Biduurwagter

Die winter was goed vir die boere, want dit was koud en nat. Koud om die koringluise in bedwang te hou en nat dat die graan kon stoel en die grondslag lê vir sestig -, sewentig- of selfs ‘n honderdvoudige oes.

Daar was een aand ‘n biduur by Piet Horse en Jenny op die plaas in die Bosheuwelwyk, waar ons op ons knieë staan as daar gebid word!

Op pad na die opstal was ‘n toehek. Dit was `n stewige hek, `n bekslaner. Daar was skape aan die een kant van die draad en ‘n jong koringland aan die ander kant. Dit is nou net hier waar die twee hoofgebooie op ‘n plaas skielik in spel kom. Die skape, tweebeen skape, word met die tiende gebod gekonfronteer (is die gras aan die anderkant van die draad nie altyd groener nie). As die hek net oopgaan, is hulle daar om deur te beur na volgende jaar se broodmandjie. Dan is daar die aardsonde van hek laat ooplê as “tweebeen skape” nie ‘n hek goed kan toemaak nie of sommer net propperlies laat ooplê. Van die boer se kant mag dit lei tot die oortreding van die sesde gebod – in gedagte en in daad!

Piet se finesse was dit heel prysenswaardig, want net voordat ek myself kon jammer kry toe ek by hierdie hek kom, het ‘n hekwagter, in die persoon van ‘n opgeskote nageslag van een van die werkers van die plaas in my bakkie se ligkolle opgedoem! Sy taak was om die weerbarstige ooie terug te hou en moes eintlik keer dat die swakheid van die vlees nie kwaaivriendskappe bring nie.

Later die aand, na Woord en gebed, word daar “geboer” op die stoep oor ‘n koppie koffie en ‘n biltongbroodjie in die hand. Na ‘n hervulling van die koppies en die kleinbordjies, lei Pieter ons aandag die donker in toe hy na die hekwagter wys, wat so twee kilometer van ons in die donker sing. Alleen in die donkernat wag hy dat ons weer moet terug deur sy wagpos. Sy vrese het hy verdryf deur kliphard Hallellujas te sing. Juis toe dat die ou gunsteling “Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan” vanuit die donker byna smekend klink.

Luther het gesê dat as jy sing jy tweemaal bid. Was dit uit vrees of uit toewyding dat hierdie stemmetjie bo die skape se geblêr en die donker koringvak opgeklink het? Ek moes myself die aand op pad terug huis toe – na ‘n warm bed, afvra of ek ook in die donker sal sing (bid?) oor die lig wat in my is of dat ek sal sing (twee keer bid) om my eie vrese te besweer. Of die warm bed met Hermien wat vir my wag daarin ‘n groter realiteit as my vriendskap met Christus is.

Hoe kan God ‘n realiteit wees as jy Hom nie kan sien nie? Sien is glo of hoe? Sien jy die wind? Nee, net die gevolge van die wind as die blare ritsel! Is daar niks wat jy in jou lewe aan die werking van God kan toeskryf nie – al sien jy Hom nie persoonlik nie!

‘n Groot jammerte is dat ons soms eers as ons bedreig word, hierdie lewensvrae begin vra. Nood leer bid, beteken dat jy maar kan leef soos jy ook al wil en wanneer dinge skeef begin loop – dan gaan ons kerk toe, gee ons tiendes, beloof ons, bid ons en lees ons ons Bybels en as die uitkoms daar is….

Onthou, om liedere in die donker te kan sing, moet jy die liedere in die lig geleer het. Dit is veel beter om juis in die goeie tye na jou Skepper te soek en in jou verhouding met Hom te groei, sodat as die koue en nat tye om jou toeslaan, jy nie net weet waar jou hulp vandaan kom nie, maar reeds voorberei is vir kom wat wil. Met my God spring ek oor ‘n muur en loop ek ‘n bende storm! En as die dae / tye kom waarin ons “geen behae” het nie: “weet ek op wie ek gebou het en op wie ek vertrou het”.

En as jy eers as die nood druk na God draai en Hy laat jou sy beloftes toe-eien en Hy staan jou dan by – dan besef jy eers wat GENADE is! Genade oordek ons in die sonskyn, in die koue en die reën en ten spyte van ons ongehoorsaamheid. Laat ons dan sing van die genade!

skrywer: Emile de Villiers


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar