Vertrapte Ou-Jan

Warm sand voel soos moeder aarde satyn as Ou-Jan sy groottoon dieper in die aarde boor. Sy oë val waarderend op oranje son stoet. Sugtend staar hy en kyk hoe nog ‘n dag groet.


♬”kalwas, kalwas bring terug wat was”
“kalwas, kalwas gee vir Jan jou oranje jas”
“kalwas,kalwas ek Sal tog nooit hier inpas”
“kalwas, kalwas bring terug wat was”♬

Ouder gewoonte neurie Ou-Jan sy deuntjie en glimlag tranerig as die son ‘n laaste keer oor die horison loer.

Sy son vernielde plooie trek saam wanneer Ou-Jan uittand vir ‘n verbyganger glimlag. Geen glimlag word terug gegee en hartseer weet Ou-Jan dit is te veel om te verwag. Hoes-hoes en al sukkelend begin hy aan te skuifel. Sy ou lyf al seer.

♬”you are my sunshine, my only sunshine. You make me happy when skies are grey.”♬

Sing-sing loop hy rigtingloos. Ou-Jan sing nie omdat hy happy is nie. Nee, hy sing omdat hy sy hongerpyne wil stil. Hy sing omdat alles so erg pyn, omdat sy loneliness so hard skreeu.

bedelaar“Nobody gives a damn Jan. Hulle wil net tjeld hê that’s all. Jy kan dood lê, hulle sal verby jou trap” sy ma se woorde rym nou truth dink hy.

Moeg en uitasem gaan sit ou-Jan om vir ‘n oomblik te rus. Die duiwe se stupid ge-tjie-tjie maak sy ore seer en hy verwilder hulle, waai sy arms wild soos ‘n gesuipte besetene. Jan knyp sy oë toe en gryp sy bors vas soos een van sy wilde hoesbuie hom weer beetkry.

Met die agterkant van sy hand vee hy die sweet druppels op sy voorkop af en vee die bloed druppels op sy hand aan sy sakdoek af.

“Is Oom ok?” Ou-Jan wip soos hy skrik en kyk op om te sien waar die fyn stemmetjie vandaan kom. Voor hom staan ‘n dogtertjie met ‘n bos blonde krulle, haar bruin ogies staar besorg na hom.

“Ja, Ja ek is fine” antwoord Jan deur die gehoes.

“Hier vat ‘n slukkie koeldrank oom” uitgestrek hou sy die botteltjie kola, haar klein vingertjies klou kramptig aan ‘n bruin beertjie vas.

Onseker vat ou-Jan die botteltjie. Die glimlag in haar ogies laat sy hart in een krimp. Hy voel hoe trane opstoot in sy keel en sluk swaar die yskoue koeldrank so saam die trane af.

“Baie dankie nooi” en die keer is dit Jan wat haar beloon met sy tandlose glimlag.
Sy gaan sit langs hom en staar ewe kordaat voor haar uit. So sit hulle in stilte. Totdat Jan weer benoud met ‘n hoesbui stoei.

“Hierso vat gou weer ‘n slukkie Oom” die yskoue lafenis streel sy bebloede keel en hoes-hoes bedank hy sy nuwe maatjie.

“Oom my ma sê dat almal van ons eendag sterretjies gaan wees. Dink oom dis waar?”

Haar bruin ogies kyk vraend na hom. Nou wat sê mens nou?
“O Jirre help hierdie ou brein!”

“Ja kleintjie eendag gaan almal van ons daai stairway klim. Wanneer jou sypaadjie klaar geraak het. Gaan ons daar bo rus. En blink aan die hemel hang.”

“Oom my Pappie se sypaadjie het opgeraak. Hy hang aan die hemel en elke aand voor ek gaan slaap, blaas ek vir hom ‘n soentjie.” Haar ogies staar hartseer na Ou-Jan en hy voel daai damn trane weer opstoot.

Ou-Jan oorweeg dit vir ‘n oomblik om die gesprek kort te knip maar iets keer hom. Dis daai soft spoken voice in hom wat sê hy moet sit.

Ou-Jan sit woordeloos voor hom en staar en wonder waar is die kind se ma. Hoekom is sy alleen.
Hy krap lomp binne hom rond vir troos woorde.

“Hy is nou jou guardian angel. Hy pas vir jou op kleintjie. Nooit is jy alleen nie.”

“Hierdie ou lyf is done. Binnekort gaan Ou-Jan ook daarbo rus.” praat Ou-Jan sonder om te dink. Hy kyk vinnig op en lees die vrae in haar kinderlike ogies.

“Oom is Oom ‘n swerwer?”
“Mamma sê dat mense wat in die parkie slaap swerwers is. Dat ons nooit lelik moet wees nie want een van julle Kan dalk Jesus wees.”

‘n Glimlag ruk onwillekeurig aan sy wange en laggend verklaar hy dat hy wel een is.

“Kleintjie wat was jou pappa se naam?”
“Werner, sy naam was Werner oom”
Haar handjies vee ‘n blonde krul agter haar oor.
“Ou-Jan sal vir jou pappa hallo sê, wanneer my paadjie opraak”

Ou -Jan maak reg om op te staan. Die gesprek wil hy nou afsluit voor dit sy loneliness weer terug roep.

Skuifelend begin hy aanstap sonder om om te kyk en voel ‘n klein handjie vou om syne.

“Oom ek wil graag my beertjie vir oom gee.” tranerig hou sy nog vas aan sy hand terwyl Jan prewel dat hy moet gaan.

“Oom asseblief oom. Vat vir Celia. Sy sal oom styf vashou as dit donker is. Ek het haar nie meer nodig nie. Ek het ‘n guardian angel. Vat oom vir Celia. Dan wanneer oom se paadjie klaar is en oom die stairway gaan klim, kan oom haar saamvat. Oom sal nooit weer alleen wees nie”

Die trane stoot nie meer op in sy keel nie maar vloei nou oor sy vuil wange en los spore. Hy vee met sy hand oor sy gesig en druk saggies haar handjie.

“Dankie kleintjie. Dankie.”

Sy draf stap weg en ou-Jan staan versteen en staar na sy nuwe companion.
“Celia, wat maak ons met jou?” praat hy soos die donker toesak en Jan hom regmaak vir ‘n koue winternag op sy park bed, oorweldig sy gesprek met die bruinoog kleinding hom. Hy kyk op na die nag hemel en wens hy kan so onskuldig soos ‘n kind glo.

“As U daar bo my hoor, vir vertrapte ou-Jan nog ‘n oor het Jirre. Wil vir niks vra nie. Ek like my park bed. Is thankful vir wat ek het. Liewe Jirre dankie wil ek net sê dat U deur ‘n bruinoog kleinding langs my kom sit het. Langs ou vuil ekke gesit en gesels het. Bless daai kleinding Jirre.
Amen”

“Stop nou jou getjank.” vies berispe Ou-Jan homself. Deur skrefies oë lê Ou-Jan en loer vir daai een ster wat so helder hang. Nog voor slaap stil kon kom sit, hoes Ou-Jan ‘n laaste keer, lê rustig sy kop neer en blaas … ’n laaste keer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply