Toyota van Suid-Afrika bly baie bewus van die belangrike feit dat die grondslag vir die suksesvolste motormaatskappy in die land met ‘n skerp fokus op ligte handelsvoertuie begin het, waaronder gebruik deur die boerdery-gemeenskap.
Dít was die rede dat Toyota se aanvanklike handelaarsnetwerk verskeie afsetpunte op die platteland gehad het. Toyota het steeds die grootste teenwoordigheid op die platteland, terwyl sommige van sy mededingers die afgelope paar jaar hul netwerke gekonsolideer het, met die klem nou meer op handelaarskappe in stedelike gebiede.
Toyota se verbintenis met die boerery-gemeenskap en georganiseerde landbou-instellings het daartoe gelei dat die maatskappy ‘n gedugte ondersteuner van Graan SA se jaarlikse Nampo-oesdag-expo in Bothaville is. Die maatskappy se omvattende tentoonstellings en interaktiewe skoubedrywighede sluit gewoonlik ‘n uitstalling deur Toyota-Vragmotors in.
Toyota-Vragmotors het vanjaar drie spesiale uitstallings by die Toyota-hoofuitstalling gehad. Dit is vragmotors wat op die boerdery-gemeenskap gemik is – twee het veetralies, en die derde is ‘n algemene wipbrak-vragmotor.

Al twee Toyota-Vragmotors se modelreekse het ‘n lang en uitstaande geskiedenis in Suid-Afrika. Die Toyota Dyna is al langer as 40 jaar hier, en die Hino doen al langer as 35 jaar diens in Suid-Afrika. Beide fabrikate gaan midde sterk mededinging net van krag tot krag.
Die Dyna is die maatstaf in die afdeling vir medium vragmotors, terwyl Hino in die afgelope 2006/7 finansiële jaar meer as 2 000 vragmotors op plaaslike bodem van die hand gesit het. Laasgenoemde vertoning het daartoe gelei dat Toyota-Vragmotors die eerste keer vir die gesogte en baie eksklusiewe Hino Klub 2000 met net nege lede wêreldwyd, in aanmerking gekom het.
Dit word gesteun deur een van die mees omvattende handelaarsnetwerke in Suid-Afrika, met alle Toyota-handelaars wat die Dyna kan verkoop en versien. Spesialis-vragmotorhandelaars verkoop en versien die Hino-reeks sowel as alle Dyna-modelle.
Die Toyota Dyna-veedraer wat by Nampo te sien was, is die vlagskip-8-145-model, wat aangedryf word deur ‘n nuwe Hino-J05C-viersilinder-dieselenjin wat 108 kW teen 2 900 r/min lewer en 373 Nm se wringkrag teen 1 600 r/min ontwikkel. Dié model het ‘n romp/loonvragvermoë van 5 890 kg met ‘n BVM van 5 800kg en ‘n BKM van 10 300 kg.
Die maksimum rompafmetings vir hierdie Dyna-model is ‘n lengte van 6 090 mm en ‘n breedte van 2 400 mm. Dié vragmotor is uitgeknip vir algemene boerdery-bedrywighede en streekpadvervoer.
‘n Hino met veetralies was ook by die Nampo-skou uitgestal. Dit was die 15-258-model, wat ‘n romp van tot 9 m met ‘n romp-loonvragvermoë van 10 265 kg met ‘n BVM van 15 500 kg en ‘n BKM van 24 000 kg kan hanteer.
Dié Hino-model word deur ‘n tussenverkoelde J08C-TT-inlyn-sessilinder-turbo-enjin van agt liter aangedryf, met verrigtingsyfers van 184 kW teen 2 500r/min en ‘n massiewe 739 Nm se wringkrag teen 1 500 r/min. Dié enjin gebruik elektroniese inspuiterbeheer en voldoen aan die Euro2-uitlaatvereistes.
Hierdie Hino is ideaal vir boerdery-gebruik aangesien dit kragtig, ekonomies en maklik is om te gebruik.
Die tweede Hino wat by Nampo te sien was, is die 12-215-model met ‘n 5-ton-wipbak. Dié model gebruik ‘n turbolose weergawe van die Hino-J08-enjin met ‘n uiters doeltreffende vierklep-oorhoofse nokas-silinderkop en lewer in hierdie vorm ‘n billike 150 kW teen 2 900 r/min met 546 Nm se wringkrag teen 1 500 r/min. Die toelating vir die romp (in hierdie geval wipbak) en gepaardgaande loonvrag is 8 695 kg, terwyl die BVM op 11 900 kg te staan kom. Die maksimum toegelate voertuiglengte is 5 248 mm.
Dyna het wêreldwyd ‘n asemrowende geskiedenis vir betroubaarheid en duursaamheid in ‘n magdom gebruikstoestande opgebou, terwyl kopers van Hino-vragmotors die wete het dat dit een van die hoogsaangeskrewe vragmotorfabrikate ter wêreld is. Hino is al 34 jaar die markleier in Japan en het van 1991 af ‘n beproefde geskiedenis van betroubaarheid en duursaamheid in langafstand-uithouveldtydrenne soos die Dakar-beenkoms. Al twee reekse is nie net wenners in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.
(foto’s verskaf deur MotorPics, © Toyota SA)
