Spesiale voertuigkategorie wawyd oop

Die kwaliteit en diepte van die Spesiale Voertuigveld dui daarop dat dié kategorie wawyd oop sal wees vir die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 16 en 17 Julie in die Pilanesberg plaasvind.

‘n Lang breek danksy die sokkerwêreldbeker dra ook tot ‘n bykomende element vir die ren by met spanne wat gretig sal wees om ‘n ren aan te pak wat altyd een van die taaiste renne op die Absa-kalender is. Die ren verteenwoordig ook die halfpadmerk van die seisoen wat nou ‘n punt bereik het waar diegene wat vir ‘n kampioenskap mik, hul merk sal moet maak.

Die voormalige kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total-Porter) beskik tans oor ‘n gemaklike 14 punt-voorsprong vooraan die algehele kampioenskap. Dit is danksy twee oorwinnings tot dusver die seisoen en terwyl Variawa/Rousseau weer eens tussen die gunstelinge gereken sal word, is daar ‘n string ander spanne wat ook oor die potensiaal beskik om te wen.

Tussen hulle is die huidige kampioen, Evan Hutchison (Motorite-BAT) wat dié byeenkoms laas jaar saam met Achim Bergmann in die Motorite Revo1 4×4 gewen het.
Dié keer sal Hutchison deur die veldrenmotorfietsster, Darryl Curtis, bygestaan word en hy sal hoop om laas jaar se resultaat te herhaal. Laas jaar het Hutchison en Bergmann vir Variawa/Rousseau, wat laat in die ren ‘n pap band opgedoen het, ore aangesit en hy sal hoop dat die geskiedenis homself sal herhaal.

Die voormalige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald, sal hul nuwe borge, Elegant Fuel, wil beïndruk en sal op laas jaar se derde plek wil verbeter.

Die Klas P-voorlopers, Johan van Staden en James Rossouw (Atlas Copco-BAT) is tans tweede in die algehele kampioenskap. Dit is hoofsaaklik te danke aan hul historiese sege tydens die Toyota-handelaars 400 en die Klas A-spanne sal dit nie maklik in die Pilanesberge toelaat nie.

Die Sullwald-broers, Herman en Kallie, word deur hul seuns, Wichard en Quintin onderskeidelik bygestaan en kan ook nie uit die prentjie gelaat word nie. Herman en Wichard het hul oomblikke in die SVR gehad terwyl Kallie en Quintin goed tydens die Atlas Copco-Sugarbelt 400 vertoon het en ‘n oorwinning is vir beide spanne op die kaarte.

Nick Harper in die Atlas Copco-BAT, se naam is ook op die lys vir ‘n goeie resultaat nadat hy die seisoen aanvanklik goed begin het, maar dié keer sal hy deur sy diensspanlid, Kevin Hume, bygestaan word.

‘n Veldrenmotorfietsbesering het veroorsaak dat Ryan Harper op die kantlyn sal moet sit. Clint Gibson en Gary Campbell (Gibson Racing-SVR) kan ‘n opskudding veroorsaak en Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing-BAT) sal weer teen die betroubaarheidsmonster baklei wat hulle die afgelope paar seisoene pla.

Nardus Alberts, wat nou deur sy seun, Louis, in die Wrapsa-BAT bygestaan word, het ‘n paar oorwinnings agter sy naam en Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya (Maxxis/Tyre Rack-Porter) sal ook weer soos vantevore wil uitblink. Jimmy Zahos/Stefan Coetzee (Cobalt Racing-Porter) en Bevan Bertholdt/Danie Stassen, wat nou met ‘n BAT deelneem, straal aggressie uit en kan ook ‘n speek in die wiele wees.

Die Lesotho-span Keith du Toit en Ashley Thorn (BAT) hoop vir ‘n goeie ren met die nuwelinge, Guy Henley/Geoffrey Crow (Century Racing-Jimco) en Neil Meyer/Leon Muller in ‘n Zarco Magnum wat tans onbekende faktors is. Die spanne agter Variawa/Rousseau op die punteleer sal besef dat hulle nie kan toelaat dat dié span te ver voorloop nie en die verhoog is vir ‘n uiters interessante stryd opgestel.

Die huidige Klas B-kampioen, Derrick du Toit, sal die Sun City-ren mis en dit kan die prentjie in dié klas heeltemal verander. Tussen die mededingers is die Makenete-broers, Keith en Andrew in ‘n Zarco; die Century Racing-BAT-paar van Simon Beckett en Steve Harris asook Johan de Klerk en Louis Pretorius in ‘n Zarco.
Die veteraan Bes Bezuidenhout sal ook sy eerste verskyning van die seisoen in die Adenco-BAT saam met sy skoondogter, Lindie, maak wat langs hom sal sit. Die voormalige Produksievoertuigstaatmaker, Coetzee Labuscagne, is ook terug in aksie en sal ‘n Zarco met sy dogter, Sandra, deel.

Dit is’n interessante mengsel. Daar is nie ‘n groot verskil tussen die verskillende spanne nie en betroubaarheid kan moontlik ‘n rol in die finale resultate van die ren speel.

Die Klas P-stryd is net so aanloklik soos die Klas A-konfrontasie met ‘n mengsel van jeug en ervaring en Klas P-spanne sal weer in die top 10 eindig.

Die stryd tussen Van Staden/Rossouw en die Bezuidenhout-broers, Johan en Deon in die Adenco-BAT, laat die mond water. Die broers, Gary en David White (Ruwacon-BAT) is ook terug in die tuig terwyl Mark Corbett en Rudi Balzer in die Century Racing-CR3 nou tekens toon dat hulle aan die deur van ‘n sege klop.

Vier veteraanspanne bring ook heelwat ervarig en sorg vir ‘n gemoedelike stryd. Richard Schilling/Chris Davies (Aceco); Archie Rutherford/Craig Doubtfire (Regent Racing-Jimco); Bodo Bertholdt/Philip Herselman (Atlas Copco-BAT) en Ernest Corbett/Warwick Goosen (Century Racing-CR2) is almal taai mededingers.

En voordat dit uit die oog verloor word – Corbett en Goosen het Klas P laas jaar gewen. Die jonger spanne sal aan dié feit moet herkou!

Die renhoofkantore, die begin/einde en die sentrale dienspunt sal by die Sun City-kompleks geleë wees. Die ren is toeskouervriendelik met 13 uitkykpunte wat binne maklike bereik van Sun City is. Publieke toegang tot dié areas, tesame met die begin/eindpunte en dienspunte is gratis.

Die Donaldson-voorren wat die wegspringrooster bepaal, begin Vrydag, 16 Julie om 11:30 terwyl die ren Saterdag, 17 Julie om 08:00 sal afskop.

Lewer kommentaar

Leave a Reply