Verskeie dramadepartemente aan Suid-Afrika se universiteite en technikons het die geleentheid aangegryp om in te skryf vir Sanlam se nuwe prys vir Afrikaanse teater.
Dié prys wat altesame R260 000 per jaar op die spel plaas, sal vanjaar vir die eerste keer toegeken word en is die grootste hupstoot nog vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.
´n Paneel van beoordelaars sal nou die ongeïdentifiseerde tekste evalueer. Die wentekste (tot vier) sal tydens die KKNK aangekondig word en dan met ´n borgskap van R25 000 elk by Die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein opgevoer word. By dié fees, van 14 tot 18 Julie, sal die algehele wenner en ook die beste nuwe akteur, regisseur en dramaturg aangewys word.
Vir die wendramadepartement wag ´n stewige R100 000 met die voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer moet word.
Die beoordelaars is almal bekende teaterpersoonlikhede: Pieter Fourie, Mannie Manim, Janice Honeyman, Margot Luyt en Anthony Wilson.
Die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater is daarop gemik om die algemene standaard van Afrikaanse teater te stimuleer, die skryf van professionele dramas aan te moedig en opkomende teaterkunstenaars die geleentheid te bied om in Afrikaans hul talente te ontwikkel en by kunstefeeste blootstelling te kry.Bloemfontein is vir vanjaar se hoogtepunt gekies juis omdat sowel Die Volksblad as die Universiteit van die Vrystaat hul eeufeeste vier.
