(Malles se eienaardige storie begin in Uitheemse sameswering.)
Die skraal windjie dra sulke bolletjies stof, laag oor die vlaktes van die Karoo. Malles wonder of sy horlosie nog naastenby die tyd korrek wys? Nietemin wil hy darem nog genoeg daglig kry in Beaufort-Wes en hy wonder of daar mense is en hopelik kos en brandstof? Nou vir ‘n lekker sigaretjie na sy laaste blikkie vleisbolletjies en dan weer in die pad.
Malles kyk die motorfiets so en wonder of hy nog altyd die motorfiets gehad het, want hy kan om die lewe nie onthou nie! Maar dit was al wat in sy motorhuis gestaan het nadat hy so onverklaarbaar in sy huis in Pretoria wakker geword het en nie die laaste paar dae kon onthou nie, glad nie. Terwyl hy so aan die sigaret suig, dink hy weer hoe vreemd alles is. Hy dink weer aan die droom wat hy gereeld kry oor n meisie met die naam René. Baie duidelik in sy droom sien hy haar en hoor haar naam. ‘n Kort en baie vreemde droom waar hy op die see sweef en dan skielik die klein visserskuit sien met die pragtige René wat roep “Malles! Hier’s ek, dis ek René!” en dan skrik Malles wakker. En vandat hy uit Pretoria gery het, het hy nog nie een mens gewaar nie! Al die dorpe verlate, asof dit al ‘n geruime tyd so is. In van die plekke het hy darem eetbare blikkies kos gekry, en ook brandstof by sommige vulstasies. Wat de hel gaan aan en wat het gebeur? Waar de joos is almal?
Malles se kop voel dof as hy so dink oor als en probeer sin maak daarvan. Hy moet nou nie moed verloor nie, miskien is daar antwoorde in Kaapstad. Hy weet nie hoekom hy nou juis Kaapstad gekies het nie, seker maar omdat dit ook n groot stad is en daar in Pretoria en Johannesburg niks aangaan nie. Hoop, is al wat hy nou het.
Malles trek weg met ‘n effense spin van die agterband en laat loop teen 180 km/h. Dit is omtrent ‘n adrenalien stormloop, dink Malles. Op ‘n superfiets, net jy en die uitgestrekte lang teerpad met geen ander verkeer nie. Vir ‘n oomblik glimlag Malles by homself oor die heerlikheid en dan dink hy skielik weer hoe alleen hy die laaste paar dae voel, ongelooflik eensaam. Hy besef nou dat alleenheid net lekker is vir ‘n tyd, tot die eensaamheid jou hart omhels en koue leegheid in jou siel laat ontsnap.
Skielik uit die bloute hardloop daar iets wat lyk soos ‘n hond skuins oor die pad. Malles swenk effe na links terwyl hy beide voor- en agterremme bymekaar maak en met dié gly die motorfiets onder hom uit en Malles skuur die Karoo veld in met ‘n hewige spoed en begin tol en rol vir sowat oor die 100 meter voordat hy half bewusteloos tot stilstand kom met een massa stofwolk. Plat op sy rug maak Malles sy oë stadig oop en so deur die stof wat tydig terugsak aarde toe, sien hy die asemrowende bloue lug en ‘n swerm van die mooiste makoue. En Malles dink by homself oor hoe hard hy geval het.
Malles lê vir ‘n tydjie doodstil terwyl hy wag vir enige erge pyne, maar niks. Soos hy baie versigtig en stadig op sy elmboë druk om in episodes te probeer opstaan, gewaar hy die skaduwee wat oor hom verskyn en hy kyk so skuins op teen die son in en sien ‘n gebukkende figuur met ‘n helpende hand gebaar. Uit die veld geslaan (seker letterlik en figuurlik) vat Malles die hand verwelkomend. Hy kyk die oom so op en af, met die mees ongeloofwaardige uitdrukking op sy gesig.
“Dag boetie” sê die oom met so krakerige stem van jare se rook en whiskey drink.
“Hello oom” sê Malles nou met ‘n glimlag op sy gesig en hy skud die oom se blad met die skud soos twee bloedbroers mekaar sal groet na jare.
“Stap saam” sê die oom en Malles volg gedwee terwyl hy nog so verbaas is dat jy hom kan omstamp met ‘n veer.

So op ‘n afstand sien Malles die klein kliphuisie met die doringboom wat sulke streep skaduwees lank oor die die stoep laat lê. Naby die huisie gaan staan Malles stil met sy hande in die sye en bekyk die huisie verwonderd aan. Daar is geen ander huis of teken van beskawing in sig nie.
“Kom sit hier op die stoep” wuif die oom vir Malles nader.
Dit voel vir Malles of hy in een of ander vreemde verskynsel film is. Hy gaan neem ‘n gemaklike sit in die rusbank op die stoep en kyk die oom aan asof hy dagga gerook het.
“Wil jy ietsietjie drink?” vra die oom terwyl hy whiskey in twee blikbekers skink.
“Dankie oom” antwoord Malles en vat die beker by die oom. Met ‘n “cheers!” vat Malles ‘n groot sluk en verstik byna.
“Het oom nie dalk vir my ‘n sigaret nie asseblief” wil Malles weet, “ek dink ek het myne verloor met die neerkom.”
Die oom hou ‘n pakkie Texan na hom en Malles neem een met ‘n “dankie”. Malles vat ‘n diep trek, nog ‘n sluk whiskey en sê “Baie dankie dat oom my gaan haal het”.
“Jy’s welkom boetie, hier gebeur maar nie veel nie jy weet”
Met ‘n frons vra Malles of die oom weet wat aangaan.
“Boetie, een ding wat ek vir n feit weet, is dat dit netnou donker gaan raak” en hy wys so met sy wysvinger na die horison waar die son reeds besig is om te sak, en die pragtigste rooi gloed uitsprei soos ‘n mannetjies pou wat pronk.
“Nee dis waar oom, maar ek bedoel wat in die land aangaan” brei Malles bietjie uit.
Intussen voel Malles dat sy kop effens begin draai en hy lomerig raak en dink dit moet seker maar die whiskey wees saam die oorweldigende rustigheid. Die oom kyk vir Malles stip aan terwyl hy voortgaan om te praat “In my tiener jare het ek ‘n hond gehad en eendag terwyl ek gaan stap het met hom, het ‘n man van vooraf aangekom en die hondjie het hewig begin blaf. Soos die man genader het, het ek die hondjie probeer stil maak met ‘n angstige stem. Die man het sy hand op my skouer geplaas en gesê ‘Seun, dit is ‘n hond en ‘n hond blaf’. Ek het eers jare later besef wat die man daardie dag vir my probeer oordra het.”
Malles nou byna aan die slaap kry net ‘n “huh?” uit.
Die oom glimlag “Die lewe en alles daarin, sal presies voorkom net soos wat jy dit wil sien”. Met die woorde val Malles in ‘n diepe slaap.
Malles maak sy oë stadig oop en voel hoe die skerp lig sy oë seermaak. Hy kreun effens en begin frons met die wit plafon wat flikkerig in fokus kom. En dan sien hy sy ma se gesig met ‘n sagte glimlag op haar gesig. “Hello Malles, stadig my seun, die dokter sal nou hier wees. Ek het reeds die knoppie gedruk.”
“Ma?” vra Malles vol verwarring op sy gesig. Met die stap die dokter die kamer binne en glimlag vriendelik vir Malles.
“Baie welkom terug Malles” terwyl hy Malles se bloeddruk neem. “Ek weet jy het duisende vra, maar vir nou wil ek vra dat jy net rustig moet wees en ontspan. Kortliks wil ek net solank vir jou sê dat jy sopas uit ‘n koma van ag maande ontwaak het. Jou ouers het jou gekry in jou huis waar jy reeds in die koma was, vir hoe lank weet ons nie. Die oorsaak van die koma ondersoek ons nog, dit is nogal vreemd, maar ek gaan alles nog mooi vir jou verduidelik.”
En Malles verval weer in ‘n slaap.
(word vervolg -> 12 -duim dubbelloop)
(Malles se eienaardige storie begin in Uitheemse sameswering.)
