Die wenners van RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie vir 2009 is op 8 Desember aangekondig. Die kompetisie is vir die 13de keer aangebied en het ‘n opwindende oes dramas gelewer.
In die tweede plek verdien Twyfelberg R10 000 vir die bekende Gautengse skrywer, regisseur, omroeper en rolprentresensent Leon van Nierop. Hy is die skepper van verskeie trefferradioverhale, waaronder Wolwedans in die Skemer en Stralerjakkers en TV-dramas en -reekse soos Ballade vir ‘n Enkeling en Villa Rosa.
Die derde prys van R7 000 gaan aan Stephanie Botes van Middelburg (Mpumalanga) wat met As die poelpetaan roep haar debuut maak.
Ná deeglike oorweging is besluit om nie vanjaar ’n aansporingsprys toe te ken nie. Die meeste van die sterk werk het van ervare skrywers gekom wat nie daarvoor sou kwalifiseer nie.
Die beoordeling het in twee fases plaasgevind. Eers het Woutrine Theron, Danie Botha en Ivan Abrahams as paneel saamgespan om ‘n kortlys daar te stel. Die finale beoordeling is daarna deur Katinka Heyns, Mike van Graan en Franz Marx gedoen.
Volgens Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, is die oogmerk van die kompetisie om nuwe skryfwerk van hoogstaande gehalte te vind en dit is beslis vanjaar bereik.
Die oes was egter opwindend met talle bekende name tussen die 87 inskrywings wat gekwalifiseer het.
Dáároor is Margot Luyt, RSG se uitvoerende dramaregisseur, in haar noppies. “Ons is baie tevrede want daar is saam met dié van die wenners, ’n hele paar sterk dramas wat ons sal kan opvoer.”
RSG sal mettertyd die wentekste opneem en uitsaai. Van die ander tekste wat vir uitsending geskik is, sal ook teen die gewone vergoeding opgevoer word.
Die volgende kompetisie sal vroeg in 2010 aangekondig word.