Lank gelede, iewers in die 12de eeu, het lede van die Toeareg-stam van Afrika elke somer migreer na ’n spesiale plek langs die Niger-rivier. Dit was soveel anders as die soutmyne van die Saharawoestyn waar hulle die res van die jaar gewerk het. Daar was groen grasvelde en ’n vlak put met skoon, soet water.

Wanneer hulle weer noord migreer het, het ’n deel van hul bagasie daar gebly onder die sorg van ’n Toeareg-vrou, Boektoe. Haar naam beteken “die een met die groot naeltjie”. Later het mense sommer begin praat van die plek as Boektoe se put (Tin-bouctou).

Gedurende die volgende paar honderd jaar het Timboektoe gegroei van ’n versameling tente en modderhutte na ’n bedrywige handelspos met mense van verskeie kulture.

In 1468 ontvang die rustige handelspos ’n skok. Die krygsheer Sunni Ali en sy leër verower die stad. Ali was wreed. Duisende mense is doodgemaak en dele van die stad is afgebrand. Hy het veral geleerdes geteiken en laat doodmaak.

Met Ali se dood in 1492 het daar ’n bloedige stryd uitgebreek tussen sy moontlike opvolgers. ’n Neef van Ali, Mohammed Touré, het die leër van Ali se seun verslaan in April 1493. Touré het sy naam verander na Koning Al Hajj Askia Mohammed Touré, heerser van die Songhai Ryk. Touré se heerskappy het ’n nuwe era van vrede en voorspoed ingelei.

Timboektoe het reeds vroeg in die veertiende eeu ’n literêre kultuur van skryf en boekversameling gehad. Leo Africanus (regte naam Hassan Mohammed Al Wazzan Al Zayati) skryf in 1526 in Die geskiedenis en beskrywing van Afrika en die noemenswaardige dinge daarin van markte vol goedere van oraloor die wêreld. Hy skryf dat sowat 25 000 van die stad se 100 000 inwoners studente is. Dat daar 180 opvoedkundige instansies is, met die Universiteit van Sankoré wat die beste is. In die tyd wat Europa in die Middeleeue vasgevang was, het daar in Timboektoe ’n gesofistikeerde, vrydenkende samelewing bestaan.

Daar is ’n Soedannese spreekwoord van daardie tyd wat sê: “Sout kom van die noorde, goud van die suide en silwer van die land van die wit man, maar die woord van God en die skatte van wysheid word slegs in Timboektoe gevind”.

Die Songhai Ryk was geleë in die Sahel, ’n grensgebied in Afrika tussen die Saharawoestyn in die noorde en ’n meer vrugbare gebied in die suide. Behalwe die Songhai Ryk het die Sahel ook die Ghana Ryk en die Mali Ryk ingesluit.

In 1591 tref ’n nuwe golf geweld Timboektoe. Sultan Ahmad I al-Mansur Saadi van Marokko stuur sy leër suid om die skatte van die Songhai Ryk te plunder. Die Shongai perderuiters het hul bes gedoen, maar hulle was nie opgewasse teen die moderne vuurwapens van die vyand nie. Timboektoe is van sy rykdom beroof en die stad is vir drie jaar lank deur die Marokkane beset. Vir ’n dekade daarna was daar nog gevegte in die area.

Die Marokkane het met tyd hul houvas op die streek verloor. Die Bambara Ryk het tot stand gekom en het bestaan vanaf 1712 tot 1861. Die Bambara Ryk het deels grotendeels uit die area bestaan wat later as Mali bekend sou staan. In 1894 val die Franse leër Mali binne en annekseer dit as ’n oorsese deel van Frankryk.

Timboektoe, 1858, deur Heinrich Barth

In 1959 word die Mali Federasie gestig wat in 1960 onafhanklikheid van Frankryk verkry. Dit het bestaan uit Mali en Senegal. Senegal het na ’n paar maande uit die federasie onttrek en so ontstaan die Republiek van Mali, ’n land met die tweede grootste grondgebied van al die state in Wes-Afrika – ’n groot deel lê in die Saharawoestyn.

Timboektoe ontvang in November 2012 besoek van Suid-Afrika se president Thabo Mbeki. Hy is so beïndruk met die werk van die Ahmed Baba Instituut dat hy Suid-Afrika se Nasionale Argief opdrag gee om die instituut te help met die bewaring van hul manuskripte.

In 2012 kom die Toearegs in die noorde van Mali in opstand teen die sentrale regering en verklaar hul nuwe staat Azawad onafhanklik. Verskeie Islamitiese ekstremiste-groepe het aanvanklik gehelp met die oorname, maar domineer daarna die Toearegs en probeer ’n Islamitiese staat tot stand bring. Islamitiese groepe het Timboektoe oorgeneem en dit was die dieselfde ou storie waaraan die stad al gewoond was die afgelope paar eeue. Geleerdes is geteiken en godsdienstige suiwering het plaasgevind – barbaarsheid was aan die orde van die dag. Die gebied is later deur Mali herwin met die ondersteuning van Frankryk.

In die Westerse wêreld is daar lank nie geglo Timboektoe bestaan werklik nie. Die legendes was vir baie Westerlinge net te goed om te glo. Die naam Timboektoe ’n metafoor vir ’n vêrafgeleë plek geword.

Timboektoe is in 1988 as ’n Wêreld Erfenisgebied verklaar. In 2012 is die stad gelys as deel van Wêrelderfenis wat in gevaar verkeer.

Sankoré Moskee, Timboektoe, 2006

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Terug pieng: Kaarta – Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply