Koringlorries se geite met oestyd

Een van die wonderlike tye in Heidelberg, mits die oes goed is natuurlik, is oestyd. Wanneer die koring en gars aangery word na die silo’s. As die lorries staan en dreun en kreun terwyl hul geduldig hul beurt afwag om afgelaai te word, gebeur daar dinge, want dan kuier die boere en drink koffie. Een jaar was daar soveel graan dat die silo’s tot boordens toe vol was. As `n leë treintrok aan die silo kom “drink”, slurp dié weer ‘n lorrie of twee se vrag op. Dit is daar wat die sports begin en die stories vertel word.

Alle jare is nie eenders nie. Sommige jare kom die reën te vroeg in die oestyd en dan swel die pitjies van die ontydige vog. Waar daar `n groot verwagting is, is daar net teleurstelling as elke vrag afgegradeer word tot voergraad en die saaikoste wat aangegaan is, nie gedelg kan word nie. Sommige jare het die reën glad nie gekom nie en dan was die graan ook baie skraal en min. Wilhelm het eendag gesê dat hy nie oes nie, maar die gars moet bekruip en jag om iets in die hande te kry.

Die prosedure is dat die graanlorrie met sy vrag op die weegbrug geparkeer word en een van die hulpe `n monster van die graan neem wat dan deur `n gradeerder beoordeel word. Die graan word gegradeer as saad-, graad- en voergraan. Ek onthou dat een betrokke jaar die graan baie swak was. Alles was ondergraad en die gemoedere was laag. Dit sou ook beslis `n negatiewe invloed gehad het op die kerk se inkomste want sommige van die boere het `n vrag, of die laaste vrag, as dankoffer gegee. Die interessante was dat in hierdie swak jaar daar tog `n paar vragte saadkoring gelewer is en dit slegs op die kerk se naam. Die saadkoring kon nie opgespoor word nie. Ons noem dit nou die gradeerders se tiende! Of `n baie besondere wonderwerk van God!

Oom Happy se seun Piet (Fiets) het plaas toe getrek en pa se werk tydens die oestyd was om die “goue vrag” dorp toe te ry. Die roetine was dat Piet Fiets die vorige aand die vragmotor uit die stroper volmaak sodat oom Hap net langs die lorrie kan stop, oorklim en dorp toe ry om vroeg in die ry by die silo’s te kom.

Terwyl oom Hap die besondere dag met so `n eerste vrag graan dorp toe ry, was hy sommer vies vir Piet wat nou weer `n nuwe lorrie wil koop. Hierdie oue trek nog soos `n droom. ‘n Mens sal die jongmanne moet reg leer, want vragmotors val nie uit die lug nie. By die silo’s aangekom was dit weer inval tot dit sy beurt was om af te laai. Intussen soos wat die lorrie nader kruip, is dit ook lekker om vir tydverkorting so by die gradeerders te gesels en `n oog te kan gooi oor die ander manne se resultate. Oom Hap stop op die weegbrug en loop so ewe die kantoor binne vir `n verdere geselsie. Na `n ruk kom een van die hulpe en vra: “Baas Hap, watter graan moet geweeg en gegradeer word”. “Die’ op die lorrie natuurlik,” was die antwoord so half verergd. Skielik raak die kantoor ongewoon vol boere wat breed glimlag, want die tyding van oom Hap se verleentheid, toe nog vir hom onbekend, het al in die rye voertuie ge-eggo. Toe oom Hap die seil optel, was daar nie `n pit koring op die bak onder die seil nie! Ek kan my net indink hoe oom Hap seker baie lus was om Piet Fiets se tjank af te getrap het oor die verleentheid! Die ou gryse was `n man van integriteit wat maar vir homself moes lag. Hy kon maar ook self onder die seil gekyk het voordat hy gery het. En Piet Fiets? Ek wonder of hy toe sy lorrie gekry het?

Dan is daar die storie van Pannie Fourie en die koringlorrie wat opgeteken moet word. Pannie is een van daardie mense wat jy nie anders kan om lief te hê nie, maar dan moet hy ver van jou af wees. Hy is altyd besig om iemand `n streep te trek. Ek moes ook al deurloop onder hom. Dit was net nadat ek in Heidelberg bevestig is. Dit was skounaweek en Marina, sy vrou,het in die Vrouediensstalletjie gewerk. Hermien was nou die voorsitter en moes daar `n oog gaan wys. Pannie was ook daar! Hy vra my toe of ek nie lus is vir `n stuk melktert nie? Ek meen dat dit twee stukkies van die tert sou wees, maar toe hy opdaag was dit een melktert in twee stukke verdeel. Hy het mos gevra of ek `n stuk melktert wou hê! Sedertdien het ek `n laktose intoleransie, is allergies vir melkprodukte. Wie se skuld was dit?

Nou die einste Pannie het van Waterkloof se kant `n vrag graan kom lewer. Daar is `n vreeslike afdraande op die Witsandpad net voordat dit in die N2 indraai. Pannie vertel my toe dat toe hy so halfpad die bult af is en die lorrie te vinnig na sy sin, voel hy na die remme en daar is niks nie! Daar was groot fout!

“Wat maak jy toe?” vra ek hom. Sy antwoord was: “Ek bid toe”. Logiese vraag was, “Wat bid jy?” Sy antwoord met `n vonkel in die oog. Ek bid toe: “Here, hou asseblief die lorrie regop en ek sal dit in die pad hou!” Ek dink God moes ook lag.

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply