Privaatspan hoop om voorsprong te vergroot

Die privaatspan, Chris Visser en Japie Badenhorst, sal daarna mik om hul voorsprong in die Produksievoertuigkampioenskap tydens die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 16 en 17 Julie plaasvind, te vergroot.

Ná ‘n lang breek om die FIFA-Wêreldbeker te akkommodeer, sal die veldrengemeenskap oorgehaal wees om aan ‘n byeenkoms deel te neem wat tradisioneel as een van die seisoen se taaiste renne gereken word. Die Pilanesberg-ren verteenwoordig ook die halfpadmerk in die Absa-reeks en hiervandaan sal elke punt waardevol wees.

Net ‘n handvol deelnemers beskik oor ‘n 100%-klaarmaakrekord en daar sal bykomende druk op spanne wees wat vroeër nie ‘n ren kon voltooi nie. Spanne moet aan die einde van die seisoen van een resultaat ontslae raak en ‘n ongewenste onvoltooide ren veroorsaak net bykomende druk.

Visser en Badenhorst in die RFS/Visser Transport-Toyota Hilux, bevind hulself in dié situasie, maar twee oorwinnings tot dusver beteken dat hulle vyf punte voor die veterane en voormalige kampioene, Hannes Grobler en Hennie ter Stege is. Grobler en Ter Stege het ook ‘n 100%-klaarmaakrekord dié seisoen en sal vir die eerste keer in die kajuit van die dieselaangedrewe RFS-BMW X5, wat sy debuut tydens die Atlas Copco-Sugarbelt 400 gemaak het, te siene wees.

Chris du Plooy, was agter die BMW se stuur tydens sy debuutren, maar sal volgens die beplanning die voertuig aan Grobler en Ter Stege oorhandig. Die BMW het vroeg reeds sy potensiaal getoon, maar met die Ford Ranger TDCi se tandekryprobleme in gedagte, kan Grobler en Ter Stege moontlik hul hande vol hê.

Wat Ford betref, sal die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer hoop om ‘n goeie kans te staan tydens ‘n byeenkoms wat die fabrieks-Ford Ranger goed kan pas. Dié paar sal ook op hul historiese Toyota-handelaars 400-sege wil voortbou – dié oorwinning is die enigste van ‘n fabriekspan tot dusver vanjaar.

Dit lyk ook of die Castrol-Toyota Hilux-spanne van Duncan Vos en Rob Howie asook Anthony Taylor en Robin Houghton in die ander fabrieksinskrywings uiteindelik tot hul reg kom. Beide spanne is tot dusver dié seisoen deur Toyota-privaatspanne ore aangesit en dit is ‘n situasie wat hulle sal wil aanspreek.

Ná ‘n teleurstellende Atlas Copco-Sugarbelt 400-ren sal Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco-Toyota Hilux graag weer wil wys waartoe hulle in staat is. Soos Visser en Badenhorst kan hulle ook as moontlike wenners geklassifiseer word.

Du Plooy Sr en die huidige Klas E-jaerskampioen, Jannie Visser, wat sy eerste verskyning dié seisoen sal maak en wel as ‘n navigator, asook Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren wat beide RFS-Toyota Hilux-inskrywings is, sal ook soliede vertonings wil lewer. Die Vrystaat-span, George Barkhuizen en David van Wyck (AIM Toyota Hilux) is in dieselfde bootjie en is ook top 10-materiaal terwyl Pieter Ruthven en Rudi Britz (Ruwacon-Toyota Hilux) ook ‘n welkome terugkeer tot die aksie sal maak.

Nissan se aanslag word vanjaar deur die swaers, Mike Whitehouse en Mathew Carlson in die Regent Racing-Nissan Navara, wat oor ‘n benydenswaardige betroubaarheidsrekord beskik, gelei. Die voormalige professionele krieketspeler, Terence Marsh en die voormalige SA-kampioen, Buks Carolin in die ander Regent Racing Navara, sal teleurgesteld met resultate tot dusver die seisoen wees en Sun City kan hulle die geleentheid bied om die situasie te verander.

Thomas Rundle en Juan Möhr in die eks-Vos-Navara wat nou onder die Barden Tyre Services-vlag deelneem, sal ook graag punte wil insamel. Die twee agtereenvolgende renne wat hulle nie kon voltooi nie, weerspieël nie hul ware potensiaal nie.

Klas SP is die topklas en is nou uiters mededingend en hier kry die fabrieks-Ford Ranger van Woolridge/Skjöldhammer ook soliede ondersteuning van privaatspanne. Kobus van Tonder/Freddie Kriel (Uni Freight-Ford Ranger) en Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) het hul oomblikke dié seisoen gehad terwyl Graham Leith en Mike Larenson (Transcor-Ford Ranger) ook ‘n welkome terugkeer gemaak het.

Soos gewoonlik is daar ‘n halfdosyn spanne wat moontlik ‘n kombinasie van spoed en versigtigheid aan die dag te kan lê om die Sun City 400 te wen. Dit sorg vir ‘n ren vol intriges.

Op die Klas D-front maak die voormalige kampioene, Cliff Weichelt en sy seun, Louis, óók ‘n welkome terugkeer in ‘n nuwe N1 4×4-Toyota Land Cruiser. Die paar sal weer eens met die huidige kampioene, Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam Toyota Hilux, wat tot dusver ‘n gerieflike seisoen beleef het, kragte meet.

Die voormalige Klas E-deelnemers, Deon Venter en Ian Palmer, keer ook weer terug tot die aksie en skuif ‘n klas op in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux. Drie kwaliteitspanne in voertuie wat ewe goed is, behoort ook vir ‘n interessante ren te sorg.

Klas E het die grootste hoeveelheid inskrywings tot dusver die seisoen getrek en dit sluit spanne in wat almal al dié seisoen gewen het. Gerald le Roux/Willem Pretorius (Ruwacon-Ford Ranger); die tiener Lance Woolridge en Ward Huxtable (Ford Racing Ranger) en Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus (4×4 Mega World-Toyota Hilux) spog almal met ‘n oorwinning dié seisoen met Labuschagne en Erasmus wat egter oor die ondervinding beskik.

Die lys kan verleng word met spanne soos Ettienne Bezuidenhout en Hanro Visser (Adenco-Ford Ranger); Diederik en Danie Hattingh (Transcor-Toyota Hilux) en Johan de Lange/Gert Osche in die enigste Nissan Hardbody en ‘n ernstige ren word voorspel. Die nuwelinge, Barrie Drenth en Natasha Muller (Ultimate 4×4-Toyota Hilux) is ‘n onbekende faktor in ‘n kwaliteitveld.

Die renhoofkantore asook die begin/einde en aangewese dienspunt sal by die Sun City-komplek gebaseer wees. Die Donaldson-voorren wat die wegspringvolgorde bepaal, sal Vrydag, 16 Julie om 11:30 begin terwyl die ren Saterdag, 17 Julie om 08:00 sal afskop.

Die ren is toeskouervriendelik met uitkykpunte binne maklike bereik vanaf Sun City. Toegang tot die begin- en eindpunte; die aangewese dienspunt en uitkykpunte is gratis.

Lewer kommentaar

Leave a Reply