Gert Vlok Nel is ‘n mite, ‘n randfiguur en ‘n legende wat ironies genoeg, waarskynlik baie hoër ge-ag word in Europese literêre en musikale kringe as in sy eie land.
Hierdie troebadoer, digter en musikant is gebore in Calvinia en het groot geword in Beaufort-Wes as een van ag kinders. Hy het die lewe al ervaar in al sy vlakke … as student op Stellenbosch, as spoorwegklerk in Bellville, as toergids in die Kasteel, as sekuriteitswag op ‘n kampus, as busker op straathoeke en as ikoon voor uitverkoopte gehore in van Suid-Afrika, Nederland en België se voorste teaters.
In 1993 het hy sy debuut digbundel ‘Om te lewe is onnatuurlik” gepubliseer, en in 1995 het dit die Ingrid Jonker Prys verower. In 1995 word sy vertoning “Om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat” beskryf as een van die beste “shows” ooit op die fees. In 1998 verkyn sy CD met dieselfde naam met liedjies soos “Rivier”, “Beautiful in Beaufort-Wes” en “Waarom ek roep na jou vanaand”. Hierdie laaste liedjie het gehandel oor die dood van Koos du Plessis, ‘n groot invloed in sy lewe. Die liedjie “Beautiful in Beaufort-Wes” is al deur meer as 15 top kunstenaars opgeneem.
Party mense beskryf Gert as ‘n swerwende troebadoer met ‘n kitaar … Suid-Afrika se antwoord op Bob Dylan en Tom Waits. Sy uitkyk op die alledaagse lewe is soms radikaal anders as gewone mense s’n … en dis juis sy vermoë om verbloemde waarhede met eenvoudige, treffende taal oor te dra, wat mense so diep raak.
Saterdag, 28 November 2015
Ou Meulteater, Paarl
20h00
R120.00
Bespreek by 083 564 00 56 / vicky@oumeulteater.co.za

