Die Suzuki SX4 word as die nuutgestigte Suzuki Auto Suid-Afrika se plaaslike vlagskip bekend gestel.
Dit versinnebeeld ook Suzuki se besonderse erfenis wat die vervaardig van kenmerkende motors betref – nie net in ontwerpterme nie, maar ook op die vlak van ingenieursvernuf, werkverrigting, veiligheid en toerustingvlakke.
Boonop het mededingende prysstrukture deesdae ‘n groter invloed op die besluitnemingsproses as ooit tevore. Derhalwe behoort die SX4 se bekendstellingsprys van R163 900 vir die vyfgang-handratmodel en R176 900 vir die viergang-outomatiese weergawe die hele konsep van waarde binne die C-segment op sy kop te draai.
Albei weergawes benut ‘n identiese tweeliter-enjin en dieselfde, volledige vlak van standaardtoerusting, asook die kenmerkende kruisdoel-stilering.

Gemeet aan sy meer gevestigde – en duurder – mededingers in hierdie marksegment, bied die SX4 ‘n onverbeterlike waarde-aanbod, vernaam vanweë die puik verrigting van sy gewillige 2,0-liter enjin, teen ‘n prys wat kopers gewoonlik niks beter as ‘n eenheid van 1,6- of 1,8-liter besorg nie.
Dit word gekoppel aan ‘n merkbaar hoër vlak van standaardtoerusting, ongeëwenaarde veiligheid, en verbeterde ruimte, veelsydigheid en gerief. Sy sterk kruisdoel-stilering verteenwoordig ‘n nuwe denkrigting in dié klas en skep ‘n kenmerkend sportiewe, individuele alternatief tot die gewone markdeelnemers.
Van spesifieke belang is die klasbeste naverkope-dienspakket en rugsteuning wat deel is van die SX4-aanbod. Dit sluit ‘n volledige diensplan en verlengde padbystanddiens in.
Daarom sal hierdie Suzuki nie net die harte van voornemende kopers steel met sy unieke kombinasie van sportiewe aggressie en verfynde swier nie, maar ook met gemak aan al die meer pragmatiese doelwitte – soos prys, verrigting en veelsydigheid – voldoen.
Wat werkverrigting betref, staan die SX4 kop en skouers uit bo die res. Sy viersilinderenjin van 1 995 cc lewer 107 kW-maksimumkrag by 5 800 r/min, wat hom voor in die klas plaas. Maar dit is die uitstekende wringkragsyfer van 184 Nm by net 3 500 r/min wat sy mededingers heeltemal uitstof.
Die uiters plat wringkragkurwe is ook meer op die lae- tot middeltoerestrek gerig om verbysteekvermoë en algehele bestuurbaarheid in alledaagse omstandighede te verbeter.
Ongeag of die kragbron aan die vyfgang-handratkas of die elektronies-beheerde viergang-outomatiese ratkas gekoppel is, lewer dit steeds lewendige versnelling en sterk verrigting.
Die handratmodel versnel in net 9,4 sek van 0-100 km/h, terwyl die topsnelheid op 184 km/h te staan kom. Terselfdertyd bewys die eenheid sy brandstofdoeltreffendheid met ‘n gemiddelde petrolverbruik van net 8,4 l/100 km vir die gekombineerde siklus.
Hoewel die SX4 se aggressiewe prysstruktuur die luikrug heelwat goedkoper maak as sy mededingers, is die binneruim volledig toegerus met ‘n lang lys standaardkenmerke.
Wat bestuursgerief en weelde betref, bied die SX4 elektriese kragstuur, elektriese kantruite voor en agter (met ‘n outomatiese funksie voor), en elektries-verstelbare kantspieëls.
Ook standaard is klimaatbeheer-tipe lugreëling met ‘n stuifmeelfilter en togsnelheidsbeheer wat deur middel van kontroles op die stuurwiel beheer word. Die driespeek-stuurwiel is met leer oorgetrek en is vir hoogte verstelbaar.
Bykomende hulpkontroles op die stuurwiel beheer die topgehalte-klankstelsel, wat heeltemal in die instrumentepaneel geïntegreer is. Die stelsel maak gebruik van agt luidsprekers en ‘n enkelskyf-radio wat ook MP3-musiekleêrs kan speel. ‘n Koppeling vir ‘n persoonlike musiekspeler word ook voorsien.
Om by sy swierstatus te pas, is die SX4 met Suzuki se sleutelvrye SmartPass-stelsel toegerus, wat die oop- en toesluit van die motor, asook die aansit daarvan sonder die ooglopende gebruik van ‘n gewone sleutel toelaat. Die sleutel bly trouens deurentyd in die eienaar se sak of handsak.
Die slim en praktiese stelsel is ook aan die SX4 se fabrieksgeïnstalleerde alarm, immobiliseerder en sentrale sluitstelsel gekoppel.
Die weelderige binneruim versinnebeeld swier en ‘n vlak van gehalte wat nie gewoonlik in dié segment bereik word nie. Tog is die ergonomika doeltreffend en die ontwerp funksioneel. Rooi beligting vir die instrumente dra by tot die SX4 se sportiewe karakter. Dié tema word ook deurgevoer na ‘n middelgeplaaste uitleespaneel wat inligting oor tyd, buitetemperatuur en brandstofverbruik bied.
Die SX4 het veelvoudige bergplekke om by die lewenstyl-plasing van die voertuig te pas. Daar is bekerhouers voor en agter, bottelhouers in die voor- en agterdeurvakke en ‘n uittreklaai onder die voorste passasiersitplek.
Veelsydigheid is ‘n integrale deel van die SX4 se ontwerp en daarom bied sy ruim kajuit indrukwekkende vlakke van weelde, gerief en ruimte. Terselfdertyd is daar die veelsydigheid van die 60/40-verdeelde agtersitplek.
Dit laat toe dat die standaardgrootte van die bagasieruim van 270 liter na 625 liter uitgebrei kan word deur die sitplekke vorentoe plat te vou.
Veiligheid tel ook onder die volledige kenmerke van die SX4 en sorg weereens dat dié kruisdoeler ‘n voordeel bo die meeste van sy mededingers in die C-segment geniet.
Dubbele voorste lugsakke, kantlugsakke en gordynlugsakke is standaard, asook die ISOFIX kleuterstoel-ankerpunte. Die remwerk word doeltreffend uitgevoer deur ‘n skyfremstelsel wat met die ABS-sluitweerstelsel toegerus is. Elektroniese remkragverspreiding en noodrembystand is ook standaard.
Suzuki SX4-eienaars trek boonop voordeel uit ‘n naverkope-dienspakket wat ‘n klasvoorloper betaam.
Dit staan as die Suzuki Complete-pakket bekend en bestaan uit ‘n diensplan van ses jaar/90 000 km, ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km, ‘n verlengde padbystanddiens van drie jaar en die pas van ‘n Altech Netstar Sleuth-opspoorstelsel.
Pryse:
SX4 2.0 Manual R163 900
SX4 2.0 Auto R176 900
