deur Ferdi Wheeler
Agtergerond
Die Renierversameling bestaan uit meer as ‘n 1000 briewe wat deur Vrystaatse oorlewendes van die Boere-oorlog geskryf is. Die briewe is aan die skrywer van die rubriek, Stop van Myne, Renier, by Volksblad gerig. Renier het die briewe versamel en sommige gepubliseer, vanaf rofweg 1956 tot 1963. Dit is nou in besit van die Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein.
Die ontstaan van die rubriek het ‘n interessante verlede, soos die gevierde joernalis van Volksblad, Herman le Roux, vertel:
Die gewilde rubriek, Stop van Myne, het op Woensdag,18 Mei 1946 die eerste keer in Die Volksblad verskyn. Jannie Kruger, ‘n
senior redaksielid en later redakteur van Die Transvaler, was die eerste skrywer. Hy en Bart Zaaiman, later redakteur van Die Volksblad, het op’n dag voor Die Volksblad-gebou in Voortrekkerstraat gestaan en gesels oor die legendariese Renier de Winnaar van Zastron. Hy was ’n storieverteller, spekskieter en dromer van die eerste water. Hy het werklik bestaan, maar sy stories is “uitgedink.” Jannie Kruger dink Renier moet die skuilnaam wees vir Stop van Myne. Gesels, en lag vir die lewe: om die stroefheid, die lamheid van die Tweede Wêreldoorlog, die beklemming, die deurmekaar-politiek, die ontwrigting, af te skud.
En so ontstaan ‘n geselsrubriek onder die skuilnaam Renier. Giep Joubert het (ná Jannie Kruger) vir ‘n dekade en ‘n half daagliks die rubriek behartig. In die proses het hy ‘n leserspubliek oor die ganse rystaat en ver buite sy grense opgebou met veral stories en staaltjies uit die dae van die Vryheidsoorloë – in ‘n aangename, onderhoudende verteltrant. Joubert het in 1963 afgetree.
Die inhoud van die versameling
Soos Herman le Roux aandui, was die doel van die rubriek Stop van Myne om ‘n ligte aanslag te hê. Daarin het die rubriek bewonderenswaardig geslaag. Veral Johan van Wyk, toe hy die rubriek oorgeneem het, het dit een van die mees gelese rubrieke in die Vrystaat, indien nie in die land nie, geword. Die humor in die rubriek het die lesers laat skaterlag. Maar die inhoud van die briewe-versameling uit die Giep Joubert-era, wat uiteindelik na die Vrystaatse Argiefbewaarplek toe oorgeplaas is, is alles behalwe humoristies.
Hierdie briewe, in hul geheel, is ‘n kroniek van die bittereinders se wel en weë. Die briefskrywers verwys pertinent na hulself as die “wilde Boere”, en praat nie van bittereinders nie. Die briefskrywers, of die vertellers wie se vertellings deur andere getranskribeer is, het die oorlog as kinders, vroue en burgers ervaar. So kry mens ‘n beeld van die oorlog, soos ervaar van klein tot groot. Van die vele perspektiewe in die briewe, kry mens ‘n beeld van die impak van ondermeer die volgende:
-die ongelooflike brutaliteit en barbaarsheid ten tye van die verskroeide aarde beleid van die Britte. Veral vroue en kinders moes dit aanskou. Die wyse waarop vee, skape, beeste, perde – alles op vier bene, keel afgesny, geskiet of doodgeslaan is.
-die wyse waarop vroue deur Tommies beroof is van geld en ander waardevolle artikels wat hulle saam na die konsentrasiekampe toe wou neem.
-die wyse waarop vrouelaers te velde deur die Britte met kanonne gebombardeer is.
-dan die onderlinge bitterheid onder die Boere oor die “verraad” van hul bevelvoerders tydens Generaal Piet Cronjé se oorgawe by Paardeberg en Generaal Marthinus Prinsloo se oorgawe in die Oos-Vrystaat in die Brandwaterkom.
-die ervaringe van vroue en hul families alleen op plase.
-die ervaringe van kinder-soldate, of “penkoppe”.
-die lewe in die konsentrasiekampe.
-die lewe in die krygsgevangenekampe.
Kortweg: ‘n uitgebreide beskrywing van die Vrystaters tydens die Boere-oorlog.
Die ontsluiting van die versameling
Heelwat akademiese artikels is al geskryf, waarin na die inhoud van die Renierversameling verwys word. Maar die argivale ordening en beskrywing van die versameling laat veel te wense oor. Die briewe is bloot deurlopend genommer, soos dit ter hand gekom het, sonder aansiens van datum ontvang, onderwerp, rolspelers, of gebeure. Die versameling behoort dus met behoorlike kontekstualisering grondig georden en beskryf te word.
Dit gesê, moet darem die volgende bygevoeg word: Die hele versameling is egter uit Afrikaans in Engels vertaal. Die eerste 408 briewe het ek vertaal. Die res is met die hulp van Google Translator vertaal. Dit beteken die res van die Google-vertaling, moet nog geredigeer word. Dié program se vertaling is gereeld krom en skeef en by tye bloot komieklik. Die groot pluspunt vir die leser en navorser is dat die briewe getranskribeer is en derhalwe in getikte vorm beskikbaar is. Daar’s dus nie ‘n probleem met die ontsyfering van handskrifte nie.
Slotsom
Die Renierversameling is ‘n kulturele skat. André P Brink het in sy romans soos Hou-den-Bek en Philida gewys hoe argiewe die ruggraat van groot skryfwerk kan vorm. Die skrywers gemeenskap in die land kan dus gerus van hierdie versameling kennis neem. Kortverhaal-, romanskrywer, akademikus en essayis sal daarin verbasende insigte en inspirasie vind.