Volhoubare mobiliteit en tegnologieë van die toekoms. Dit is waarop die Toyota-Motorkorporasie die klem laat val het op verlede maand se 40ste Tokio-Motorskou.
Toyota se uitstalling, met die tema "Harmonieuse Bestuur – ‘n Nuwe Dag vir Mense en die Planeet", het die maatskappy se voortgesette strewe na die verwerkliking van die essensiële emosionele aantrekkingskrag van die motor – naamlik pret om te bestuur en ‘n plesier om te gebruik – uitgebeeld en terselfdertyd ‘n insig gegee in die maatskappy se benadering om volhoubare mobiliteit ‘n werklikheid te maak, waar mense in harmonie met die omgewing kan saamleef.
Met die oog hierop het die maatskappy agt konsepvoertuie vertoon wat voldoen aan uiteenlopende behoeftes – van kompakte stedelike vervoeroplossings tot ‘n ekovriendelike, hoëverrigtingsportmotor. Tussendeur was daar ‘n nuwegeslag-, topklas-minibus.
Toyota iQ-konsep
Aan die kompakte kant was daar die Toyota iQ-konsep, ‘n voertuig wat die reëls van voertuigontwerp redefinieer met sy ultra-doeltreffende verpakking, wat ‘n paradigmaverskuiwing in die ontwerp van klein motors verteenwoordig.
Die ontwerpfilosofie van "Klein, maar ruim; premiumklas, maar klein" is in die iQ verwerklik deur die visie van ‘n ultra-kompakte, maar besonder ruimtedoeltreffende, ekovriendelike voertuig wat volmaak in die kraam pas van die modebewuste stedeling. In sy openingsrede by die Toyota-vertoonlokaal het Katsuaki Watanabe, President van die TMK, laat blyk dat hierdie konsepmotor dalk in die toekoms nog as ‘n produksiemodel die lig sal sien.
Die iQ-konsepvoertuig is geskep deur ED2, Toyota se Europese ontwerpateljee in die suide van Frankryk. Die iQ is kompak, maar beslis nie afgeskeep nie. Dit is die wêreld se kleinste premium-viersitplekpassasierskonsepmotor. Met ‘n lengte van net 2,98 meter is die iQ 770 mm korter as die Yaris-luikrug, maar wat die hoogte en breedte betref, is dit byna soortgelyk aan Toyota se gewilde klein luikrug.
Ten spyte van die kompakte lengte is die iQ veelsydig en prakties. Dit het ruimte vir vier insittendes – drie volwassenes en ‘n kind – en die vierde sitplek kan ook as bagasieruimte gebruik word. Die ruimte word moontlik gemaak danksy ‘n radikale en intelligente 3+1-sitplekkonsep.
In normale gebruik sit die bestuurder en die voorste passasier langs mekaar. Om plek te maak vir ‘n derde volwassene of ‘n volwassene en ‘n kind, kan die voorste passasiersitplek verder vorentoe geskuif word. Die omvattende gebruik van intelligente ruimtebesparingsontwerptemas en verdwergingstegnologie vergroot die ruimte in die passasierskajuit.
Ondanks die super-kompakte vorm het die ontwerpers daarin geslaag om ‘n volle veiligheidspakket te inkorporeer – ‘n absolute vereiste in die iQ se natuurlike tuiste, die stedelike omgewing. Die motortjie spog met ‘n besonder sterk passasiersel, wat die grondslag vorm vir die beveiliging van die insittendes en vir die absorbering van botsenergie.
FT-MV
Vir diegene wat meer ruimte en luukse-gesinsvervoer nodig het, het Toyota die FT-MV vertoon – ‘n splinternuwe minibus-konsepvoertuig wat lyk of dit feitlik gereed is om in produksie te gaan, ten minste vir die plaaslike Japanse mark.

Die jongste minibus-konsep verskil van Toyota se tradisionele stilering vir hierdie soort voertuig in die sin dat dit ‘n hoekige voorkoms het, met uitermate geronde modderskerms en ‘n opvallende sierrooster en enjinkaplyn. Die kajuit is propvol luukse-eienskappe, soos voloutomatiese ottoman-sitplekke in die tweede ry en sagte verligting, wat ‘n besonder elegante gevoel verleen. Die passasiers agter het individuele videoskerms.

Die TMK het nog geen tegniese besonderhede of planne vir toekomstige produksie van hierdie model bekend gemaak nie.

FT-HS
Toyota se verbintenis tot die ontwikkeling van ‘n volle hibriedmotor-produkreeks wat voldoen aan die behoeftes van ‘n breë spektrum motorryers, insluitende die entoesiastiese motorryer wat in verrigting belang stel, is weerspieël in die Toyota FT-HS-hibriedmotor.
Die FT-HS (vir "Future Toyota Hybrid Sports") is ontwerp om te wys dat Toyota se gevorderde Hybrid Synergy Drive-tegnologie ingespan kan word vir ‘n opwindende bestuursondervinding sowel as ‘n uitstekende ekovriendelike prestasie. So byvoorbeeld is een van die verrigtingsdoelwitte wat vir die FT-HS gestel is, ‘n versneltyd in die omgewing van vier sekondes van 0 tot 100 km/h.
Calty, Toyota se navorsings- en ontwerpsentrum in Kalifornië, het opdrag gekry om die FT-HS-konsep te skep as ‘n sportmotor in die medium prysklas wat eko-oorwegings en emosie integreer en ‘n antwoord verskaf op die vraag: "Wat is ‘n geskikte sportmotor vir die 21ste eeu?"
Die FT-HS kombineer hibriedvermoë met essensiële sportmotoreienskappe soos ‘n slanke profiel, goeie lugdinamiese kenmerke en ‘n ligte massa. Die kragtige 3,5 liter-V6-enjin, gekoppel aan die volgende geslag van sporthibriedstelsels, sit voor en dryf die agterwiele aan.
Die ontwerpdoelwit van hierdie kragoorbringstelsel is 400 perdekrag (300 kW), wat meer as voldoende is om te voldoen aan die verrigtingsvereistes, onder meer die reeds genoemde versneltyd van in die omgewing van vier sekondes van 0 tot 100 km/h. Hierdie verrigtingsvlak demonstreer die potensiaal van hibriedtegnologie wat Toyota in staat sal stel om voertuigontwerp nog ‘n stap verder te voer.
Die FT-HS, ‘n viersitplek-sportkoepeekonsep waarin omvattende gebruik gemaak word van hoogtegniese materiale, het ‘n unieke wegvoubare dak. Die dakpaneel, gemaak van koolstofvesel-kevlar, en die agterruit beweeg in een gladde beweging afwaarts en word in die agterste sitplekruimte geberg. Met die dak af word die FT-HS ‘n tweesitpleksportmotor. Om die dak af en op te slaan, vat net 10 sekondes. Wanneer die dak opgeslaan is, het dit ‘n opvallende uithol-seksie wat ontwerp is om lugdinamiese sleur te verminder en kopruimte in sekere sleutelareas te bied.
‘n Ander kenmerk is ‘n lugvlerk wat by hoë snelhede ontplooi word vir bykomende stabiliteit en traksie. Agter het die FT-HS ‘n lugwerwelaar van koolstofvesel met ‘n geïntegreerde breë uitlaatpyp. Die wiele is ook van koolstofvesel.
Met ‘n prys in die mediumklas behoort die Toyota FT-HS byval te vind by ekobewuste klante wat die verrigting en opwinding van ‘n sportmotor soek, maar terselfdertyd hul impak om die omgewing wil verminder. Dit sal waarskynlik in die smaak val van mense vir wie die nuwe tegnologieë welkome noodsaaklikhede is, eerder as luukses.
1/Xth
Die Toyota 1/Xth is ‘n konsepvoertuig wat omgewingsoorwegings redefinieer. Onder die sleuteleienskappe van hierdie voertuig is die feit dat dit net een/X-ste weeg as ander voertuie in hierdie klas met ‘n ontwerp wat gemik is op harmonieuse naasbestaan met mense en met die omgewing.
Die 1/Xth het byna dieselfde kajuitruimte as die Prius, maar weeg net 420 kg, ofte wel ‘n derde van dié van die Prius. Hierdie nuwe konsepvoertuig gebruik ook 50 persent minder brandstof as die Prius, tans die ekonomiekoning onder Toyota se produksiemotors.
Die kragoorbringstelsel van die 1/Xth kombineer die glanspunte van Flexible Fuel-tegnologie – tegnologie wat meebring dat ‘n voertuig op ‘n verskeidenheid brandstowwe kan loop, byvoorbeeld petrol en etanol, in enige verhouding gemeng – en ‘n inprop-hibriedstelsel. Dit beteken dat die stelsel van enige elektriese kragpunt af gelaai kan word, wat die 1/Xth ‘n langer reikafstand gee.
Die binnebrandenjin-komponent van die kragoorbringstelsel het ‘n verplasing van net 500 cm3. Afgesien van doeltreffendheid en die vermoë om verskillende brandstowwe te gebruik, spog hierdie klein enjin ook met besonder lae kooldioksied-emissievlakke.
Die hibriedstelsel is onder die agtersitplek geleë en dryf die agterwiele aan.
Die bak en die onderstel van die 1/Xth is gemaak van liggewig-, maar uiters rigiede koolstofvesel versterkte plastiek (CRFP). Hierdie gevorderde materiaal bied uitstekende beskerming in die geval van ‘n botsing. Danksy die meerderwaardige sterkte van die materiaal kon die bakpilare smaller gemaak word, wat natuurlik sig vanuit die kajuit verbeter.
