Horrelpoot: ’n reis wat die donker menslike siel oopkloof


Na sy debuutbundel Witblitz, het Eben Venter se opvolgromans ’n paar hande vol pryse losgeslaan, onder andere die WA Hofmeyr-prys vir Foxtrot van die vleisvreters, Ek stamel, ek sterwe, Begeerte, en Santa Gamka. Laasgenoemde is ook hierdie jaar by die ABSA KKNK bekroon met die Kanna vir die Beste Debuutwerk en die Herrie Kanna vir Kopverskuiwende werk. Sy werk is al in Duits, Engels en Hollands vertaal en Trencherman, die Engelse vertaling van Horrelpoot, is in 2009 vir die Sunday Times South Africa Prize genomineer. Venter emigreer in 1986 na Australië en sy “Australiese romans” het ’n eiesoortige beskrywing van Suid-Afrika en die posisie van die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika. Hy is op ’n skaapplaas in die Oos-Kaap gebore en die verbintenis met sy plaasverlede kom veral in Horrelpoot voor.

Horrelpoot volg in die voetspore van Joseph Conrad se Heart of Darkness. Horrelpoot het groot reaksie uitgelok met die distopia van die toekomstige Suid-Afrika en die apokaliptiese wyse waarop Suid-Afrika verval. Die roman handel oor Martin Jasper Louw/Marlouw wat vanuit Suid-Afrika na Australië emigreer en as pottesmous werk. Hy word jare later deur sy suster, Heleen versoek om terug te keer na hulle familieplaas in Suid-Afrika en haar seun, Koert te gaan haal.

Met Marlouw se reis terug na Suid-Afrika, word die leser by ’n vloeiende stroom beskrywings ingetrek en dryf saam met Marlouw tussendeur die vervalle Bloemfontein, Smithfield en oorbevolkte bruin en swart mense. Die wittes wat oorgebly het, is desperaat, korrup of mal. Met Koeberg wat ontplof het en die lugdienste wat nie meer direk na Suid-Afrika vlieg nie, word die leser alreeds vroeg in die verhaal met ’n onderbewuste ontnugtering gekonfronteer.

Die gebeure is op ’n toenemende ritme gefragmenteer met aktuele kwessies wat die leser laat voel dat hy besig is om ’n dokumentêr in plaas van ’n fiktiewe roman te lees. Venter krap aan die mens se onderdrukte vrese en daarom die ongemaklikheid vir sommige lesers. Is hierdie roman ’n te donker toekomsbeeld van Suid-Afrika? Ek gaan nie doekies omdraai nie, hierdie roman is nie vir lesers sonder ’n olielaag op hul vel nie. Venter berei ons voor op die ergste. Die leser worstel met bestaande probleme van dienslewering, vigs en korrupsie wat as spil dien van die innerlike boosheid van die mens. Die leser kan nie help om ’n ondertoon van William Golding se Lord of the Flies te herken nie, aangesien hy deurlopend konflik tussen goed en kwaad ervaar.

Simboliek en beelde word fyn tussendeur feite geweef. Koert word as ’n groteske walgfiguur uitgebeeld wat die omstandighede van die land aanspreek:

Horrelpoot, Eben Venter
Horrelpoot, Eben Venter
“Hier is die beliggaming van die vrees van al ons voorgeslagte. Die vrees dat die man met die mes by die bed van die voorvader die oorhand sal kry en dat daar niks van ons gaan oorbly nie: hier is dit nou, die niks, in groot maat. ’n Misbaksel wat net ’n spoegie van die oorspronklike taal behou het.”

Marlouw en Koert se ontmoeting strek oor ’n uitmergelende 18 bladsye waar Koert in ’n onbekende brabbeltaal praat; ’n mengsel tussen Afrikaans, Engels, Duits, Nederlands en ongeletterde isiXhosa wat waansin en vernietiging voorstel- dalk ook die vernietiging van Afrikaans. Die leser lees moeilik aan Koert se uitlatings en elke woord skok al hoe meer. Dis hier waar ons vra, wie is die werklike Horrelpoot? Maar dis ook hier waar Marlouw die eintlike doel van sy reis erken. Met sy horrelvoet, die teken van Marlouw se Oedipale kompleks, is hy oral ’n randfiguur vir wie vervreemding ’n lewenswyse geword het. Teen die einde versoen die afgetakelde “Marlo’tjie” egter met sy identiteit as buitestander. Hierdie aanvaarding kontrasteer duidelik met ander hoogtepunte in die roman, en die leser vereenselwig met Marlouw se selfaanvaarding.

Vleis, ’n bekende motief in Venter se romans, beeld in Horrelpoot die menslike magsgierigheid en desperaatheid uit. Vleis is mag en Koert se magsposisie is te danke aan sy vleisvoorraad. Die blatante omkoop met verbruikersgoedere soos goue Nike-skoene en elektroniese toerusting, demonstreer op die materialistiese eienskappe van die mens en die oppervlakkige verbruikerskultuur.

Venter erken in ’n onderhoud dat hy “die vrese van sy lesers wou blootlê” en dit vir hom belangrik was om te demonstreer hoe vrees “op ’n psigologiese vlak werk.” Dis presies wat hy hier doen. Venter ontbloot blanke vrese vir die toekoms oor wat met Suid-Afrika kan gebeur indien maatskaplike probleme die land oorheers. Koert dien as vergestalting van hierdie vrees: “ekke is julle-se fear.”

“Met Horrelpoot bereik Eben Venter ’n nuwe hoogtepunt.” Beslis. Met hierdie roman plaas Venter die begin en einde (van die aarde en mensdom) langs mekaar. Sy roman eindig waar die aarde met net stof agtergelaat is en al die mense uitgewis is. Waar daar mense is, is daar onreg en vernietiging, terwyl die natuur suiwer is. Venter laat nie net die Afrikaner nadink oor sy posisie in die land nie, maar hy voed die stukkie vrees in elke mens wat later net dalk in waansin kan verander.

Horrelpoot / Eben Venter — Tafelberg, 2006. ; sagteband. — ISBN 0624044629

Horrelpoot: ’n reis wat die donker menslike siel oopkloof,
Bea Lingenfelder,
26 Mei 2015.

4

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar