Sportief en uitgelate

Die marksegment vir kompakte motors was nog nooit so mededingend soos nou nie. Maar die debuut van die Suzuki Swift gaan dié sektor behoorlik omkrap.

Die Swift is uit die staanspoor met ‘n geheel nuwe benadering ontwerp wat die klem op die skep van ‘n uiters kenmerkende stileringspakket geplaas het.

Die resultaat is ‘n hedendaagse luikrugvorm wat nie net gesofistikeerd, jonk en sportief lyk nie, maar ook vlakke van gehalte en verfyning behaal wat tot dusver ongekend in dié klas was.

Die Swift se klasbepalende ruimte, gerief en verpakking is gekoppel aan verrigtingsvlakke wat dié vernuftige motor bo sy klasmededingers laat uitstyg en sodoende nuwe standaarde stel. Boonop belowe dié Suzuki sommer hope opwinding en bestuursgenot.

Suzuki Swift

Suzuki Swift

Die Swift se voorkoms en stilering is merkbaar anders as dié van sy mededingers. Die motor spog met ‘n Europese aanslag en trek boonop voordeel uit Suzuki se sterk tradisie van sportiewe werkverrigting.

Soos die naam aandui, lyk die Swift atleties, wat deur die sterk skouers en die unieke omvou-voorruit beklemtoon word. Die swartgeverfde A- en B-pilare laat die voorruit amper soos die gekurfde gesigskerm van ‘n valhelm lyk, wat Suzuki se motorfietstradisies in ‘n motorkonteks plaas.

Die Swift is dus onomwonde ‘n opsigtelike en energieke speler wat bo die kleinmotornorm uitstyg, en beslis nie met enige van sy meer gewone hoofteenstaanders verwar sal word nie.

Die tema van bogemiddeldheid word binne voortgesit, waar die klem op weergalose bestuurderbetrokkenheid val. Die atmosfeer binne is aanloklik, en word deur die gekurfde instrumentepaneel en sportiewe instrumentgesigte gekenmerk.

Suzuki se ontwerpers het soveel moontlik van die beskikbare binneruimte benut, en terselfdertyd die buite-afmetings van die Swift so ver moontlik beperk. Dit sorg vir vlakke van gerief, gebruikersvriendelikheid en aanpasbaarheid wat die Swift voor in sy klas plaas.

Wat veiligheid betref is die Swift weer aan die voorpunt, met ‘n indrukwekkende reeks veiligheidskenmerke en ‘n gepaardgaande, bewese veiligheidsrekord. Trouens, sy vierster-telling in die Euro-NCAP se veiligheidstoetsreeks plaas die Swift onder die beste in sy klas.

Voorste lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier is standaardtoerusting, met bykomende kantlugsakke en gordynlugsakke in die selfs beter toegerusde GLS-weergawes. ABS-sluitweerremme met die jongste elektroniese remkragverspreiding (EBD) en noodrembystand is ook standaard.

Die Swift se veiligheidspakket word nog verder uitgebrei met die pas van ISOFIX-ankerpunte vir kinderstoele, asook driepunt-rukstopgordels met voorspanners. Daar word voorsiening gemaak vir bykomende beskerming teen kopbeserings, en daar is versterkte sy-impakbalke in die deure.

Wat sekuriteit betref, is afstandbeheerde sentrale sluiting standaardtoerusting. Die sluitstelsel is gekoppel aan ‘n geïntegreerde immobiliseerder en alarmstelsel.

Die Swift se sportiewe karakter is nie net tot die motor se atletiese voorkoms beperk nie. Bestuursgenot was ‘n tema wat elke aspek van die ontwerp- en ontwikkelingsprogram beïnvloed het.

Dit het selfs daartoe gelei dat die ervaring wat Suzuki se motorsportspan by die Junior Wêreldtydren-Kampioenskap (J-WRC) opgedoen het, in die uitleg en verstelling van die Swift se veringstelsel aangewend is.

