Trots sal hoofsaaklik op die spel in die Spesiale Voertuigkategorie van die Toyota-handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 2 en 3 Oktober by Lydenburg plaasvind, wees.
Met vier seges ná ses renne het Evan Hutchison en Achim Bergmann in die Motorite-Revo1 4×4 reeds hul tweede Suid-Afrikaanse kampioenskapstitel gewen. Hutchison en Bergmann het regdeur die seisoen die kampioenskap gelei en sal nou op hul jaerstrots wil voortbou.
Gerhard du Plessis en Ferdi Seegers (Jimco), die verrassingswenners van die onlangse Highveld 400 by Carnival City, sal weer in aksie wees. Dit gee aan die Spesiale Voertuigkategorie ‘n nuwe dimensie alhoewel die fokus steeds op die stryd om ander posisies in die kampioenskap sal wees.
Net vyf punte skei die voormalige kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Total Motorsport-Porter, en die pa- en seun-paar van Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT van mekaar. Teenstellende benaderings sal vir ‘n interessante kontras tussen dié twee spanne sorg terwyl daar ‘n handvol ander spanne is wat die kollig kan steel.
Die Century Racing-spanne van Mark Corbett/Rudi Balzer (Century Racing-CR1) en Colin Matthews/Alan Smith in die Century Racing-BAT, is moontlike algehele wenners. Betroubaarheidsprobleme kortwiek egter beide spanne met die 4×4 CR1 wat nog nie ‘n ren in twee seisoene kon voltooi nie.
Mike Whitehouse en Mathew Carlson (Regent Racing-BAT) is vierde in die kampioenskap en dreig ook met ‘n eerste sege. Naeem Moosajee en Mohamed Moultson in die Tyre Rack-Jimco saam met Hutchison/Bergmann en Whitehouse/Carlson is die enigste Klas A-spanne met ‘n 100 persent-klaarmaakrekord en sal hul oog op ‘n podiumposisie hê.
Die huidige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald sal die laaste twee byeenkomste mis, maar Herman en Whichard kan nie buite rekening gelaat word nie. Dit was ‘n taai seisoen vir die twee Sullwald Racing-spanne, maar die kampioene, Kallie en Quintin Sullwald (BAT) en Herman en Whichard Sullwald (Zarco) kan nie onderskat word nie.
Die KwaZulu-Natal-paar, Clint Gibson en Gary Campbell in die nuwe Gibson Racing-SVR, kan ook ‘n goeie resultaat verwag. Dit dra alles by tot ‘n interessante Klas A-geveg met almal ‘n punt sal wil bewys wat Hutchison en Bergmann betref.
Vier agtereenvolgende oorwinnings het die Kaapse span, Derrick du Toit en Ian Pienaar (Orange Tree-BAT) tot bo-aan die Klas B-puntestand geneem waar hulle ‘n handige voorsprong het. Du Toit sal deur Steve Harris bygestaan word met die paar wat reeds gunstelinge is terwyl bestendigheid eerder as spoed die broers, Keith en Andrew Makenete (Zarco) tot die tweede plek in die kampioenskap geneem het.
Simon Beckett (Century Racing-BAT) word nou deur Tim Curtis bygestaan en het bemoedigende vertonings gelewer.
Die huidige Klas P-kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout het onlangs probleme met die Adenco-BAT ondervind en kon drie renne nie voltooi nie. Hulle moes die Klas P-voortou aan nóg ‘n stel broers, David en Gary White in die Ruwacon-BAT afstaan.
Terwyl die Bezuidenhouts ‘n terugkeer sal moet maak, sal die White-broers hul momentum moet behou. Klas P is egter uiters mededingend en daar is ‘n paar moontlike wenners.
Die KZN-blits, Don Thompson en sy nuwe navigator, Hjalmar van Gessellen, is nou ‘n span in die Zarco; Jan en Hendrik Kraaij (Keymax-BAT) beskik oor hope ondervinding en Johan van Staden en James Rossouw (KEC-BAT) het met hul indrukwekkende spoed beïndruk. Archie Rutherford en Craig Doubtfire (Regent Racing-Jimco) het ook beïndruk sedert hul terugkeer tot die sport en sal ook die podium in hul visier hê.
Die veteraan Bodo Bertholdt en Philip Herselman (Atlas Copco-BAT) en die voormalige kampioene, Richard Schilling en Chris Davies (Aceco) is ook in die prentjie. Oor die algemeen beskik Klas P oor al die bestanddele om ‘n interessante stryd op te lewer.
