Suid-Afrikaanse motorryers sal binnekort twee opwindende toevoegings tot die plaaslike motormark onder hande kan neem wanneer die Suzuki Acceleration-reeks aanstaande naweek in Kaapstad se Canal Walk-winkelsentrum afskop.
Nog beter nuus is dat een gelukkige bestuurder die eienaar van ‘n splinternuwe Suzuki Swift-luikrugmotor gaan word.
Die Suzuki Acceleration-reeks bied aan gelisensieerde motorbestuurders die geleentheid om self die nuwe Suzuki Swift- en SX4-luikrugmotors te ervaar, en terselfdertyd om ‘n verstommende reeks pryse mee te ding – insluitende ‘n splinternuwe Suzuki Swift 1.5 GL.
Die reeks word by winkelsentrums in al die belangrikste stedelike gebiede landwyd aangebied. Deelnemers versnel teen tyd met die nuwe Suzuki Swift- en SX4-luikrugmotors deur ‘n voorafbepaalde roete om hul bestuursvernuf te bewys.
Die roete bestaan uit bestuursoefeninge wat besondere vernuf verg, en wat in albei motors voltooi moet word. Voor deelnemers die roete aanpak, ondergaan hulle ‘n kort opleidingsessie met ‘n gekwalifiseerde instrukteur.
Die deelnemers wat die beste tyd by elke rondte van die Suzuki Acceleration-reeks aanteken sal in streeksuitdunne meeding, voor die streekwenners by die nasionale eindrondte teen mekaar te staan kom. Die Suzuki Swift GL sal toegeken word aan die bestuurder wat in dié finale rondte seëvier.
"Ons wil hê dat Suid-Afrikaners die opwinding en vernuf van ons Suzuki-motors eerstehands ervaar," sê Charl Timms, hoof van verkope en bemarking by Suzuki Auto SA. "Die Suzuki-lewenswyse is altyd innoverend, en ons het besluit om pleks van statiese promosies ‘n meer dinamiese benadering te volg."
Die Suzuki Acceleration-reeks is ‘n prikkelveldtog wat reeds voor die amptelike bekendstelling van die Swift en SX4-modelle vroeg in Junie van stapel gestuur word.
"Die reeks sal Vrydae en Saterdae tot aan die einde van Julie by die belangrikste stedelike gebiede landwyd aandoen," het Timms bygevoeg.
Buiten die Swift GL, sluit die lys van pryse wat in die Suzuki Acceleration-reeks gewen kan word ook ‘n Suzuki LTZ250-vierwieler en ‘n Suzuki AN125-bromponie in.
Die RPM TV-motorprogram op SuperSport is as die mediavennoot van die Suzuki Acceleration-reeks aangestel, en sal weekliks nuus, uitslae en ander inligting oor die verloop van die reeks uitsaai.
Die volledige skedule van die Suzuki Acceleration-reeks is as volg:
25-26 April Kaapstad Canal Walk
2-3 May Port Elizabeth Walmer Park
9-10 May Oos Londen Vincent Park
16-17 May Johannesburg Clearwater Mall
23-24 May Soweto Jabulani Mall
13-14 June Bloemfontein Mimosa Mall
20-21 June Pretoria Centurion Mall
27-28 June Soweto Jabulani Mall
4-5 July Pretoria Woodlands Mall
11-12 July Durban Ushaka Marine World
18-19 July Pinetown Pine Crescent-Sentrum
25-26 July Johannesburg Fourways View