RiN
Die Toyota RiN-konsep is gemik op groter gerief en ‘n "serene en gesonde lewenstyl". Dit word gedoen deur ‘n verhouding tussen die bestuurder en die voertuig waardeur die bestuurder aangemoedig word om homself te reëvalueer en sy aandag te bepaal op die gemeenskap en die natuur om sodoende ‘n gesonde ritme vir sy verstand en liggaam te verkry.
Met die oog hierop het die RiN sitplekke wat jou help om ‘n goeie houding vir jou rug te handhaaf. Beelde wat aanpas by die sielkundige gesteldheid van die bestuurder, word op die meterhuls van die "gemoedsoefening"-stuurbeheer geprojekteer.
Die gerieflike sitplekke is verhit en die kajuit spog met onder meer met ‘n suurstofvlakreëlaar en ‘n bevogtiger. Groen ruitglas verminder die indringing van infrarooi- en ultravioletlig en help om die omgewing helderder en skoner te laat lyk.
Die algehele indruk is een van harmonie met die omgewing. Skuifdeure met lae vensters stel die insittendes in staat om die natuurlike omgewing feitlik op grondvlak te beskou. Die kleurskema van die kajuit is beige en groen om die gelaatskleur van die insittendes te verryk en ‘n gevoel van verstandelike en fisieke behaaglikheid te verleen.
I-REAL
Die i-REAL is Toyota se jongste evolusie van ‘n persoonlike mobiliteitsvoertuig en bring die maatskappy nader aan die kommersialisasie van hierdie konsep. Die voertuig het drie wiele – twee voor en een agter.
In laesnelheidsmodus verkort die i-REAL sy asafstand outomaties sodat dit byvoorbeeld maklik geparkeer kan word en min plek in beslag neem. In die hoësnelheidsmodus word die asafstand langer. Die swaartepunt is gevolglik laer en die ryverrigting beter.
Die i-REAL spog met sensors wat die omgewing om die motor monitor. Die sensors bespeur wanneer daar die bedreiging van botsing met ‘n voetganger of voorwerp is. Wanneer so ‘n situasie op hande is, word die bestuurder met ‘n klanksein gewaarsku. Terselfdertyd word voetgangers gewaarsku dat hulle gevaar loop om raakgery te word deur waarskuseine bestaande uit ‘n aangename kombinasie van klank en lig.
Hi-CT
Die Toyota Hi-CT is ‘n moderne stadsvoertuig met ‘n opvallende, onkonvensionele voorkoms en is geïnspireer deur ‘n jeugdige lewenstyl.
Die ontwerp, met afmetings van 3 300mm X 1 695 mm X 1 780 mm, weerspieël ‘n nuwe vlak van "koel" en ‘n gevoel van genot.
Die Hi-CT is toegerus met ‘n inprop-hibriedstelsel. Dit beteken dat die stelsel by ‘n elektriese kragpunt gelaai kan word wanneer dit nie gebruik word nie en ook dat die reikafstand verleng word wanneer jy net op batterykag in die stad ry. Vir langer ritte, wanneer meer krag nodig is, is daar ‘n konvensionele binnebrandenjin. Dit laai ook die batterye.
Die Hi-CT het ‘n 100 volt-WS-prop (normale huishoudelike krag in Japan), wat beteken dat jy die krag van die batterye ook vir ander doeleindes kan aanwend.
Ander eienskappe is die verwyderbare agterste bêreruimte, of bagasiebak, en ‘n dek waarop dinge soos ski-planke, fietse of ander toerusting gelaai kan word.
CROWN HYBRID
Die Crown Hybrid-konsep, Toyota se volgende geslag van luuksesedans, is toegerus met die maatskappy se jongste hibriedstelsel, asook ‘n sogenaamde Vehicle Dynamics Integrated Management-stelsel (VDIM) vir gevorderde bestuurs-, omgewings- en veiligheidverrigting.
Hierdie motor spog met die THS II-stelsel (Toyota Hybrid System), wat ‘n tweestadium-reduksiestelsel insluit. Dit gee aan die motor besonder gladde versnellingseienskappe, uitstekende brandstofverbruik en uiters min uitlaatemissies.
Die bestuurder word op die hoogte gehou van die toestand van die kragoorbringstelsel deur middel van ‘n DFT-(Dun Film Transistor), VKV- (Vloeikristalvertoon) "Finegraphic Meter". Die vertoon is maklik om te lees en te verstaan.
Die VDIM-stelsel verseker uitstekende voertuigstabiliteit en ‘n hoë mate van voorkomende veiligheid met aktiewe stuurbeheer vir die optimum-balans tussen ry-, krag-, stuur- en remverrigting.

Die Crown Hybrid het 10 lugsakke vir die allerbeste beskerming van die insittendes.

