Van vlinder na vrugtevlieg

Toe ek begin naderbeweeg aan 40 het ek vir my ‘n stewige staanwaaier gekoop wat op die tweede van die vyf beskikbare verstellings alles in ‘n tienmeterradius plat blaas. Caramella was gereed vir die verwagte warmgloede en nagsweet wat glo met die middeljare saamgaan.

Ek het my man (nou gewese) gewaarsku teen humeuruitbarstings en aan die kinders verduidelik dat hulle nie moet sleg dink van Mamma as sy dalk ‘n affêre met ‘n ander oom aanknoop nie. Voorbrand is beter as afbrand, het ek geglo, en hoeveel skade kan mens nou werklik aan jouself en andere aanrig in die maand of twee wat jy van lam na skaap afgradeer? Drie jaar later kan ek met oortuiging antwoord: onmeetbaar baie op veel meer vernederende maniere as as wat in boeke beskryf word.

Saterdagoggend, in ‘n desperate poging om die finale metamorfose van vlinder na vrugtevlieg vir nog ‘n wyle te vertraag, meld ek aan vir my belly-dancing klas. Die vorige aand, met my beker wat oorloop van kreatiwiteit en twee groot glase moed in my bloed, begin ek aan my rinkinkelbra – tóg ‘n integrale deel van die hele dansery – werk. Ek boor gaatjies in bierdoppies, werk rye blinkers met rekgare oor die rondings en was net op pad om my Krugerrand te gaan haal vir ‘n titseltjie classy bling, toe my kinders die muse verjaag met hul observasie dat ek meer soos daardie Zoeloe-kindertjies wat op Groentemarkplein dans gedurende die skoolvakansies gaan lyk in my bierdoppiebra as na ‘n Arabiese prinses. Ek het myself voorgeneem om tog hul bogemiddelde geboortegewig en die impak wat dit op my voorheen plat abdomen gehad het, in ‘n gesprek op te haal.

“Sorry, but I was not sure what to wear,” het ek verskoning gemaak vir my sweetpakbroek en los T-hemp. Kash Athantos, die produk van ‘n unie tussen Adonis en Aphrodite vermoed ek, het my egter verseker dat my kleredrag heeltemal geskik is vir die klas en dat ek bloot my T-hemp kan optrek en by my brasierbandjies kan insteek sodat my maag sigbaar is – glo dat ek die spiere wat ek gebruik kan sien. In die twee sekondes wat dit haar geneem het om my met bogenoemde te help, het ek gewonder of iemand gaan agterkom dat ek eintlik die Spur se R19.95 ontbyt gaan nuttig het en nooit klas toe is nie as ek voor huistoegaantyd my gesig in die badkamer natmaak sodat dit lyk asof ek vreeslik gesweet het.

“Face the mirror, feet apart, knees slightly bent, tummy pulled in, bum tucked in, ready and … breath in … and out … in, and … ”

Ek het in die spieël wat een hele studiomuur beslaan gestaar na my naakte midrif, verrinneweer deur oorgretige abdominale chirurge, genoemde twee negepondbabas en natuurlik so bietjie deur myself ook, en besef dat ek gaan moet terugval op tegnieke wat ek voorheen met groot sukses gebruik het in omstandighede met soortgelyk ontstellende visuele stimuli. Soos die eerste keer toe ek The Fly (1958) gesien het en daarna in enige film met baie insekte, groot slange of klein mensies. Met oë op skrefies en wimpers wat die ongewenste beelde filtreer, het ek my verbeel ek is die begeerlike Salomé en eufories van al die gediepasemhalery het ek heupswaaiend voor ‘n imaginêre Koning Herodes gedans.

Sedertdien het my teoretiese kennis van die menslike anatomie geweldig uitgebrei. Ek ken nou grootwoorde soos “gluteus” (daar waar ek vandaan kom beter bekend as “stêre”), “rectus abdominus” (al klink dit of dit moet, het dit niks te doen met stêre of omliggende streke nie) en “obliek”. En al kon ek tot op hede nog geen konkrete bewyse vind dat ook ék met diesulke spiere toegerus is nie, beroep ek my op dít wat ek geleer het in Calitzdorp se konsistorie waar ons die definisie van geloof snikhete Sondag na Sondag hardop geresiteer het: Geloof is die vaste vertroue op dié dinge wat ons nie kan sien nie. Sela.

'n Gedansery
'n Gedansery

Danksy my gedansery het ek ook aansienlik beter leer lieg en kan nou sonder die geringste skaamte aan diegene wat navraag doen oor my onnatuurlike loopgang op ‘n Maandagoggend sê: “Lots and lots of wild sex over the weekend!” Dis in my opinie ver meer verkieslik as: “Ek loop so snaaks want alles behalwe die spiere wat my oë van links na regs in hul kaste laat beweeg, pyn!”.

Verder het ek my voorgeneem om my nie verder te verknog oor waar ek geld vandaan gaan kry om te betaal vir die diverse titanium prosteses wat ek binnekort gaan nodig kry nie. Wanneer die tyd aanbreek – en dit sal, want nou reeds kraak ek oral waar Ballet Barbie kan buig – sal ek my trots sluk en soos almal anders Huisgenoot kontak met die voorstel dat hulle, in ruil vir ‘n onderneming om bostaande koste te dek, ekslusiewe regte verkry om die verhaal van Caramella, die eerste bioniese vrou (as het ware Mrs Steve Austin) in twee tale te publiseer.

En tussen nou en die dag dat ek finaal as ou ooi gegradeer word, ‘n stempel in eetbare pers ink op elke kwart van my karkas soos deur die Departement van Landbou en Ontwikkeling se voorskrifte aan abattoirs bepaal, sal ek met roterende lende die koperkapél tem.

(oorspronklik verskyn 2 Maart 2012)

Lewer kommentaar

Leave a Reply