Treasure Karoo Action Group oorhandig skokinligting aan regering

Treasure Karoo Action Group (TKAG) het nuwe data rakende waterbesoedeling weens skaliegasontginningsaktiwiteite in die VSA, skriftelik aan die minister van mineraalsake, adv. Ngoako Ramatlhodi, deurgegee.


Die organisasie het verwys na ʼn verslag wat in die VSA deur die Wall Street Journal en die Associated Press uitgereik is. Die hoof uitvoerende beampte van TKAG, Jonathan Deal, het ook verwys na bewerings wat deur die internasionale olie – en gasindustrie sedert 2011 gemaak is, veral deur die hoof van Shell Suid-Afrika, mnr. Bonang Mohale, wat herhaaldelik die bestaan van selfs “’n enkele gedokumenteerde geval van grondwaterbesoedeling weens hidrobreking” ontken het.

Dié onlangse verslag, volgens TKAG, handel slegs oor gevalle in Pennsilvanië, en kan as die punt van die ysberg van besoedeling weens gasontginning in die VSA beskou word. “Daar is verskeie redes waarom hierdie inligting verborge was en steeds buite bereik van die publiek bly. Soos met alle kwessies van hierdie aard, sal die waarheid na vore kom, soos wat tans in Pennsilvanië gebeur. Die Alliansie teen Hidrobreking is baie bly dat dié inligting slegs enkele dae na die Departement van Mineraalsake sy eie beuel geblaas het rakende hoe Suid-Afrika se water beskerm sou word wanneer skaliegaseksplorasie begin, aan die lig gekom het . “ Die direkteur-generaal van die departement van mineraalsake, mnr. Thibedi Ramontja, het Woensdag die portefeulje komitee toegespreek en gesê dat hy “vertroue het dat water beskerm sal word.”

Die Wall Street Journal het die nuwe inligting gepubliseer na ʼn reeks openbare inligtingsversoeke en hofsake in die VSA deur die Associated Press en ander nuusagentskappe (met betrekking tot waterbesoedeling weens booraktiwiteite), waarna die Pennsilvanië departement van omgewingsbeskerming vereis is om dokumente bekend te maak. Uiteindelik, na deeglike hersiening van die harde kopie verslae wat by die streekskantoor gestoor was, het die departement 243 gevalle bevestig waarin staatsowerhede beslis het dat boormaatskappye verantwoordelik was vir die impak op drinkwaterboorgate.

Pennsilvanië se ouditeur het verlede maand erken dat die departement se stelsel wat klagtes moet hanteer, heeltemal onbevoeg is. TKAG het gesê: “Hierdie is ʼn landmerkverslag wat ons regering ernstig moet oorweeg voor daar op enige verdere stappe om skaliegaseksplorasie en ontginning te bevorder besluit word. Nie net dien die VSA regeringsdata as teenbewyse van die bewerings van Shell en die Suid-Afrikaanse regering dat skaliegasontginning veilig is nie, maar dit staaf verder die besware wat sedert vroeg 2011 deur ons aan die regering voorgelê is.

“Die departement van mineraalsake steun baie op die feit dat die Suid-Afrikaanse regulasies (waarvan die finale weergawe nog nie gepubliseer is nie) op die Amerikaanse Petroleum Instituut (API) standaarde geskoei is. Ons kommer is dat hierdie dieselfde basiese standaarde is wat deur Pennsilvanië en ander state oorweeg was as deel van die ontwikkeling van hul regulasies, en waar negatiewe impakte reeds gemerk is. Alhoewel die DMS beklemtoon het dat eksplorasie wel sal plaasvind, kon die direkteur-generaal nie in die parlement verlede week ʼn bevredigende antwoord lewer op vrae rondom die kapasiteit van sy departement en of daar realisties gesproke genoegsame oorsig en wetstoepassing sou kon wees nie,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, gesê.

“Dit bekommer ons geweldig dat die direkteur-generaal daarin gefaal het om die tekortkomings van sy departement, met betrekking tot monitering en wetstoepassing, te erken. Monitering alleenlik sal nie grondwater beskerm nie en die voorgestelde regulasies vir skaliegasontginning is onvoldoende en behoort bevraagteken te word,” het Kleynhans bygevoeg.

Laastens het Kleynhans sy kommer rakende die tekort aan kapasiteit in die departement om selfs die huidige mynbou aktiwiteite te oorsien, met verwysing na regulasies en monitering, uitgespreek.

“Die API standaarde is nie onfeilbaar nie en die tekort aan navorsing in Suid-Afrika, spesifiek met betrekking tot die unieke geologie in die streek, dra by tot die onvoldoende en ontoepaslike aard van die huidige voorgestelde regulasies vir Suid-Afrika. Dit is ʼn resep vir ʼn ramp en is ʼn groot risiko,” het hy gesê.

Die klag wat die TKAG op Dinsdag, 26 Augustus by die Openbare Beskermer ingedien het, die nuwe inligting aangevul word. “Ons vereis dat die regering die graad van onsekerhede, kostes en risiko’s (wat klaarblyklik van die hand gewys is ten gunste van beweerde ekonomiese voordele) hersien. Ons dring daarop aan dat die regering die huidige proses staak, al die inligting en bewyse in verband met skaliegas oorweeg en met Suid-Afrikaners konsulteer.”

Vir ʼn afskrif van die brief wat aan Ramatlhodi gerig is en die volledige klag wat by die Openbare Beskermer ingedien is, kontak asseblief research@treasurethekaroo.co.za.

Stop Fracking

Lewer kommentaar

Leave a Reply