Tegnologie wat gemoedsrus bied

Die nuwe Suzuki SX4 trap nuwe spore in die mark vir luikrugmotors in die C-segment. Boonop word die vernuf van die nuweling ook weerspieël in die aanwend van die jongste beskikbare tegnologie.

Dit versinnebeeld ook Suzuki se besonderse erfenis wat die vervaardig van kenmerkende motors betref – nie net in ontwerpterme nie, maar ook op die vlak van ingenieursvernuf, werkverrigting, veiligheid en toerustingvlakke.

Die eindproduk is ‘n motor wat nie net uiters bevredigend is om te bestuur en te besit nie, maar wat ook sy beloftes oor onomwonde veiligheid nakom.

Wat bestuursdinamika betref, het die ontwerpspan van die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) die onwikkelingsklem geplaas op ‘n motor wat met ongeëwenaarde rit- en hanteringsvermoëns kan spog, asook pure bestuursgenot en ‘n merkbare vlak van veelsydigheid.

‘n Geheel nuwe platform is ontwikkel om hierdie ontwerpdoelwitte te behaal. Die platform spot met ‘n besonder stywe bak, stram veringmonteerpunte, breër spoorwydtes voor en agter en wiele en bande met ‘n groter deursnee.

Gesamentlik bied dié elemente ‘n lewendige, voorspelbare bestuurservaring, terwyl dit ook voordeel trek uit ‘n grondvryhoogte van 175 mm, wat nie net gerieflik is nie, maar ook toelaat dat die SX4 moeilike terrein kan baasraak.

Die SX4 se padgedrag word verder onderskraag deur die akkurate werking van sy hoogs ontwikkelde MacPherson-stutvering voor, tesame met die wringstaafas-veerstelsel agter.

Saam sorg die stelsels vir stabiele padgedrag en noukeurige hantering, sodat die SX4 ewe tuis is in die skerp draaie van ‘n bergpas as oor lang afstande op die oop pad.

Die hele bakstruktuur van die SX4 is op strategiese punte versterk en met bykomende deursnitversterkings toegerus om die buig- en wringstyfheid van die motor te verbeter, maar sonder om die gewig te laat toeneem.

Dié indrukwekkend stywe, maar steeds ligte bakwerk bied ‘n stewige platform vir die nodige bestuursdinamika wat motorgeesdriftiges deesdae verlang.

Die benadering tot die SX4 se uitstekende reeks veiligheidskenmerke was eweneens doelgerig – nie net wat aktiewe of voorkomend veiligheid betref nie, maar ook die minder opsigtelike passiewe elemente.

Selfs die ontwerp van die SX4 dra by tot sy vernuftige veiligheidskenmerke. Die kruisdoel-luikrug se hoër bestuursposisie bied ‘n groter sigveld as dié van ‘n gewone ontwerp, terwyl die groot glasoppervlakke waar moontlik bydra tot die voorkoming van ‘blinde’ kolle.

Die frommelsones voor en agter is by die bakdop geïntegreer. In die geval van ‘n botsing gee hulle geleidelik mee om die energie van die impak te absorbeer, terwyl die raamontwerp die grootste gedeelte van die impakenergie van die insittendes weglei.

Die uiters stywe passasier-veiligheidsel van die kajuit word met die pas van baie sterk impakstawe aan die sykante verder versterk, terwyl daar ook vir beskerming teen kopbeserings voorsiening gemaak word.

Die Suzuki se gevorderde remstelsel bied die bestuurder al die gereedskap wat hy nodig het om die SX4 onder alle noodomstandighede te beheer. Die remstelsel benut geventileerde skywe voor en soliede skywe agter en beskik oor die ABS-sluitweerstelsel met elektroniese remkragverspreiding en noodremkraghulp om uitsonderlike remvermoë in enige situasie te verseker.

Die veiligheid van insittendes in die geval van ‘n botsing het soortgelyke aandag geniet en die SX4 word toegerus met twee lugsakke voor, twee kantlugsakke en twee gordynlugsakke om beserings te beperk.

Die voorste sitplekgordels is met voorspanners en lasbeperkers toegerus, terwyl die motor drie driepunt-sitplekgordels en nekstutte vir agterste passasiers bied. Die agterste sitposisies word ook met ISOFIX kindersitplek-ankers voorsien vir die beste moontlike beskerming van kleuters.

Die in-diepte navorsing- en ontwikkelingsprogram wat vir die skep van die SX4 aangewend is, asook die gevorderde tegnologie wat dit behels, het daartoe bygedra dat hierdie Suzuki vier sterre in die Euro-NCAP botsingstoets verower het.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar