Na ʼn onderbreking van twee jaar weens Covid-19 inperking, vind die Eseltjiesrus Boekefees weer plaas vanaf Donderdag 16 tot Saterdag 18 Junie. Dié bielie van ʼn boeke-verkoping word vanjaar by die Oos-Kerk Saal in Robertson gehou vanaf 09h30 tot 16h00 op hierdie betrokke datums.

Vanjaar word ʼn magdom boeke – meer as 14,000 – aangebied waarvan sowat die helfte splinternuut is. Dit is al beskryf as “die grootste Boekemark in die Wes-Kaap” met vragte vol winskopies. Skaars en buitengewone boeke, kinderboeke, kookboeke, reisverhale, geestelike boeke, fiksie en nie-fiksie – noem maar op, dis daar!

Dit totale opbrengs van hierdie geleentheid word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg. Eseltjiesrus bied vir hulle ʼn permanente en veilige tuiste.

Donkies word gereeld gespot en geminag, maar ten spyte hiervan is hulle saggeaard en herken hulle swaarkry in mense. Hulle leer die mens gedurig dat nederigheid ʼn teken van krag is, eerder as ʼn swakheid. Musieklegende David Kramer het kort na die ontstaan van Eseltjiesrus in 2008 ingestem om Beskermheer van hierdie besonderse donkie-oord te wees. Kramer het onlangs die liedjie “Donkiehemel” geskep en opgeneem om bewustheid te skep van die lot van werkende donkies asook die welsynswerk wat by Eseltjiesrus naby McGregor plaasvind. Die liedjie is op wêreld donkie dag 8 Mei bekendgestel.

Boekefees help donkies
Boekefees help donkies

Lewer kommentaar

Leave a Reply