Taai gevegte in kampioenskap

‘n Paar strawwe gevegte kan moontlik tydens die vyfde ronde van die Noordelike Streeksveldrenkampioenskap wat in samewerking met die nasionale reeks se Sun City 400 op 16 en 17 Julie in die Pilanesberg plaasvind, ontwikkel.

Geselkteerde streekskampioenskapbyeenkomste word saam met nasionale renne van die Absa-Veldrenkampioenskap aangebied in ‘n poging om streekskampioenskappe van die nodige hupstoot te voorsien. Met ‘n gekombineerde inskrywingsgetal van meer as 80 voertuie vir die naweek sal selfs die die skerpsinnigste veldrenentoesias tevrede wees.

In die algehele Spesiale Voertuigkampioenskap het Kobus Bekker en Philip Pienaar in ‘n Raceco ‘n gerieflike voorsprong bo die veteraan, Peter Phumfei in ‘n WPP-enkelsitplekvoertuig. Pfumfei is egter onder druk van nóg ‘n veteraan, Giel Nel, en Jaco Jonck in ‘n Zarco wat net vier punte agter is.

Bekker en Pienaar kan ook stewige opposisie in Klas P van nóg ‘n veteraan, Coetzee Labuscagne wat saam met sy dogter, Sandra, in ‘n Zarco deelneem, verwag. Labuscagne, wat op sy dae skrumskakel vir die Blou Bulle gespeel het, was tot dié seisoen ‘n staatmaker in die Produksievoertuigkategorie in die nasionale kampioenskap.

Pfumfei en Nel/Jonck sal ook in Klas B, waar hulle deur net agt punte geskei word, slaags raak. Johan de Klerk en Willem Pretorius sal ‘n ogie op hulle vanuit sy Zarco hou.

Wat die Produksievoertuigkategorie betref, is Chris en Anneline van Jaarsveld bo-aan die algehele kampioenskap en sal hulle as gunstelinge in Klas E wegspring. Hulle sal weer in ‘n Ford Ranger wees en kan mededinging van drie Toyota Hilux-spanne verwag – Ian Boshoff/Douw Grobler; Gene Boshoff/Lotter Klein en Aletta Alberts en Ben du Plessis.

Roelof en Lenert du Plessis (Toyota Hilux) is die enigste Klas D-inskrywing met Hennie Lemmer/Dawie Lange in ‘n Toyota Hilux en Johan Ferreira en Nico Kotze in ‘n Toyota Land Cruiser wat in Klas Z slaags sal raak.

Die renkantore, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by die Sun City-kompleks wees. Die byeenkoms is toeskouervriendelik met 13 uitkykpunte wat binne maklike bereik van die Sun City-kompleks sal wees.

Toegang vir die publiek tot die begin/eindpunt, die dienspunt en ander toeskouergebiede is gratis.

Lewer kommentaar

Leave a Reply