Peugeot Partner

Die Peugeot Partner, wat effens meer as ’n jaar gelede plaaslik bekend gestel is, beïndruk reeds met sy bekostigbare, veilige en praktiese oplossings vir mobiliteitsbehoeftes – en dit in ’n uiters kompakte pakket. Sowat 1,5-miljoen Partners is reeds sedert 1996 wêreldwyd verkoop in ’n segment wat steeds groei.

Die Partner se enjinkeuses behels ’n HDI-turbodiesel van 1,6 liter en ’n 1600 cc-petroleenheid. Albei weergawes kan ’n vrag met ’n volume van tot 3,3 kubieke meter hanteer, terwyl hul vragdravermoë op 850 kg te staan kom.

Kenmerkend is dat die afstand tussen die wielboë groot genoeg is om ’n standaardgrootte Euro-palet van 1,2 by 0,8 meter in te pas. Sy asafstand van 2 728 mm beteken dat twee van hierdie palette maklik in die Partner pas.

Die jongste Partner is deur beroepslui vir beroepslui ontwerp, en daarom is een van sy sleutelkenmerke die sogenaamde MultiFlex-banksitplek, wat sorg dat drie insittendes wettig hul sit kan kry.

Die bank se modulêre ontwerp bied ’n buitenste sitplek wat platgevou kan word sodat ’n voorwerp van tot 3 m lank in die vragruim gelaai kan word. Boonop kan die rugleuning van die middelste sitplek vorentoe gevou word om as ’n handige werkoppervlak te dien.

Die Partner het ’n skuifdeur aan die linkerkant, en ’n agterste luikdeur wat boontoe oopmaak.

Die HDI-turbodieselenjin is ’n meerklepeenheid van 1,6 liter wat aan die Euro 4-uitlaatvereistes voldoen, en lewer 66 kW krag, en 215 Nm wringkrag. Brandstofverbruik, wat volgens die EU-standaard in ’n verskeidenheid bestuursomstandighede gemeet word, kom op net 5,8 liter/100m km te staan.

Die petrolenjin wat alternatiewelik beskikbaar is, lewer 80 kW en 147 Nm, met ’n gepaardgaande verbruiksyfer van 8,4 liter/100 km onder dieselfde verskeidenheid bestuursomstandighede.

Dubbele lugsakke voor en ABS-sluitweerremme plaas die Partner aan die voorpunt van veiligheid in dié segment. Skyfremme voor en agter, tesame met elektroniese noodrembystand, sorg daarbenewens vir staatmaker-stabiliteit, ongeag die vrag of die rytoestande.

Onder die Partner se gemak- en geriefkenmerke tel elektriese kragstuur, ’n stuurkolom wat vir hoogte en reikafstand verstelbaar is, elektries beheerde ruite, sentrale sluiting, en doekstofbekleedsel.

Elke aspek van die Partner – van die vasbindhake in die vragruim tot die afwerkings van die MultiFlex-sitplek se platvouoppervlakke, van die volgrootte noodwiel tot die plastiekbuffers en die sykantskermstroke – is met die oog op langtermyngebruik en duursaamheid ontwerp. Dit sorg dat dié Peugeot die volmaakte ‘Partner’ is.

Lewer kommentaar

Leave a Reply