Kersfees

‘n Stowwerige sak word versigtig uit die hoogste kas in die huis gehaal. Nog voor dit die grond raak, duik ek in. Van ‘n afstand om meer spoed op te bou. Glyend tussen blink balletjies word ek opgeraap. Verskree. “A-tjoe!” nies ek terwyl my boudjies balkon toe wikkel. Dis time out … ‘n Gekap dwing my om te loer. Hulle spyker ‘n krans op die voordeur vas. ‘n Verlore wolk druk in voor die son. Dié skuil vir ‘n oomblik.


Die volgende dag sleep ouma Dusty ‘n vars groen denneboom by die voordeur in. So terloops die kleinkind noem haar ouma Dusty. Nie omdat sy oud en grys is nie. Mmmm … dalk ‘n bietjie oud, maar daar is mos haarkleur. Hoor nou hier. Nadat die dogtertjie “Mamma” en “Pappa” baasgeraak het, was haar derde woord “Dusty”. Dis nou mý grys naam. Sy is mal oor alle katte, maar vir my kan sy vryf en vashou. Vir ‘n tyd lank was alle katte Dusty. So het sy na my ma begin verwys as ouma Dusty.

Om terug te kom na die denneboom. Vir ‘n kat wat in ‘n woonstel bly, is ‘n vars boom soos manna vir ‘n honger siel. Daar is lewe na die dood! Ek snuif saggies. Die naalde steek maar dit keer my nie. Vinnig kou ek aan ‘n takkie voor ek verjaag word. “Moenie!” word ek met die hand beduie.

Te midde van Boney M se “Silent Night, Holy Night” word die balletjies in die boom gehang. Met blitsvinnige pootjies slaan ek hulle soos ‘n bokser sy slaansak bydam. Die flitsende liggies toor my kop om vanself heen en weer te draai. Ek word met ‘n kwaai stem vermaan om van die boom weg te bly. So ook die dogtertjie wat besig is om haarself agter die boom te versteek, sodat almal moet vra of sy dan nie vandag saamgekom het nie. Ek speel ook soms daai speletjie, maar wanneer ék my kop wegsteek, kan niemand my lyf sien nie. Al singend waggel sy weg, “twinkle twinkle little tar, mmmm are mmmmm high mmmmm skye”. Die blink ster bo-op die boom vang ‘n sonstraal. Verblind ons. Vir ‘n rukkie is alles in duisternis gehul.

In die kombuis begin hulle kos voorberei. My ma skud haar kop. “Kan beswaarlik glo dis môre Kersfees. Kan nog laas Kersfees ruik. Waar vlieg die tyd tog?” Niemand antwoord haar nie. Dis nóú my kans. Ek sluip na die sitkamer. Trots kry ek dit reg om ‘n balletjie van die boom af te kap. Ek jaag dit rond oor die teëls, totdat dit hartseer onder die bank verdwyn.

Hulle werk hard. Daar kom glo baie mense vir die feesmaal. Die potte stoom en die reuk van vleis walm deur die huis, tot binne my snuifende neusgate. Ek krul om hulle bene vir aandag. Tevergeefs miaau ek vir ‘n stukkie vleis. So tussendeur word die tafel pragtig gedek. Die kristal glase word uit die kas gehaal. Blink gevryf. ‘n Bak met rooi Poinsettias kom in die middel van die tafel. My kat boetie hou van blomme so ons word nogal met die wysvinger gesê om van die tafel af te bly. Maar ek kon seker nie eers drie getel het nie. “Eina op tafel!” gil die dogtertjie. Sy noem my boetie Eina, omdat hy haar soms raps. Eina skrik groot. Hy verander in ‘n warrelwind wat die tafel verwoes. Ek laat spat. Kruip onskuldig langs Eina onder die bed weg. Dis time out.

Teen sononder is almal pootuit gewerk. Die dogtertjie se ma sak moeg op die rusbank neer. Sy lig haar skouers. “Sjoe, my rug is erg seer,” sê-vra sy in haar man se rigting. Hy vang die skimp en vryf die knoppe weg. Dis verby die dogtertjie se slaaptyd. Sy huil knaend. Ferm word sy herinner dat Vader Kersfees vanaand kom. “Net soet kinders kry presente.” Dit tel in my guns. Weet nie mooi van Eina nie. Die volgende oggend heers daar groot opgewondenheid soos die gaste arriveer. Sommige styf en dors van ver ry. Oor en weer wens hulle mekaar ‘n geseënde Kersfees toe. Die jaarlikse drukkies en soentjies word uitgedeel. ‘n Seuntjie vra sy ma hoekom hulle Kersfees vier. “Dis Liewe Jesus se verjaarsdag,” sê sy met ‘n skynheilige glimlag. Nou wonder ek net waarom daar nie ‘n plek vir Jesus aan die tafel gedek is nie. Hy is immers die birthday boy! Waar is Sy kroon? Die oulike seuntjie wonder seker ook, want hy vra sy ma waar Jesus woon. “In die Hemel,” kom die half ingedagte, half geïrriteerde antwoord na ‘n paar minute. “Nog ‘n glasie wyn asseblief?”

Ten minste verstaan ek nou beter. Die Hemel klink baie ver. Dis in ‘’n ander land. Die vliegtuie was seker vol. Of deesdae met die prys van brandstof kon Hy dit seker nie maak nie.

Die tafel huil onder die kos. Dit ruik maag grommend lekker en almal smul behoorlik. Die half donker vertrek word vol met musiek.

“Betlehem ster, o lieflike ster”. Hulle drink en lag en skinder. Veral oor een van hulle ouer kennisse wat swanger is. “Sy sê sy weet nie hoe dit gebeur het nie, dat dit ‘n wonderwerk is!” lag iemand. “Ai, en dit op haar ouderdom. Laat my wonder, het julle al julle nuwe kleinding geregistreer?” vra sy vir die vroutjie met die bitter klein babatjie. “Ons het darem ‘n week kans,” antwoord sy, “met al die vakansie dae is dit moeilik om daar uit te kom.”

Nadat almal klaar geёet het, word daar tussendeur “o’s” en “a’s” en aangeplakte glimlaggies geskenke oopgemaak. Daar is niks vir my of Eina onder die boom nie. Ook nie vir Jesus nie. Ek dog dan dis Sy verjaarsdag?

Die denkende seuntjie se vraag of Jesus Kersfees in die Hemel vier, val op dowe ore. Almal is te besig om gelyktydig te babbel. Eintlik praat almal met hulleself, maar gelukkig kom niemand dit agter nie.

Nagereg en koffie word bedien voor die gaste huiswaarts keer. Soos hulle kar toe loop, hoor ek die kleinkind haar ma na-aap, “rug … seer … erg …” Sy kan maar vanaand vergeet van ‘n rugvryfie.

“Sjoe, dit was ‘n wonderlike Kersdag! Nou moet ons net in die bed kom. Môre is nog ‘n besige dag,” sê my naamgenoot. Hulle maak reg om te gaan slaap. Eina krul om hulle bene. Ek lê op my rug met my voetjies opgetrek. Die idee is om oulik te lyk. Aandag te kry. Die ligte gaan af. Kan jy nou meer, hulle het die dag so geniet dat hulle sowaar vergeet het om vir ons kos te gee? Ek is nie eens geborsel nie. Sal maar met knoetse moet slaap.

Eina spring op die wasbak. Ek hoor hom kners aan beentjies wat hy op die vuil borde uitsnuffel. Hoop nie hy hoes nou weer heelaand nie. Ek kry ‘n slaapplek op ‘n bondel strooi wat ‘n breekbare present beskerm het. Lê soos ‘n skaap by sy krip. Verwaarloos en uitgeworpe, tussen opgefrommelde, geskeurde geskenkpapier. Die punt van my stert piets vies teen ‘n lintjie. Die balletjies op die boom lok my nie vanaand nie. Hulle blink minder. Twee tandestokkies op die vloer vorm ‘n kruis.

Eina staan op twee agterbene voor die boom. Mik een keer en woeps spring hy op. Die klip in die emmer wat die boom regop hou, rol om. Rol weg. Die boom tuimel en val karplaks op die vloer. Stukkende balletjies skarrel oor die teëls. Water drup, drup, drup van die geknakte takkies. Met groot oё sluip Eina op sy maag rond. Hy verdwyn agter die bank. Time out.

Soet lệ ek opgekrul op my strooi bedjie. Ek sukkel om aan die slaap te raak. Ek dink aan die onverwagte swangerskap. Wys jou, wonderwerke gebeur nog! Ek hoop ook die jong vroutjie onthou om haar pasgebore baba te registreer. Dink ook ek voel skuldig. So hard het ek probeer om ‘n stukkie van Kersfees te kry, dat ek skoon vergeet het dat dit Jesus se geboortedag is. As ék so afgeskeep voel, wonder ek hoe voel Hy? Uit meegevoel begin ek saggies miaau, “veels geluk Liewe Jesus omdat Jy verjaar, mag die Here Jou seёn en nog baie jare spaar.”

Meteens sien ek ‘n verskietende ster wat die hele hemelruim helder verlig. En dis ‘n gekwetter soos slapende voëls wek en hemelwaarts vaar.

Klein spiertjies in my lyf begin skiet, sodat die hare op my lyf in bondeltjies saamtrek. Amper soos ‘n kat wat vlooie het. Ek ril. Dit voel omtrent asof iemand oor my graf loop …

Vir ‘n oomblik voel dit of ek nie alleen is nie. Maar dis net die geritsel van die blare in die wind. Die gekwaak van die paddas in die dam. Die gedruis van die see wat opkom. Die gedrup, drup, drup van water uit die letsels van ‘n lewelose boom.

En die half verligte vertrek word vol met ‘n vredevolle ge-purr …

kersfees kat

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply