Donkies is dalk nie vir baie mense hoog op die belangrikheids rangorde nie – behalwe vir dié wat steeds vir hulle daaglikse bestaan afhanklik is van hierdie hardwerkende diere. Tot vandag toe vervoer duisende donkies nog goedere, boumateriaal, vullis, water en kos vir hulle eienaars. Eseltjiesrus naby McGregor is 16 jaar gelede gestig toe die nood besef is vir eerstens, ʼn veilige hawe vir afgeleefde, verwaarloosde donkies en tweedens, die noodsaaklikheid van bewusmaking van hierdie diere se merkwaardige eienskappe, soos getrouheid en nederigheid.

Musieklegende David Kramer het kort na die ontstaan van Eseltjiesrus in 2008 ingestem om Beskermheer van hierdie besonderse donkie-oord te wees. Dr Johan van Zijl, voorsitter van die Eseltjiesrus Raad, stel dit so: ‘Dit was ‘n eer om hierdie gevierde en wyd gerespekteerde musiek- en teaterpersoonlikheid te betrek vanaf die ontstaan van Eseltjiesrus.” “Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir donkies gehad,” sê Kramer. “As kind het ek hulle gereeld donkiekarre sien trek, daar is op hulle geskree en hulle is geslaan. Hulle het altyd so moeg en verwaarloos gelyk. Dit was vir my onregverdig dat hulle so mishandel is.”

Kramer het die liedjie “Donkiehemel” geskep en opgeneem om bewustheid te skep van die lot van werkende donkies asook die welsynswerk wat by Eseltjiesrus naby McGregor plaasvind. Hy gesels oor die oorsprong van die liedjie: “Toe ek onlangs Eseltjiesrus besoek het was daar `n voorstel dat ek ‘n liedjie vir hulle skryf. Aanvanklik kon ek my nie indink wat ek oor donkies sou sing nie, maar die volgende dag het ek die transformasie by die meeste van hierdie diere gesien. Dit het by my opgekom dat Eseltjiesrus vir ‘n mishandelde donkie soos die hemel moet lyk. Toe ek eers die idee gehad het, het die liedjie redelik maklik gekom!”

“Donkiehemel” is op wêreld-donkiedag 8 Mei bekend gestel. “Dié treffende liedjie sal beslis lank benut word om ‘n groter bewustheid te skep van die belang en behoeftes van donkies,” vertel Annemarie van Zijl, medestigter van Eseltjiesrus. Hierdie besonderse toevlugsoord vir donkies is orals bekend in Suid-Afrika en is ook deel van gefokusde groepe van donkie welsynsprojekte in 22 lande suid van die Sahara. Annemarie van Zijl is ook die redakteur van Donkeys for Africa: ʼn tydskrif- projek wat kommunikasie oor donkie-sake dwarsoor Afrika bevorder. Deur inligting te deel oor projekte en gemeenskaplike uitdagings, word donkies oor die hele vasteland se behoeftes beter verstaan. Gelukkige donkies kan beter werk, en dit beteken tevrede eienaars, sodat almal se welvaart baat.

Spesiale nota: Boekliefhebbers kan ook uitkyk na die Eseltjiesrus Boekefees wat vanjaar van 16 tot 18 Junie by die Oos Kerk Saal in Robertson gehou word. Duisende nuwe en tweedehandse boeke sal te koop wees ten bate van die donkies by Eseltjiesrus. Meer inligting by: www.donkeysanctuary.co.za

Donkiehemel

Die liedjie is ook beskikbaar by:  www.donkeysforafrica.org/dk.mp3

Eseltjiesrus Donkey Sanctuary

www.donkeysanctuary.co.za

www.donkeysforafrica.org 

Facebook: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary | Facebook

Donkiehemel lirieke

Op en af het ek karretjies getrek

My hele lewe lank hard gewerk 

My hare vuil en my pote vergaan

Koue winternagte moet ek buite staan

Elke jaar was ek hard geslaan

Kos was min en my oë het getraan 

Toe raak ek oud en bang ek gaan vrek

Kom Eseltjiesrus en hulle het my gered

Dis ’n Donkiehemel

Waar ek nou bly

Hier kan ’n donkie heeldag

Rondloop en wei

Donkiehemel. Kan julle glo 

Tussen die berge van die Klein Karoo 

Tortelduiwe, Eende op die dam

Hier’s mense hier wat my hare kam

Eseltjierus dis donkie se kontrei

Naby McGregor. Kom kuier hier by my.

Koor

David Kramer

© Blik Music 2022

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply