Die Toyota-Motorkorporasie se produksie- en verkoopsfiliaal in Indië, Toyota Kirloskar Motor Private, Beperk (TKM), het ‘n konsepweergawe van die Etios, ‘n nuwe kompakte motor, spesiaal ontwikkel vir die Indiese mark, by die 10de Auto Expo-motorskou in Delhi onthul.
Twee konsepweergawes van die Etios word by die skou vertoon: ‘n sedan met ‘n nuut ontwikkelde 1,5 liter-enjin en ‘n luikrug met ‘n nuut ontwikkelde 1,2 liter-enjin.
Die Etios, wat spog met Toyota se befaamde gehalte, duursaamheid en betroubaarheid, is ontwikkel met die oog op gesinskopers in die snelgroeiende Indiese motormark. Uitstaande eienskappe is die motor se moderne, deftige voorkoms, gerief, kajuit- en bêreruimte, bekostigbaarheid en lae loopkoste. Die ander glanspunte is die Etios se flinke verrigting en uitstekende petrolverbruik.
Yoshinori Noritake, Hoofingenieur van die Etios-projek, sê meer as 2 000 ingenieurs was die afgelope vier jaar betrokke by die ontwikkeling van die voertuig, en in die ontwikkelingsproses het hulle talle Indiese stede besoek en onderhoude met honderde potensiële kopers gevoer om insette te kry.
“Ek is oortuig dat die Etios ‘n genotvolle eienaarskapsondervinding sal bied en sal bydra om die lewensgehalte van die eienaars te verbeter.”
Die vervaardiging van die Etios neem later vanjaar ‘n aanvang ‘n tweede Toyota-aanleg, wat tans spesifiek vir die produksie van die nuwe motor gebou word. Toyota verwag om jaarliks 70 000 Etiosse in Indië te verkoop en die nuwe motor sal ook na ander lande uitgevoer word.
