Nuwe intrekkers op die grondvloer sit in die koelte onder die ou man se palmboom. “Dit was ‘n beknopte potplant wat ek vyftien jaar gelede hier voor die woonstelblok uitgeplant het,” het hy my nog destyds tevrede vertel. Maar dit was sy vrou wat ek dopgehou het. Haar laggende oё en yslike glimlag.
My eerste kennismaking met die ou oom was die dag toe ek hier ingetrek het. Natgesweet en uitasem was ek besig om op ‘n hittige Desemberdag my besittings die drie stelle trappe op te dra. Op te sleep. Skielik was ek bewus van iemand agter my. Hy hét seker gegroet, maar al wat ek kan onthou is sy bewegende mond en die woorde wat hy afgerammel het. “Daar’s reëls in hierdie kompleks. Geen gekuier op die balkon na tienuur in die aand nie. Geen harde musiek nie. Geen parkering op grasperke nie. Moenie eers probeer om jou wasgoed op die balkon droog te maak nie en enige meubels op die balkon moet swart of donkergroen wees. Vir elke oortreding sal jy ‘n boete van R 1 000 kry. Hier is ‘n lys van al die reëls. Lees maar sorgvuldig daardeur … en o, ek sien jy het katte. Geen diere word hier toegelaat nie. Raak ontslae van hulle.”
My hande en arms was vol. My kop was voller, want die kat wat hy my so pas sien opdra het, was Ny Ming. Haar niere was besig om in te gee. Sy was bitter siek. Kon nog net nie die emosionele krag vind om haar te laat uitsit nie. Moeg en moedeloos het ek hom sprakeloos met my kop beduie om die boekie onder my arm in te druk. “Watse horrible ou man,” het ek by myself gemompel toe ek my asem terugkry.
Daarna het ons soms inmekaar vasgeloop. Hy sou groet. Ek het net beleef my kop geknik. Tot die oggend toe my kar nie wou vat nie. Die was so dood soos ‘n mossie en dit was my beurt om by die werk oop te sluit.
Ek moes my trots sluk. Huiwerig maar desperaat, het ek saggies aan sy voordeur gaan klop. “My motor se batterye is pap. Kan jy groot asseblief dalk vir my jumpstart. Ek het jumpers?”
Verbasend vriendelik het hy saam na die kar gestap. “Hoe laat moet jy by die werk wees? Ek kan jou eerder werk toe vat, dan kyk ons later na jou kar?” En daar ry ons toe. In sy groot ou Mercedes. Heeltemal te links, gevoel of ons elke lamppaal net-net mis. Daarna het hy my weer uitgehelp. My kar was oud. Ek en hy in die Mercedes. Al links.
So het ons begin gesels. En wanneer ek sjokolade geneem het om dankie te sê, het ek sy vrou ontmoet. ‘n Kort, vreugdevolle bondeltjie mens. Het haar selde buite gesien.
Toe word my handsak by die werk gesteel. Soos met baie dinge in die lewe sal jy net weet hoe aaklig dit is as dit al met jou gebeur het. Want dis waar dat ‘n vrou haar hele lewe in haar sak ronddra. En jy is jou ID, bestuurslisensie, kredietkaarte, Foschini kaart, alles kwyt. Nadat ek al my kaarte gevries het en ‘n frustrerende draai by die polisie gemaak het om ‘n tydelike bestuurslisensie te kry, het ek huis toe gery. Gelukkig was my bos sleutels nie in my handsak nie.
Baie deurmekaar en vreeslik hartseer het ek by die huis aangekom. Die ou oom was buite. Hy het dadelik onraad gemerk en gevra of hy met iets kan help. Nou in trane het ek hom die storie vertel.
‘n Rukkie later was daar ‘n harde geklop aan my voordeur. Daar staan hy toe met ‘n tjek van R500. “Ek en my vrou wil dit vir jou gee. Jy het geld nodig om jou kaarte en goed te vervang. En ons wil dit nie terug hê nie. En moenie dit weier nie, dan neem jy ons seëninge weg.” So deur die trane het ek besef. Al my kontant was in my handsak en al my kaarte was gevries. Ek hét geen geld gehad nie.
Kort daarna het ek besluit om hulle vir aandete oor te nooi. Daar staan hulle toe by my voordeur. Bottel wyn in die hand. Sommer met die intrapslag het sy al gesels. “Ek drink geen alkohol nie. As ek begin drink, kan ek nie ophou nie. Ek sal eers huis toe gaan as alles in jou huis op is! Moes ook ophou rook. Kon soms nie vinnig genoeg rook nie, dan het ek sigarette geёet,” babbel sy opgeruimd voort. “Meer wyn vir ons,” val haar man haar half doelbewus in die rede. “O hel,” dink ek angstig by myself, “waarin het ek myself tog nou begewe.” “Cokies of sappies,” vang ek myself in die verkleinvorm praat.
Daarna sou ek leer dat sy ‘n verpleegster was. Hy ‘n vlieënier wat hoё-koppe in die ou regering rondgevlieg het. Hulle het drie kinders en hordes kleinkinders. Maar almal woon ver.
Die oom het oorgeloop van interessante staaltjies. Sy sou telkens uitbundig vir sy sêgoed lag. So as of sy dit vir die eerste keer hoor. Sy het ook geskater toe hy my van sy ouers se tragiese dood vertel. Soms sou sy hom sommer in die middel van ‘n sin onderbreek met ‘n heel ander onderwerp. “Jy sal seker dink my huis is vuil. Ek maak nooit skoon nie. Vullis pla my nie.” Sulke van-die-os-op-die-esel-episodes het hom min geskeel. Hy was duidelik gewoond daaraan.
Toe weer, uit die bloute, sonder enige voorbehoud en heel ongevraagd. Op ‘n te vrolike trant. “Ek is ‘n skisofreen … is op chemotherapy.”
Jaaa … sy’t my onkant betrap. Maar terselfdertyd het die stukkies van haar legkaart in plek begin geval. Haar tye van afsondering, die onvanpaste emosionele uitlatings. Die gebroke gedagtegang het nou sin gemaak. Want skisofrene lewe ‘n grenslose bestaan waar hulle en die wêreld een is. Waar die wêreld se gedagtes hulle eie word. Hulle is die wêreld. Al die simptome van Skisofrenie is bloot oorlewingstegnieke. Desperate pogings om ‘n oorweldigende toevoer van stimuli te filtreer.
Ek moes die stilte verbreek. “Dis nou heel toevallig,” hoor ek myself praat. “My destydse prof. in kliniese sielkunde het gespesialiseer in hierdie siekte. Moes baie eksamenvrae en -projekte oor skisofrenie doen. Sy slotsom was dat skisofrene sensitiewe, kwesbare mense is wat dit moeilik vind om die pyn van die lewe te verwerk.”
Met ‘n groot glimlag het sy haar kop goedkeurend geknik. “Ons is gemaan om julle ekstra sagkens te hanteer,” voeg ek by. Hiervoor het ek ‘n drukkie gekry. En dit sou die begin van ‘n baie eienaardige, tog spesiale vriendskap wees.
Verder het ons lekker gesels en geёet. Ons het selfs telefoonnommers uitgeruil vir as ons mekaar nodig sou kry.
Daarna sou ons gereeld saamkuier. Tot lank na tien op die balkon. Hulle het selfs vir my katte lief geraak. Met verloop van tyd het ek begin agterkom dat die oom homself herhaal. “Hierdie palmboom wat al amper so hoog soos jou balkon is, het ek jare gelede hier voor die blok uitgeplant. Die wortels was heeltemal gekoek in die klein potjie.” Sy weer het met rukke stilstuipe gekry. Sou ons onderlangs soos ‘n stout kind sit en beloer. Dan het haar oё verhard. Verdonker. Sy het ook soos haar huis begin lyk. Onversorgd.
Een middag toe ek tuis kom, was die oom vinnig daar om te help met die Pick ‘n Pay sakke. Sy oё was rooi en waterig. “My seun is vanoggend oorlede. Hy was maar net twee-en-veertig. Hulle sê dit was ‘n aneurisma.” Op die eerste stel trappe het hy gaan staan. “Het ek jou al vertel, my seun is vanoggend oorlede. Hy was maar net twee-en-veertig jaar oud. Hulle sê dit was ‘n aneurisma.” Dit het hy op die tweede en derde vlak weer herhaal. Hy was nie meer net ‘n vergeetagtige ou man nie. Sy kind se dood was die hupstoot na volskaalse Alzheimer’s. Sy weer het haarself heeltemal afgesonder.
Besorg het ek hulle weer oorgenooi. Hy het ekstra lekker gekuier. Letterlik elke twintig minute dieselfde storie vertel. Sy was anders. Haar oё was strak. Nie ‘n sweempie van ‘n glimlag nie. Het ons agterdogtig beloer en geweier om die bord kos voor haar te eet. Paranoia sou maak dat sy niemand om haar meer vertrou nie. Sy was duidelik onder die waan dat die wye wêreld teen haar was.
‘n Klompie dae later het ek mismoedig gekyk hoe sy swaar imbuia eetkamerstoele by die voordeur uitdra. Al om die blok loop om die stoele agter by die skuifdeur in te bring. Kompulsief. Oor en oor. Sy het skelm gesluip, kop af, in haar eie wêreld. Het niemand raakgesien nie. Ek het haar ook die vullis sien uitneem. Sy’t ompad geloop, al teen die muur af. Hallusinerend gebuk om goed wat nie bestaan nie, op te tel.
Kort daarna toe ek by die huis kom, was die oom besig in sy motorhuis. Hy het na my gestap, sy hand uitgesteek om homself bekend te stel. “Waar woon jy?” het hy vriendelik gevra. Alzheimer’s was in volle swang.
Ek was verlig toe ‘n motor met ‘n Gauteng-nommerplaat opdaag. Gereken dis die kinders wat kom help. Gedink ek sal na werk vinnig inglip om met hulle te gesels, maar ek was te laat. Toe ek tuiskom, was die woonstel leeg. En hulle was weg. Niemand hier rond het inligting gehad nie. So het die plek vir maande leeggestaan. Tot nou …
“Hallo,” mompel ek verskrik terwyl ek amper oor ‘n vrou wat om die hoek teen ‘n muur sit en rook, strompel. “Hallo,” groet ek sommer weer. Sy steek die sigaret onder haar bene weg.
“Is jy die nuwe intrekker? Waar is die ou mense?” oorlaai ek die vrou met vrae. “Nee, my ma en pa het hier ingetrek. My ma het kanker, so ons het ‘n grondwoonstel gesoek. Sy is te swak om trappe uit te klim.”
“Jammer. Dis erg … en die ou mense?” vra ek gretig. Sy skud haar kop links en regs. “Hulle is nie lekker nie,” sê-vra sy staroog. “Hulle dogter het hulle weggeneem.”
“Dis goed, hulle is nie lekker nie,” beaam ek. “En dankie, ek is bly hulle is okay,” babbel ek dubbelsinnig. “Sterkte vir jou en die gesin.”
Met ‘n swaar gemoed klim ek die trappe na my plekkie uit. My maatjies is weg. Ek het nie eers kans gekry om te groet nie. Nie dat hy my meer geken het nie. En vir haar was ek een van die vyande.
Later op die balkon, wanneer ek die vleis op die vuur omdraai, sien ek die nuwe intrekkers. Hulle sit in die koelte onder die ou man se palmboom. Die ma dra ‘n doekie vol pienk blommetjies op haar kop. Sy sit inmekaar. Bleek, met donker sirkels onder haar oё. Die lippe is helder pienk geverf. Sy kry besoekers. Almal is sedig. Hulle neem afskeid.
Ek loer af en sy kyk op. Sy glimlag. Nie vir my nie, maar vir my orige katte wat nuuskierig en skaamteloos deur die openinge van die balkonmuur hang. Staar. “Nee man,” skel ek saggies.
En daar bly hulle sit. Tot laat aand. Onder my ou vriend se palmboom. “Dit was ‘n beknopte potplant wat ek vyftien jaar gelede hier voor die woonstelblok uitgeplant het,” hoor ek sy stem. Maar dis vir haar wat ek voor my sien. Die laggende oё en yslike glimlag. Heeltemal te kwesbaar in haar grenslose bestaan.

Dis hartseer hoe “siekte” n mens so kan “verander”