In Laat daar lig wees kyk Fred Mouton na bekendes uit ‘n ongewone hoek.
“Sekere mense teken so lekker, jy hoop hulle bly vir altyd lewendig, want hulle het gesigte wat ‘n mens kan waardeer.”
Mouton, spotprenttekenaar vir Die Burger en Weg, onthou veral gesigte soos dié van die voormalige VP-leier, sir De Villiers Graaff, die voormalige KP-leier, mnr. Andries Treurnicht (wat hy graag as skilpad uitgebeeld het), mnr. Colin Eglin, ‘n voormalige DA-LP, en natuurlik pres. Robert Mugabe van Zimbabwe.
Mouton, wat in Constantia en Wynberg grootgeword het, het in 1970 vir Die Burger begin werk ná sy studie in grafiese kuns aan die Kaapse Technikon. Hy het nie onmiddelik spotprente begin teken nie, maar het eers bladuitleg gedoen. In 1972 het hy saam met Die Burger se spotprenttekenaar van daardie tyd, die bekende T.O Honiball, begin werk. In 1976 het hy by Honiball oorgeneem en ook deeltyds spotprente vir Rapport en Landbouweekblad geteken.
Laat daar lig wees
Hy is in 1983 in ‘n Standard Bank-kompetisie as spotprenttekenaar van die jaar aangewys, en in 2000 het hy die P.J. Cillié-medalje vir kreatiwiteit in joernalistiek ontvang.
Mouton, wat sy hele loopbaan nog sy eie kantoor gehad het en in stilte alleen kon werk, soos hy daarvan hou, het gesê hy geniet na al die jare steeds sy werk en dink nog nie regtig aan aftree nie. Sy werk word as artistieke meesterstukke beskryf. Ken Vernon het in die boek, Penpricks, wat oor politieke spotprente handel, geskryf dat Mouton se prente geteken is met die ware kunstenaar se oog vir vloeiende lyne, dramatiese skaduwee en fyn besonderhede. Hy het ook die vermoë om die kwesbare plek van sy politieke teiken te vind en dit spottenderwys aan die kaak te stel.
Oor een van Fred se illustrasies in ‘n uitgawe van Weg wat handel oor ‘n kerkbasaar het Dana Snyman die volgende geskryf. “Jy kan elkeen van daardie karakters in die illustrasie bestudeer, en by elkeen ‘n ruk lank vasval, want die demografie op wie die publikasie gerig is, is bekend met elkeen van daardie karakters – hulle is ook deel van jou wêreld. ‘n Mens kan dus sê Fred het met uitmuntendheid daarin gesl
