Min slapies

My paspoort en visa is in orde. Om dit te bekom, is ‘n storie op sy eie. Hulle wou tot my pa, wat in 1980 al oorlede is, se besonderhede weet. Ek het ook vrede gemaak met die ‘wanted dead or alive’ foto’s … ek vóél immers soos ‘n krimineel noudat hulle met my klaar is.


En ek het ‘n vliegtuigkaartjie. ‘n Regte een. Al is dit net ‘n uitdruk van ‘n epos, nou netjies in ‘n plastieksakkie.

Ek tel die slapies af, want op 15 Desember gaan ek my voordeur vir twee-en-twintig dae lank sluit. Gaan Kersfees en Nuwejaar met my oudste dogter, haar man en my drie kleinkinders deurbring. En ek land net-net betyds om sommer daar te verjaar!

Ek verlang erg. Dis ‘n daaglikse gemis wat deel vorm van my bestaan. Soos ‘n pyn waarmee jy leer saamleef. My dogter kom wel een keer ‘n jaar vir ‘n maand lank kuier. En my skoonseun sien ek elke paar maande wanneer hy met besigheid na Suid-Afrika vlieg. Het hom al in Augustus ingespan om al my aankoms -en Kersgeskenke in ‘n groot tas oor te vat. Hy was minder beïndruk as ek?

Maar my hart klop onnatuurlik vinnig net aan die blote gedagte om weer die kleinkinders te sien … vier jaar is ‘n lang tyd. Eli het nog gekruip op daai aaklige dag toe hulle vliegtuig haar rug op Valsbaai draai. Zoё was net ‘n jaar ouer as Mia. En êrens het Amy in die hoërskool beland.

Oor die telefoon luister ek na die meisies se Britse aksent wat hulle deur die jare by die skool opgetel het, maar ek skat daar het veel meer as dit verander. Eli is nie altyd lus om met my te praat nie. Hy ken my nie.

Min slapies
Min slapies

Aan die ander kant voel ek goor om my ander dogter-hulle oor die feesseisoen agter te laat. Gaan vir Mia en haar splinternuwe baba boetie, Eon, vreeslik mis. (As jy nog wakker is, weet jy nou dat al vyf my kleinkinders se name net drie letters het?)

In ‘n poging om op te maak, besluit ek om vroegtydig ‘n stukkie van Kersfees te steel en ons tradisionele Oukersaand fondue ‘n week voor my vertrek te hou. Kersboom en crackers en al.

Ek is ook bekommerd oor my katkinders. Al drie is oud met hulle eie behoeftes. Twee-en-twintig dae is vir hulle soos vyf maande. My dogter sal daagliks kom om hulle te versorg, maar dit gaan oor veel meer as kos en water en skoon sandbakke.

Ek verduidelik vir haar: Vir Dusty moet jy saggies borsel, sy linkerheup is sensitief. Vir Nellie met haar lang hare kan jy maar hard borsel … voel maar vir knoetse … vir Simba moet jy om een of ander rede toestemming gee om te eet. Jy moet sy koppie vryf, anders sal hy net voor sy bak kos sit en sy lippies lek. En Nellie is ‘n vraatjie, sy sal vir Simba wegstoot en sy kos ook eet … Elke derde dag kan jy vir hulle vars gras gee om te eet en in te rol en vir Dusty moet jy toedek, selfs al is dit warm en al is dit net vir ‘n tydjie totdat hy weer omdraai. En terwyl jy hier is, probeer om baie aan hulle te vat, jy sal sien hulle maak hulle nekkies styf as jy verby stap. En maak tog maar elke keer seker dat die balkonvenster nog mooi oop is, sodat hulle in en uit kan gaan.

My kleindogter luister af. “Mia Ouma mis,” sê sy met ‘n omgedopte glimlag. “En ek vir jou. Baie. Maar Ouma kom weer terug, en ek gaan vir jou ‘n presentjie saambring!”

Vol nuwe vreugde spring sy op my skoot. Met haar armpies styf om my nek, kry ek ‘n taai soen op my mond … appel geur Fizzer?

“Baai-baai Ouma!” groet sy my, nou heel gelukkig.

“Nee Liefie, ons gaan nog eers Kersfees vier voor ek weggaan.”

Intussen google ek die lughawens. Ek het jare laas gevlieg en nog nooit so ver op my eie nie. Is bietjie bang vir die stopover in Frankfurt. En ek raak dom as ek bang is. Probeer ek die blou en geel aanwysingsbordjies memoriseer. Die blou tekens A, B, C en Z lei na terminaal 1. Dís waar ek moet uitkom. Mense ry op bewegende bane van een plek na die ander. Sê nou ek verdwaal? Sê nou ek verpas my vlug na Heathrow?

Met Klaasvakie lankal in droomland, lê ek wakker. Tree die werklikheid in. Sien ek die drie kinders se gesiggies voor my. My hart loop oor. Vroetel ek in die donker vir ‘n sneesdoekie.

Hoor ek my dogter se stem. “Mamma moet warm klere inpak, dit raak bitter koud!” Dink ek hoe sy my vir die laaste vier jaar vertel hoe die plek met Kerstyd in ‘n sprokiesland verander. “Dis só mooi Ma, al die liggies en bome, wens net ek kan dit met Mamma deel.”

En verlede jaar moes ek nog tevrede wees met net die sneeu-foto’s.

Ja, soos oom Oubaas van 7de Laan sou sê, daar in die volksvreemde gaan ons hierdie Kersfees nuwe herinneringe maak. En wanneer ek terugkom, soos ek moet, sal dit makliker wees om hulle te mis in hulle werklike omgewing. Ek sal al die dinge weet wat ‘n ma gerusstel: Waar hulle woon, waar hulle slaap, wat hulle eet, waar die kinders skoolgaan, waar hulle inkopies doen.

Die dag met my aankoms gaan die kinders stokkies draai. Al vyf van hulle sal op die lughawe wag. Ek moet net daar uitkom?

Ontydig skiet my oё weer vol lastige trane … oor die kinders en die katte wat ek vir ‘n tydjie agterlaat, oor die kinders wat duisende kilometers ver wag, wat ook die slapies aftel, wat ek weer moet los … oor ek bang is. Sommer omdat die lewe soms so hel onregverdig is … omdat dit soms so ongelooflik wonderlik is.

Stukkie vir stukkie, in my vreeslik georganiseerde, deurmekaar kop, val al die stukkies van my vakansie in plek. Word my lysies al langer. ‘n Lysie van wat ek moet pak, van wat hier gedoen moet word as ek weg is, van hoe om die katte te versorg.

Ek kan bars van opgewondenheid en groet julle in my beste Britse aksent.

“Isle ov Wight, ’ere I come!”

O ja, hulle woon in Cowes, ‘n hawedorp, bekend vir die honderde seiljagte wat die kus versier.

“Dis eintlik Co-wes, Mammie, nie Cows nie …”

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar