Geluk by die ongeluk

Die son bak al klaar ongenadiglik toe Emma haar splinternuwe liggroen Corolla voor die winkel parkeer en seker maak die handrem is op. Haar vingers gly oor die duikie bo in die modderskerm. Die vorige aand met die sagtebal-wedstryd, het een van die balle sy koers byster geraak en op haar motor beland. Nodeloos om te noem hoe omgekrap haar gemoed was omdat die motor nie eers 500 km agter die rug het nie. Dit is maandeinde by die betrokke groothandelaar waar sy die pos van assistant-bestuurder beklee en sy sien glad nie uit na die lang dag vol syfers wat voorlê nie. Van haar personeellede het al hul opwagting gemaak en wag vir Emma om oop te sluit sodat hulle die winkel kan uitvee en in gereedheid kry vir die dag.


Emma deaktiveer die alarm en sluit die dubbel-slotte oop. Sy het skaars haar kantoor bereik of daar is ’n oorverdowende slag buite en ’n stofstorm borrel by die hoofingang in wat sy pas geopen het. Almal steek eers in hul spore vas en storm dan na buite om vas te stel wat die geraas veroorsaak het. Emma bereik egter eerste die deur en probeer die toneel voor haar opsom deur die stof. Haar Corolla is nie meer voor die deur nie en sy gewaar die rooi voertig wat op sy kant lê net links van die hoofingang. Dan merk sy haar motor op waar dit teen die groot afleweringsvoertuig staan met sy voorkant na haar gekeer. Sy maak eers seker dat die passasier van die rooi voertuig nie beserings opgedoen het nie, maar hy sit op die grond kop onderstebo en mompel in ’n vreemde taal. Drankwalms omhul die voertuig en pap met hoenderpote lê oral rondgestrooi.

Sy beweeg stadig na waar haar motor tot stilstand gekom het en merk dat dit nie veel skade opgedoen het te oordeel na die linkerkant wat na die gebou wys nie. Dan stap sy om na die regterkant en die volle omvang van die skade tref haar met ‘n uitklophou. Sy sien die uitdrukkings op haar personeel se gesigte, waar hulle kopskuddend die toneel gade slaan. Die totale regterkant van die motor is opgefrommel en Emma sak op haar hurke in ’n histeriese posisie neer. Sy gaan onbedaarlik aan die huil en omstanders probeer tevergeefs troos. Die rooi motor se bestuurder het terwyl hy in sy dronkenskap, teen ’n hoë spoed en ontbyt terselfdertyd prober nuttig het, uitgeswaai vir ’n motor voor hom, die Corolla teen sy regterdeur getref, dit vier meter sywaarts geskuif, waar dit omgeswaai en met die agterkant teen die afleweringstrok gebots het.

Toyota Corolla
Toyota Corolla
Emma weet nie hoe lank sy daar deurgebring het nie, maar besef dat sy inderhaas ’n paar oproepe sal moet maak. Sy skakel eerste haar man, wat met moeite prober verstaan wat sy sê want sy huil wee onbedaarlik. Hy beloof haar egter dat hy onmiddellik vertrek en binnekort by haar sal aansluit. Dan skakel sy die polisie en hulle is binne enkele minute op die toneel omdat hulle net vêrder in die straat af gestasioneer is. Sy is nog besig om haar verklaring af te lê, toe haar man sy opwagting maak. Sy storm in sy arms in en probeer deur die snikke verduidelik wat gebeur het. Hy wil egter weet of sy nie beserings opgedoen het nie, waarop sy hom verseker dat sy die botsing met twintig sekondes gemis het en ongedeerd daarvan afgekom het.

Sy hervat haar verklaring en haar man stap na hul motor om die skade gade te slaan. Emma sluit later by hom aan en snik nog onbedaarlik waar sy weer ondersteuning in sy arms opsoek.
Hy stap om na die linkerkant en druk met sy piesangtros-vinger op die plek waar die bal die duik veroorsaak het en met ’n glimlag om sy lippe deel hy haar mee: “My vrou dis net wêreldse goed, die assuransie sal uitbetaal en dankie Vader jy is ongedeerd maar sien die positiewe hierin- kyk- die duik is uit wat die bal gemaak het” en toe stroom haar trane!

Lewer kommentaar

Leave a Reply