Turbodiesel vir nuwe Accord-topmodelle

 

Honda Suid-Afrika het sy reeks Accord-sedan en Tourer-stasiewaens uitgebrei met die bekendstelling van ʼn gevorderde turbodieselenjin.

Die i-DTEC-kragbron van 2,2 liter is ʼn verdere ontwikkeling van Honda se bekroonde i-CTDi-turbodieseleenheid, wat reeds in die CR-V- en Civic-reekse ingespan word, en koppel nog beter verrigting en verfyning aan indrukwekkend lae uitlaatgasvlakke, tesame met suinige brandstofverbruik.

“Die bekendstelling van ons jongste, gevorderde i-DTEC-turbodieselenjin beklemtoon die premiumstatus van ons Accord-reeks verder,” sê Graham Eagle, algemene bestuurder van verkope en bemarking by Honda SA.

“Die i-DTEC-enjin is ʼn toonbeeld van verfyning, met uitstekende verrigtings-eienskappe en ʼn spesifieke fokus op suinige brandstofverbruik en lae uitlaat-gasvlakke. Daarom is dié kragbron besonder geskik vir sy vlagskiprol in die Accord-reeks.”

Die i-DTEC-eenheid word in sy geheel van aluminium vervaardig, en is met die heel jongste regstreekse brandstofinspuitstelsel, uitlaatgas-hersirkulering en ʼn diesel-neerslagfilter toegerus. Dit sorg dat maksimum-kraglewering tot 110 kW by 4 000 r/min styg, terwyl die wringkragpiek nou op 350 Nm by net 2 000 r/min te staan kom.

Die handratweergawe van die Accord 2.2 i-DTEC-sedan versnel in net 9,6 sekondes van 0 tot 100 km/h, terwyl die topsnelheid op 212 km/h te staan kom. Met ʼn outomatiese vyfgangratkas is die syfers net effens stadiger, met ʼn 0-100 km/h-versnellingstyd van 9,8 sekondes, en ʼn topsnelheid van 207 km/h.

Die Accord 2.2 i-DTEC Tourer word net met die outomatiese vyfgangratkas gebied, en behaal feitlik identiese verrigtingsyfers. Die stasiewa lê die 0-100 km/h-versneltoets in 9,8 sekondes af, en bereik ʼn topsnelheid van 202 km/h.

In die gekombineerde siklus benodig die sesgang-handratmodel van die Accord
i-DTEC-sedan ʼn suinige verbruiksyfer van net 5,9 liter/100 km, terwyl die CO2-uitlaatgasvlak aansienlik laer is as die jongste Euro 5-vereistes, en nou net 155 g/km beloop.

Die brandstofverbruik en CO2-uitlaatgasvlakke van die outomatiese weergawe kom onderskeidelik op 6,6 liter/100 km en 175 g/km te staan. Die i-DTEC-toegeruste Accord Tourer benodig 6,7 liter diesel vir elke 100 km, en het ʼn CO2 uitlaatgasvlak van 178 g/km.

Beide die sedan- en die stasiewaweergawe van die Accord 2.2 i-DTEC-reeks behou presies dieselfde, hoë Executive-vlak van standaardtoerusting as die 2,4-liter-petrolweergawes, wat vir indrukwekkende vlakke van weelde, veiligheid en gerief sorg.

i-DTEC: ʼn nog hoër maatstaf

Die nuwe i-DTEC-turbodieselenjin van 2,2 liter verteenwoordig verdere sleutelverbeteringe in vergelyking met die bestaande i-CTDi-kragbron wat reeds deur Honda se vyfdeur-Civic en die CR-V benut word.

Die enjin is die breinvrug van Kenichi Nagahiro, Honda se hoof-enjinontwerper, en verteenwoordig die volgende, belangrike stap in die ontwikkeling van Honda se dieseltegnologie.

Die nuwe enjin spog met ʼn kombinasie van die jongste brandstofinspuiting-tegnologie, meer doeltreffende uitlaatgas-hersirkulering, en ʼn dieselneerslagfilter om uitlaatgasvlakke aansienlik te verlaag. Terselfdertyd is krag- en wringkraglewering verhoog om vir nog beter reaksies en ʼn sportiewe bestuurservaring te sorg.

Neerslagvlakke binne die uitlaatgasse is heelwat laer as die Euro 5-perk van 5 mg/km (in vergelyking met die 25 mg/km van die Euro 4-vereistes); en die oksides van die stikstofvlakke (NOx) is ook aansienlik laer as die nuwe perk van 180 mg/km (die Euro 4-vereiste was 250 mg/km).

Nes die i-CTDI-eenheid word die nuwe i-DTEC-enjin in sy geheel van aluminium vervaardig, en word dwars gemonteer, met dubbele bonokaste en vier kleppe per silinder. Dit maak ook gebruik van ʼn turboaanjaer met veranderlike spuitstuk, terwyl ʼn balanseringstaaf vir nog gladder werking sorg.

Honda glo dat die kombinasie van ʼn viersilinderuitleg en ʼn inhoud van 2,2 liter die heel beste kombinasie vir ʼn motor in die D-segment soos die Accord verteen-woordig. Enige moontlike kragvoordeel wat ʼn sessilinder sou bied, word deur swaarder brandstofverbruik in die wiele gery.

Piezo-inspuiters en meervoudige inspuitings

Onder die belangrikste veranderinge wat die bekendstelling van die i-DTEC-ontwerp verteenwoordig, tel die pas van ʼn nuwe drukbuis-inspuitstelsel van 1 800 bar. Die stelsel is met piezo-inspuiters toegerus wat meer akkurate, meervoudige inspuitings lewer. Dit laat tot vyf verskillende inspuitsiklusse toe:

1)ʼn Aanvanklike inspuiting by lae- tot medium-enjintoere
2)ʼn Vooraf-inspuiting wanneer hoë laste by lae enjintoere ondervind word
3)ʼn Hoofinspuiting – onder alle toestande, en alleen by hoë laste en hoë toere
4)ʼn Eindinspuiting by lae enjinlaste en mediumtoere ten bate van skoner uitlaatgasse
5)ʼn Na-inspuiting by lae laste om die katalisator te suiwer en die neerslagfilterwerking te herlaai.

Die vermoë om voortdurend die ontbrandingskenmerke oor die volle spektrum bedryfsomstandighede aan te pas, speel ʼn kernrol in verbeterde verrigting terwyl die toenemend strenger uitlaatgasvereistes steeds nagekom word.

Die brandstof-inspuitstelsel werk steeds, ongeag die ryomstandighede, ten nouste saam met die turboaanjaer en sy veranderlike spuitstuk, om die druk in die inlaatspruitstuk te optimiseer. Dit maak hoër druk teen laer enjinsnelhede moontlik, wat ook laer brandstofverbruik en verlaagde uitlaatgasse tot gevolg het, omdat ontbranding meer doeltreffend plaasvind.

Ratkaste

Die Accord i-DTEC-sedan kan met ʼn sesgang-handratkas of ʼn outomatiese vyfgangratkas bestel word. Die Tourer-stasiewa is net met die outomatiese vyfgangratkas beskikbaar.

Die nuwe outomatiese ratkas is spesifiek vir gebruik in die Accord i-DTEC-modelle ontwikkel, en voldoen so aan die toenemende vraag na gevorderde outomatiese ratkaste in die dieselaangedrewe D-segment.

Dieselneerslagfilter

Die nuwe uitlaatpyp-uitleg van die Accord i-DTEC-modelle maak voorsiening vir ʼn dieselneerslagfilter wat baie naby aan die sykant van die enjin gekoppel is om te sorg dat die filter baie vinnig sy bedryfstemperatuur bereik. Dit sorg op sy beurt dat die filter meer doeltreffend werk.

ʼn Verdere sleutelbydrae tot die ‘intelligente’ ontbrandingsbeheerstelsel word deur die voortdurend veranderlike dwarrelbeheerklep gelewer. Dié klep is in die inlaatspruitstuk gemonteer.

Die klepverstelling wissel tussen ʼn hoë verstelling wanneer die enjin luier, of teen mediumsnelhede bedryf word, en ʼn lae verstelling by hoë enjinsnelhede, om sodoende te alle tye die bes moontlike ontbrandingsomgewing te skep.

Pryse

Die Honda Accord 2.2 i-DTEC Executive-sedan en Tourer is onmiddellik by alle goedgekeurde Honda-handelaars landwyd beskikbaar. Die voorgestelde klein-handelspryse is as volg:

Accord Sedan 2.2 i-DTEC Executive R346 900
Accord Sedan 2.2 i-DTEC Executive Auto R364 900
Accord Tourer 2.2 i-DTEC Executive R383 400

Dié pryse sluit ʼn waarborg van drie jaar/100 000 km en ʼn diensplan van vyf jaar/90 000 km in.

Lewer kommentaar

Leave a Reply