Lucas Maree se eerste Engelse CD, Things, het so pas die lig gesien. Die cd-bekendstelling het boonop op Engelse bodem plaasgevind – by die pas-afgelope UKkasie in Londen!
“Vir die eerste deel van my musieklewe het ek slegs Engels gesing. Terwyl ek op universiteit was het ek myself en my studies aan die gang gehou met die sing van ‘n groot verskeidenheid Engelse musiek in restourante en dameskroeë. Ek het my bes probeer om ook in Engels te skryf, maar dit het nie lekker gevoel nie. Dit het die heeltyd vir my gevoel ek praat met ‘n geleende taal uit ‘n geleende mond. Toe sing ek hulle maar, en terwyl ek hulle sing leer ek hoe die soort liedjies moet klink wat ek graag sou wou skryf as ek maar net in Engels sou kon skryf,” sê Lucas.
“Hierdie musiek het ‘n blywende indruk op my gemaak, en toe ek in Afrikaans begin skryf en optree het ek dikwels nog van hierdie musiek op die verhoog gesing. Daar het vreeslik baie mense begin navraag doen oor die Engelse liedjies se beskikbaarheid op cd, en ek het besef dat daar ‘n mark voor is. Dus het ek besluit om hierdie een te maak – Things: Lucas se Engelse cd.”
“Al die liedjies wat op hierdie album verskyn is liedjies wat ‘n baie persoonlike herinnering inhou: ‘Jericho’ is my eie een. Ek het dit eindelik reggekry om in Engels te skryf, al moes ek die liedjie uit Afrikaans vertaal. So ook met ‘Out of time’ wat my vertaling is van my Afrikaanse liedjie ‘Die tyd stap aan’.”
” ‘Things’, daai Bobby Darin-liedjie wat my ma so baie geluister het, en wat die eerste solus sewe-plaat was wat ek waarlik my eie kon noem. Ek het dit present gekry by my ma se niggie, en ek het dit op gespeel.”
” ‘Islands’, daai Jimmy Buffet-nommer waarvan Ilse so baie gehou het. Dit was in die tyd toe die liefde nog jonk was en ek het dit altyd vir haar gesing, daar waar sy agter die toonbank gewerk het in die dameskroeg waar ek gespeel het, sodat ons darem aande naby mekaar kon wees, al was dit dan ook net wanneer ek ‘n breek vat.”
” ‘That was Yesterday’ was Chris Simpson van Magna Carta se treffer. Dit kom uit die dae toe ons nog ernstig gevry het. Hierdie plaat, Lord of the Ages, was hare en die Moody Blues plaat was myne. Ons het hulle ook gaar gespeel op die klein oranje platespelertjie.”
“Die Dylan-immergroenes ‘Forever Young’ en ‘To make you feel my love’ verteenwoordig twee era’s. Die eerste een het my hippie-tyd finaal afgesluit. Daarna het ek Afrikaanse musiek begin skryf en luister. Die tweede liedjie kom later, toe ek weer na nuwer Engelse musiek begin luister het met die plan om dit te sing. Clapton se ‘Wonderful tonight’ kom ook uit hierdie era.”
“Don McLean se ‘Vincent’ en Eric Bogle se ‘Green fields of France’ was nog altyd vir my die soort liedjies wat ek so graag sou wou kon skryf. Hulle is altwee tydloos en sensitief, en bly steeds vir my die voorbeelde van die perfekte lied.”
“Dan is dit ook vir my ‘n groot vreugde om my dogter, Monica, as gaskunstenaar op hierdie cd te hê. Ek is baie bly dat sy, as tiener, darem nie te skaam is om saam met haar pa gesien en gehoor te word nie.”
Koop/Buy Things. ..
