Suzuki blitsbuks

Suzuki Auto Suid-Afrika (SASA) het goeie nuus vir verrigtingsgesinde motorgeesdriftiges: die Suzuki Swift Sport word eersdaags plaaslik beskikbaar gestel!

Die kompakte blitsbuks is alom bekend vir die hoë vlakke van bestuursgenot, bestuurderbetrokkenheid en dinamiese opwinding wat hy bied, en behoort daarom ’n welkome byvoeging tot die Suzuki Swift-modelreeks in SA te wees.

Die Sport behou al die gewone Swift-reeks se sleutelkenmerke, waaronder tasbare gehalte, doeltreffende verpakking en uitnemende waarde tel.

Terselfdertyd voeg die nuweling selfs groter opwinding en bestuursplesier by die Swift-wenresep, danksy ’n aansienlike kraginspuiting en ’n rits verbeteringe aan die onderstel.

Boonop is die Sport die eerste driedeur-weergawe van die Swift wat plaaslik beskikbaar gestel word. Dit sorg vir ’n nog meer opmerklike persoonlikheid, en onderstreep ook die rondritser se verrigtingsvermoë.

Die Swift Sport bou voort op Suzuki se trotse motorsporttradisie, en het die afgelope jare die Junior-Wêreldtydrenkampioenskap (JWTK) oorheers. In 2009 het Swift Sports die tweede en derde plekke in die kampioenskap beklee, en kon met drie oorwinnings en ses podiumplekke spog.

Die driedeur-bakvorm is egter nie die enigste rede waarom die Swift Sport die koppe laat draai nie. Van voor beskou is dit veral die laer, dieper buffer voor wat opmerklik is, asook die geïntegreerde lugskort en ’n tweede, groter luginlaat, met twee ronde misligte aan weerskante.

Breër drumpels dien as die skakel tussen die aggressief uitgeboude wielboë voor en agter, terwyl die agterste stamper ’n maasdraad-sierpaneel bykry. Twee groot, blink uitlaatpype dien as verdere bevestiging dat dié Swift iets besonders is, terwyl ’n drukvin bo die agterruit standaard is.

Suzuki Swift Sport
Suzuki Swift Sport

Die Swift Sport se wiele is groot, doelontwerpte allooivellings van 17 duim, wat met vet Goodyear Eagle F1-verrigtingsbande in die formaat 195/45 R17 toegerus is.

Die sportiewe karakter van die Sport se buitevoorkoms word binne voortgesit, waar die gevormde sportsitplekke nie net met groter sykussings toegerus is nie, maar ook met ’n treffende kombinasie van swart en rooi doekstof oorgetrek is.

Die leerbedekte dikraamstuurwiel skep ’n tasbaar lewendige skakel met die Sport se dinamiese vermoëns, terwyl die kort ratkierie blitsige ratwisselings belowe. Pedale van vleklose staal met rubberinsetsels sit die verrigtingstema voort.

Ewe uniek is die rooi aksente wat in die deurpanele se armleunings ingeskakel is, en die rooi stikwerk wat vir die sitplekbekleedsel en die stuurwiel benut word. Aluminiumkleurige afwerkings en verchroomde deurhandvatsels dra verder tot die binneruim se aantreklike voorkoms by.

Die ware hart van die Swift Sport se opwindende karakter is sy hoëverrigtings-kragbron van 1,6 liter. Die toergierige M16A-viersilinder is met VVT-veranderlike kleptydreëling toegerus en lewer maksimumkrag van 92 kW by 6 800 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 148 Nm by 4 800 r/min.

Dit sorg dat die Swift Sport in net 8,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel, en ’n topsnelheid van 200 km/h behaal.

Die enjin se krag word deur middel van ’n vyfgang-handratkas met kort verhoudings en ’n blitsige skakelaksie na die voorwiele oorgedra. Elektroniese stabiliteitsbeheer sorg dat die krag so doeltreffend moontlik na die wiele deurgevoer word.

Die geventileerde skyfremme voor en soliede skywe agter is met ABS, elektroniese noodrembystand en elektroniese remkragverspreiding toegerus om te sorg dat die Sport se remkrag by sy aansienlike verrigtingspotensiaal pas.

Ondanks die Sport se aptyt vir verrigting, doen die nuweling steeds gestand aan die Swift-reeks se reputasie vir brandstofdoeltreffendheid. Die verbruiksyfer vir die gekombineerde siklus kom op 7,0 liter/100 km te staan, en verminder na 6,0 liter/1oo km op die oop pad.

Die Swift Sport se CO2-uitlaatgassyfer beloop 165 g/km.

Die onderstel is ook aangepas om by die Sport se bykomende spierkrag te pas. Die veertempo en demperverstellings is verander om ’n stywer rit met meer beheer te lewer, terwyl die spesiale, gasgevulde Monroe-skokbrekers spesifiek vir die Sport gekies is.

Hoewel die tandstang- en kleinrat-stuurstelsel steeds met elektriese kraghulp toegerus is, is die stelsel geherkalibreer om beter stuurgevoel en terugvoer te bied.

Die Sport behou ook al die kernelemente van die gewone vyfdeur-Swift wat ergonomika, veelsydigheid en praktiese eienskappe betref.

Soos ’n mens van ’n topklas-weergawe sou verwag, beskik die Swift Sport oor ’n lang lys weelde- en geriefkenmerke as standaardtoerusting.

Die instrumentehuisie bied ’n tuiste aan duidelik leesbare, ronde gesigte vir die snelheidsmeter en die toereteller, wat boonop met rooi naalde en metaalagtige rame beklemtoon word.

Suzuki Swift Sport
Suzuki Swift Sport

Die standaardweergawe van die Swift se skoon en logiese ergonomika het behoue gebly, en dit geld ook die geïntegreerde klankstelsel, die ritrekenaar, en die noukeurige aksie van die kontroles.

Die klankstelsel bestaan uit ’n CD-instemmer met voorlaai-aksie, ’n FM/MW-instemmer en die vermoë om MP3-musieklêers te speel. Die stelsel is aan ses luidsprekers gekoppel, waaronder twee deskant-eenhede voor, en bied boonop snelheidsensitiewe volumebeheer.

Die lys standaardtoerusting sluit verder ook elektriese beheerde vensters en kantspieëls, afstandbeheerde sentrale sluiting, ’n ritrekenaar, outomatiese klimaatbeheer, en satellietknoppies vir die klankstelsel op die stuurwiel in.

Die Swift Sport se lys veiligheidstoerusting is volledig wat beide aktiewe en passiewe stelsels betref. Voor- en kantlugsakke is standaard, asook gordynlugsakke aan weerskante, tesame met rukstopgordels met lasbeperkers voor, en voorspanners. ABS-skyfremme met noodrembystand en elektroniese remverspreiding, en ESP-stabiliteitsbeheer, is ook deel van die pakket.

Die relatief lang asafstand en breë bakvorm sorg vir ruim sitplek voor en agter, terwyl die bagasieruim van 201 liter na ’n tamaaie 494 liter vergroot kan word deur eenvoudig die verdeelde rugleuning van die agtersitplek plat te vou.

Die nuwe Suzuki Swift Soort is vanaf Julie in die vertoonlokale van die plaaslike Suzuki Auto-handelaarnetwerk beskikbaar. Die voorgestelde kleinhandelsprys beloop R199 900, wat metaalverf insluit.

Dit gaan boonop gepaard met ’n waarborg van drie jaar/100 000 km, en ’n diensplan van vier jaar/60 000 km. Dienstussenposes is elke 15 000 km.

Lewer kommentaar

Leave a Reply