In Afskeid van Europa lewer Karel Schoeman verslag van sy laaste twee besoeke aan Nederland, Duitsland en Oostenryk gedurende die herfs van 2011 en 2013.

Dit is veral die stede Amsterdam, Berlyn, Dresden, Salzburg en Wene wat aandag kry en ook met Schoeman se vermoë om mense en plekke wat hy waarneem, in woorde tot gestalte te bring. By dit alles is daar ’n ondertoon van heimwee en gelatenheid omdat die skrywer voortdurend bewus is daarvan dat dit werklik sy laaste besoeke is en hy dikwels aan sy ouderdom herinner word: “‘Elderly,’ lees ek op my vliegkaartjie, ‘can’t walk long distance can sit gate close 15 minutes prior to departure.’ Dit is ék.”

Maar afgesien van die element van afskeid, is dit Schoeman se belesenheid en sy vermoë om hede en verlede te skakel wat opval en hierdie boek ’n ryk leeservaring maak. Nie alleen die politieke geskiedenis nie, maar ook die verhale van die gewone mens soos dit in die letterkunde uitgebeeld is, word in verband gebring met die strate, parke, kerke en paleise van die groot stede wat hy besoek. Onvermydelik skryf hy oor die twee wêreldoorloë se impak op mens en omgewing, maar ook die vasberade inisiatiewe om te restoureer en te herstel in stede soos Berlyn en Dresden. Die hede met sy massatoerisme, die gewonde daaglikse gang van sake en veral ook die tipiese geregte van die plekke wat hy besoek, verseker dat die boek vir eietydse reisigers ook relevant is.

Karel Schoeman, een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is reeds talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys, die Recht Malan-prys en die N.P. van Wyk Louw-toekenning van die FAK. Hy is op 1 Mei 2017 oorlede.

Afskeid van Europa / Karel Schoeman — Protea Boekhuis, 10 Julie 2017; sagteband. — ISBN 9781485304708

Bettie Blom,
3 September 2017.
2.5

Lewer kommentaar

Leave a Reply