2,5 miljoen jaar oud.

’n Paar honderd jaar gelede het nomadiese stamme in die Sahara gewoon en handel gedryf. ’n Paar duisend jaar gelede het die woestyn ’n verskeidenheid diere gehuisves. Gedurende die tyd wat die Romeine Noord-Afrika beheer het was Algerië nog ’n gebied wat graan verskaf het. Vandag is dié land afhanklik van voedselinvoere.
Ons weet vandag dat daar ’n Hamitiese ras in die noorde van die Sahara gewoon het meer as 10 000 jaar gelede. Hulle kon klein lemmetjies en halfmaanvormige pylpunte vervaardig. Die Berbers en Toearegs was afstammelinge van hierdie mense. Lees meer oor die Toearegs by Timboektoe – ’n Kort geskiedenis. Uit rotsskilderings van die Tassili n’Ajjer in die Sahara leer ons dat daar algemeen hier gejag is.
Omstreeks 10 000 jaar gelede was die Egiptenare in die suidwestelike uithoek van Egipte suksesvolle veeboere. Hulle het met groot getalle beeste en varke geboer en in ’n mindere mate met bokke en skape. Hulle het ook tegniese vaardighede ontwikkel, soos die maak en gebruik van werktuie. Sommige navorsers beweer hulle het bygedra tot die verwoestyning van die Sahara. Die antieke Egiptenare het ongeveer 7 000 jaar gelede vlas verbou vir die vervaardiging van linne. Bietjie meer as 2 000 jaar later was die Sahara so droog soos dit vandag is.

Die Egiptiese farao Menes skep die verenigde Egiptiese ryk ongeveer 5 000 jaar gelede. Nie lank daarna nie word beeldskrif (hiërogliewe) ontwikkel wat ’n gevorderde skryfkuns moontlik maak.
Sowat 3 500 jaar gelede het die Fenisiërs ’n konfederasie van koninkryke oor die hele Sahara tot by Egipte geskep. Die Fenisiërs het hulle oor die algemeen aan die kus gevestig maar soms ook in die woestyn. Die Egiptenare het in die tyd begin seilbote bou, iets wat hulle waarskynlik by die Fenisiërs geleer het. Later kom die area ook onder die invloed van die Grieke toe Alexander die Grote Egipte inval. Bietjie meer as 2 000 jaar gelede word Egipte formeel ingelyf as deel van die Romeinse ryk.
Relatief onlangs het ons eers uitgevind dat 2 000 jaar gelede, in die middel van die Sahara, was daar ’n beskawing met ’n geskrewe taal, piramides, besproeiing, landbou en leërs met strydwaens en perderuiters – die “Garamantes”. Ons leer hulle vir die eerste keer ken in die werk van die Griekse historikus Herodotus. Die Romeine het na hulle verwys as “wilde nomades” en antieke skrywers van die tyd het niks goed oor hulle te sê nie. Dit blyk die rede hiervoor was dat hulle die Romeine in verskeie oorloë frustreer het. Die hoofstad Garama was die voorganger van die stad Germa in Libië. Argeoloë het onder andere ’n kasteel gevind wat dateer uit die tydperk. Wat hierdie mense merkwaardig gemaak het, is dat hulle ’n manier gevind het om die ondergrondse watermassa van die Sahara te benut. Daar is ongeveer 600 ondergrondse kanale gevind wat elke meer as ’n paar honderd kilometer lank is. Binne die kanaalstelsel is daar meer as 100 000 boorgate.
’n Groot verandering kom toe Arabiere kamele na die streek bring. Die diere het handel in die woestyn moontlik gemaak. Soos die stad Garama, het die Koninkryk van die Sahel het veral voordeel hieruit geput en ryk en magtig geword. Daarna volg die Songhai Ryk wat groot dele van die Sahara oorheers het in die jaar 1490. Hulle het die Koninkryk van Mali onderwerp. Lees meer oor die Songhai Ryk, die Koninkryk van Mali en Koninkryk van Ghana by Timboektoe – ’n Kort geskiedenis.