Die meeste mense ken Paaseiland as die plek met die reuse- klipkoppe.

Hierdie afgeleë eiland 3 701 km wes van die Chileense kus word oor die algemeen as geheimsinnige beskou. Polinesiese seevaarders het hulle hier gevestig en reusagtige standbeelde opgerig. Die samelewing is op een stadium amper uitgewis en dit is algemeen aanvaar dat dit deur oorlog as gevolg van die oorbenutting van natuurlike hulpbronne was.

Navorsing die afgelope 30 jaar dui egter daarop dat dit dalk nie die geval was nie. In die middel 90’s het die ontleding van menslike oorblyfsels daarop gewys dat relatief min mense uit daardie era weens geweld gesterf het. Die jongste navorsing, wat vanjaar gepubliseer is in die Journal of Pacific Archeology, dui op ’n gesofistikeerde gemeenskap wat hier gewoon het en goed oor die weg gekom het.

Die eerste mense het sowat 900 jaar gelede op Paaseiland (Rapa Nui) aangekom, volgens mondelinge tradisie, op twee kano’s. Die bevolking het aangegroei en die reuse standbeelde (moai) geskep, waarvan net die koppe vandag nog uitsteek. Die standbeelde is voorstellings van die eilandbewoners se voorvaders. Daar is meer as ’n duisend van die standbeelde en die grootste een is meer as 21 meter hoog.

Die nuwe navorsing toon dat die mense op die eiland goed saamgewerk het en deur gesofistikeerde beplanning en die noukeurige bestuur van hulpbronne kon hulle die moai staan maak.
Wat ons wel vir seker weet is dat die bevolkingsgetalle erg ontwrig is deur kolonialisasie, slawehandel en besoekers se siektes. Ten spyte hiervan het die Rapa Nui kultuur bly voortbestaan. Daar is sowat 6 000 + eilandbewoners vandag.

(Foto: Dale Simpson, Jr.)

Lewer kommentaar

Leave a Reply