Peugeot Expert

Om heeldag agter die stuur te wees van ’n paneelwa wat met ’n waardevolle vrag volgeprop is, kan ’n vermoeiende storie wees. Dit is hoekom Peugeot vir Pininfarina gevra het om die ontwerp van die Expert te behartig. En ’n voorvereiste was dat bestuurderuitputting aangespreek moes word.

Onder die voertuig se sleutelkenmerke tel ’n stuurkolom wat vir hoogte en reikafstand verstelbaar is, ’n ratkierie wat in die middelkonsole gehuisves word en dus binne maklike bereik van die bestuurder is, en ’n reusagtige voorruit met ’n glasoppervlak van 1,68 vierkante meter om ’n goeie oorsig oor die pad vorentoe te verseker.

Die Expert kan onmiddellik uitgeken word, maar die stilering is nie net op opsigtelikheid gemik nie. Die skerp gekantelde voorruit en noupassende kurwes sorg vir ’n besonder lugdinamiese vorm. Saam met Peugeot se doeltreffende HDI-turbodieselenjin van 2,0 liter sorg dit vir suinige brandstofverbruik en lae uitlaatgasvlakke

’n Verbruiksyfer van net 7,2 liter/100 km kan vir die EU-gekombineerde siklus verwag word, met ’n gepaardgaande CO2-uitlaatgasvlak van 194 g/km. Die enjin lewer 88 kW en 300 Nm, en is aan ’n sesgang-handratkas gekoppel wat vir suinige verbruik by kruissnelhede sorg. Die ratverhoudings is gekies om selfs met ’n volle vrag stadsverkeertoestande maklik baas te raak.

Skuifdeure aan albei kante sorg vir uitsonderlike gebruiksvriendelikheid in die werksomgewing. Hulle bied gerieflike toegang tot die vragruim van 2,25 m lank, 1,45 m hoog en 1,6 m wyd.

Die laaidrumpelhoogte van net 562 mm, die skuifdeure aan weerskante wat wyd oopmaak, en die agterdeure wat ’n volle 180 grade na die kante oopvou, beteken dat vraglaai kinderspeletjies is.

Die vering en meganiese onderdele dring minimaal na binne in, wat beteken dat die vragruimvolume op vyf kubieke meter te staan kom, terwyl die voertuig met ’n vragdravermoë van 1 200 kg spog.

Binne is daar ’n sluitbare paneelkissie en ruim bergkompartemente in die deurpanele, wat die Expert se praktiese kenmerke verder onderskraag. Daar is ’n lugsak vir albei insittendes, terwyl die ABS-sluitweerremme ook met elektroniese noodrembystand toegerus is.

Die jongste toevoeging tot die Expert-modelreeks is die Tepee, ’n agsitplekbus wat veral op die hotelbedryf gemik is, en ontwerp is om sy insittendes stylvol, gerieflik en veilig te vervoer.

Die meganiese ontwerp en struktuur van die Tepee is soortgelyk aan dié van die Expert-paneelwa, maar spog met hoër vlakke van gerief en weelde. Dit sluit onder meer lugversorging met aparte kontroles vir agterste insittendes in, asook togsnelheidsbeheer, en elektries verstelbare buitespieëls.

Daar is ook skuifruite vir passasiers in die tweede ry, en oopvouruite vir insittendes heel agter. Dit sorg vir ’n ruim, oop atmosfeer wat ritgenot bevoordeel.

Toegang tot die middelste en agterste sitbanke is gerieflik as gevolg van die skuifdeure aan weerskante van die voertuig, terwyl die rugleuning van die 60:40-verdeelde middelste sitbank platvou om toegang na die agterste sitbank van albei kante verder te vergemaklik.

Die Tepee is ’n eersteklas-vervoermiddel wat nie net plek vir passasiers bied nie, maar ook vir hul bagasie. Die vragruim is 761 liter groot wanneer die bagasie tot by vensterhoogte gelaai word, en ’n reuse 1 195 liter tot by dakhoogte. En dit is met al die sitplekke in posisie!

Lewer kommentaar

Leave a Reply