Die grootste prys het reeds eienaars gekry, maar die stryd om die ander titels in die Produksievoertuigkategorie sal tydens die Toyota-handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 2 en 3 Oktober in Mpumalanga plaasvind, voortgesit word.
Die Donaldson-Nissan Navara-paar van Duncan Vos en Ralph Pitchford het reeds die algehele en Klas SP-kampioenskappe ingepalm. Met vier seges ná ses byeenkomste tot dusver was Vos en Pitchford die dominerende span en het hulle met die kampioenskap weggestap.
Die prentjie lyk egter anders in Klasse D en E waar verskeie naelbytstryde ontwikkel het. Net twee punte skei die voorste Klas D-spanne en daar is net agt punte verskil tussen die voorste drie spanne in Klas E.
Daar heers ook ‘n taai geveg tussen die spanne vir die tweede plek in die algehele stryd. Hier is Gary Bertholdt in die Atlas Copco-Toyota Hilux ‘n enkele punt voor die Donaldson-Nissan-jaer, Ivar Tollefsen.
Sake het heelwat tussen die navigators verander. Quin Evans, wat langs Tollefsen sit, is 11 punte voor Bertholdt se navigator, André Vermeulen nadat die Atlas Copco-man die Toyota 1000-Woestynren in Botswana gemis het.
Bertholdt en Vermeulen het Nissan se lopie van vyf agtereenvolgende seges kortgeknip toe hulle die onlangse Highveld 400, wat by Carnival City plaasgevind het, gewen het. Dié paar sal reken dat hulle nou ‘n goeie kans staan en na ‘n tweede plek en ‘n oorwinning, is hulle ‘n sterk span.
Alhoewel hulle reeds van die kampioenskap verseker is, sal Vos en Pitchford steeds gemotiveerd wees. Tollefsen en Evans het hul stryd met Bertholdt/Vermeulen om aan te werk en daar is ook heelwat motivering vir Hannes Grobler en Juan Möhr in ‘n derde Donaldson-Nissan Navara.
Die veteraan, Grobler, sal na meer as 30 jaar aan die einde van die seisoen van Nissan afskeid neem en sal daarna mik om dit vir oulaas glorieryk te doen. Grobler en Möhr het die Nissan-span van hul ander oorwinning dié seisoen voorsien en is oorgehaal vir aksie.
Daar is ook heelwat motivering – en ‘n klein bietjie druk – vir die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux-spanne van Anthony Taylor/Robin Houghton en Hein Lategan/Chris Birkin. Ná ‘n teleurstellende seisoen waartydens dié twee spanne op een of ander stadium elke ren gelei het, sal ‘n sege tydens ‘n Toyota-geborgde byeenkoms ‘n reuse bonus wees.
Daar bestaan geen twyfel nie dat die Toyota-paar oor die spoed beskik. Wat skort is die vermoë om situasies van moontlike renseges ‘n werklikheid te maak.
Twee agtereenvolgende podiums het die fabrieks-Ford Racing-paar van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in ‘n posisie geplaas om voor die ren tussen die gunstelinge te wees. Dit blyk dat ontwikkelingsprobleme op die turbodiesel-Ford Rangers iets van die verlede vir die Ford-span is en Woolridge en Skjöldhammer sal vir ‘n eerste sege mik.
Thomas Rundle en Stavros Yiannakis in die tweede Ford Ranger sal die ren onder effense druk aanpak. Ná ‘n string teleurstellende resultate benodig dié paar ‘n goeie resultaat tydens die ren.
Wat ondersteunende privaatspanne betref, beskik Toyota oor ‘n getallemeerderheid. Spanne soos Chris Visser/Japie Badenhorst (RFS-Toyota Hilux); Chris du Plooy/Henk Jansen van Vuuren (RFS-Toyota Hilux); Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-Toyota Hilux) en George en Sharon Barkhuizen (AIM-Toyota Hilux) het almal op een of ander stadium hul bydrae gelewer.
Die ondersteuning vir die Donaldson-Nissan-spanne sal van die veldrenlegende, Alfie Cox en sy Duitse navigator, Jurgen Schröder in die PS Laser-Nissan Navara asook van Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-Navara kom. Cox en Schröder sal hul nuwe Navara vir oulaas voor die Dakar-ren toets met Marsh en Groenewald wat onlangs op die podium tydens die Highveld 400 geëindig het.
Die bestendige Kobus van Tonder en Riaan Guelpa (Uni Freight-Ford Ranger); Pieter Ruthven/De Waal Boshoff (Ruwacon-Ford Ranger); Louis Weichelt/Maret Bezuidenhout (N1 4×4-Ford Ranger) en Graham Leith/Keith Lawrenson sal vir die Ford-ondersteuning sorg. Dit sal Weichelt se derde ren as ‘n jaer wees nadat hy die seisoen as navigator vir sy pa, Cliff, in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D begin het en hy het tot dusver ‘n goeie indruk gemaak.
Weichelt se pa is egter onder druk nadat hy deur Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam-Toyota Hilux D4D in die Klas D-kampioenskap verbygesteek is. Weichelt het drie agtereenvolgende seges opgevolg met drie renne wat hy nie kon voltooi nie en is nou twee punte agter Van Breda in die jaerskampioenskap.
In teenstelling daarmee het Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) die seisoen afgeskop met vier renne wat hulle nie kon voltooi nie. Hulle het dit met ‘n sege by Sun City en tydens die Highveld 400 opgevolg, maar die paar is steeds 20 punte agter in dié kampioenskap.
Heine Strumpher en Henri Hugo (Micaren Exel-Toyota Hilux) kon ook ‘n string renne nie voltooi nie en sal hoop om beter resultate aan te teken. Johan en Werner Horn in die Malelane Toyota Land Cruiser, vir wie dié byeenkoms ‘n “tuis”ren is, sal ook hoop om goeie resultate aan te teken.
Met slegs agt punte wat die voorste spanne skei, lyk die Klas E-stryd uiters interessant. Pikkie Labuscagne en Rikus Erasmus (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) is tans voor die huidige kampioene, Jannie Viseer en Joks le Roux in die RFS-Toyota Hilux.
Deon Venter en Ian Palmer in ‘n tweede 4×4 Megaworld-Toyota Hilux is twee punte agter die kampioene met die drie Toyota-spanne wat vyf van die ses byeenkomste gewen het. Die ander sege het aan Leeroy Poulter/Rob Howie (Ferodo-Nissan Hardbody), wat oor die spoed beskik om die leiding in die klas te gee, behoort.
Die twee Ford Ranger-spanne, Bappy Rubuluza en Khuliele Vakaliza in die fabrieksvoertuig asook Louw de Bruin en Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) is ook ‘n bedreiging. De Bruin en Greyling is veral sterk aanspraakmakers op ‘n podiumposisie.
Al die Toyota-spanne sal onder effens meer druk wees. Toyota is tans 34 punte voor Nissan die gesogte Suid-Afrikaanse Vervaardigerskampioenskap en ‘n goeie hoeveelheid punte kan dié kwessie afhandel.
Die voorren om die wegspringposisies vir die hoofren te bepaal, begin Vrydag, 2 Oktober om 12:30 by die Lydenburg-Rugbyklub en eindig by die Toyota-toeskouerarea op die R540 na Dullstroom. Die hoofren sal om 08:00 by Lydenburg Toyota begin met die sentrale dienspunt en die eindpunt wat by die Toyota-toeskouerarea op die R540 na Dullstroom sal wees.
