Suzuki eerste in die wolke

Dit staan as die wêreld se strafste heuwelren bekend – en ʼn kombinasie van grond- en teeroppervlakke, skerp draaie en duisligwekkende afgronde, beteken dat die ren ook uiters bedrieglik is.

Maar ondanks vasberade mededinging kon niks Nobuhiro ‘Monster’ Tajima daarvan weerhou om die vyfde keer agtereenvolgens die jaarlikse Internasionale Pikes Peak-heuwelren in te palm nie. Hy het dié prestasie agter die stuur van ’n doelgeboude Suzuki SX4-renmotor behaal.

Die legendariese renjaer het die roete van 19.87 km, met sy 156 draaie, in ’n wentyd van 10 min 11,49 sek afgelê – meer as 5 sekondes vinniger as sy wenuitslag verlede jaar, maar steeds net-net stadiger as die wêreldrekord van 10 min 01,408 sek wat Tajima in 2007 opgestel het.

Die Suzuki-jaer se doelwit was nie net om vanjaar se heuwelren te wen nie, maar ook om ’n nuwe rekord op te stel, veral nadat hy vroeër in die week die vinnigste kwalifiseringstyd kon opstel. Maar ondanks ’n skoon poging kon die bestaande rekord nie verbeter word nie.

“Ek is baie teleurgesteld,” het Tajima na berig word gesê. “Die motor was puik, en alles het goed gewerk.”

Die sogenaamde ‘Wedren na die Wolke’ is ’n ware motorsport-tradisie in die VSA, en word al sedert 1916 beslis. Die heuwelren is die afgelope naweek vir die 88ste keer aangebied.

Meer as die helfte van die bedrieglike kronkelroete naby Colorado Springs is grondpad, terwyl die hoogte bo seespieël van 2 900 m by die wegspring met 1 400 m styg, en uiteindelik by die eindpunt of 4 300 m te staan kom.

Suzuki SX4
Suzuki SX4

Sulke uiterstes beteken dat die ren vir beide motor en bestuurder ’n besondere uitdaging bied – maar Tajima het hom nie daardeur van stryk laat bring nie, en tel nou onder een van die legendes van Pikes Peak.

Monster se vierwielaangedrewe Suzuki SX4 het die Chevy van Paul Dallenbach met 28 sekondes geklop. Die jaagduiwel Rhys Millen was derde in ’n doelgeboude Hyundai Genesis-koepee, 32 sekondes agter Dallenbach. Millen se pa, Rod, is ’n voormalige rekordhouer van die Pikes Peak-ren.

Die Suzuki SX4 AWD, waarop die Pikes Peak-renmotor gegrond is, is deel van die SX4-modelreeks wat tans plaaslik by Suzuki Auto SA se nasionale netwerk handelaars beskikbaar is.

(foto kopiereg Rob Till Photography)

Lewer kommentaar

Leave a Reply