Die ontwerp sorg daarvoor dat die Swift se groot wiele op die verste hoeke van die motor geplaas is, wat die asafstand so lank en die spoorwydte so breed moontlik maak.

Die Swift het nie net die breedste agterste spoorwydte in sy klas nie, maar die luikrug lyk ook onomwonde doelgerig en slaggereed.

Boonop is die voordele nie net kosmeties nie: dié uitleg sorg vir bobaas hantering en stabiliteit, met vlakke van ritbeheer en verfyning wat gewoonlik net in heelwat groter en duurder motors ervaar word.

Nes met die res van die uithalerpakket lewer die Swift ‘n uitklophou as dit by verrigting kom. Sy kragbron van 1,5 liter spog met elektronies beheerde meerpunt-brandstofinspuiting en VVT-veranderlike kleptydreëling ter wille van die bes moontlike krag- en wringkraglewering.

Dit geld veral by die lae- tot medium-enjinsnelhede wat so tipies van stedelike bestuursomstandighede is.

Terwyl die meerderheid van sy mededingers met enjins van 1,3 en 1,4 liter moet klaarkom, sorg die Swift se groter 1 490 cc-eenheid vir blitsige verrigting wat volmaak by sy sportiewe beeld pas. Die kragbron lewer ‘n bogemiddelde 74 kW by 6 000 r/min, gekoppel aan ‘n wringkragpiek van 133 Nm by 4 000 r/min.

Op die pad sorg dié syfers dat die liggewig Suzuki Swift-handratmodel in net 10,0 sek van 0-100 km/h versnel, en met ‘n topsnelheid van 175 km/h kan spog.

Ondanks die klem op sportiewe verrigting is die Swift steeds indrukwekkend suinig wanneer dit by brandstofverbruik kom. Die gekombineerde verbruiksyfer kom op net 6,1 liter/100 km te staan, wat die onderliggende doeltreffendheid van die motor onderstreep, terwyl die brandstoftenk van 43 liter vir ‘n handige reikafstand van meer as 600 km sorg.

Die laaste, maar moontlik ook die belangrikste kenmerk van die nuwe Swift is die uitsonderlike waarde wat die motor bied, veral in ag genome die lang lys weelde- en geriefkenmerke waarmee die luikrug toegerus is.

Die Swift 1.5 GL se kleinhandelprys beloop net R116 900, terwyl die hoër-spesifikasie 1.5 GLS ‘n prysetiket van R131 900 dra. Met ‘n viergang-outomatiese ratkas kos die 1.5 GLS Outomaties R144 900.

Die vlak van klantediens wat na die aankoop van die motor gebied word, is eweneens indrukwekkend. Elke Swift word gratis met die ‘Suzuki Complete’-dienspakket voorsien.

Dié pakket behels ‘n volledige waarborg van drie jaar of 100 000 km teen vervaardigingsfoute en materiaaldefekte, asook ‘n sesjaar-waarborg teen roes.

Die Swift word boonop met ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km toegerus, wat die arbeid- en onderdelekoste vir roetine dienste gedurende dié tydperk dek. Dit sluit enjin-, ratkas- en ewenaarolies in, asook filters, vonkproppe, alle vloeistofvervangings en die aandryfbande vir bykomstighede.

Suzuki Complete sluit verder ‘n padbystanddiens van drie jaar in wat in werking tree wanneer die motor breek of in ‘n ongeluk betrokke is. Die dekking maak ook voorsiening vir noodbystand.

Nog ‘n vernuftige aspek van die Suzuki Complete-pakket is die pas van ‘n Altech Netstar Sleuth-opspoorstelsel as standaardtoerusting in elke nuwe Swift. Die stelsel kan met die aankoop van die motor geaktiveer word, waarna ‘n maandelikse intekenfooi betaal moet word.

Lekker om te bestuur, aantreklik om na te kyk, en ‘n plesier om te besit: dit is wat die nuwe Suzuki Swift so uitsonderlik maak!


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply