Terwyl Christene reg maak vir een van die grootste herdenkings van die jaar het Lux Verbi.BM pas ´n nuwe genre in die Bybelmark betree met die Bybel in strokiesprentvorm. Ons groot Prentebybel vertel die hoof-storielyne van die Ou en Nuwe Testamente in een deurlopende roman van ongeveer 2 000 dramatiese, kleurryke illustrasies. Die uitgewer sê Bybelverhale wat deur oorbekendheid of gebrek aan belangstelling min impak het op moderne lesers, kry nuwe nuanses en word weer vars en lewendig omdat die leser meegevoer word deur die prente. Die leser sal groot vreugde put uit onder meer die uitbeelding van die slang voor hy gedoem is om op sy maag te seil. Die “virtuele realiteit” van hierdie ongewone Prentebybel sal veral spreek tot lesers wat deur die elektroniese media toenemend gewoond geraak het aan visuele stimulasie.
Ons groot Prentebybel is nie net nog ´n Kinderbybel nie want die filmiese strokiesprente is geskik vir alle ouderdomme. Volwassenes wat groot geword het met klassieke strokiesprente soos Asterix sal hierdie Bybel op hulle koffietafels wil hê.
Die teksskrywer is Mike Maddox, bekende skrywer van strokiesverhale en korrespondent vir die tydskrif Amazing Heroes in Engeland. Jeff Anderson, een van Brittanje se top-illustreerders van grafiese romans (‘n bekende genre oorsee) was verantwoordelik vir die verstommend lewensgetroue tekeninge. Van sy bekendste grafiese werke is 2000 AD en Judge Dredd. Anderson is onlangs aangewys as naaswenner van die Comic World Artist of the Year Award. Dié twee kunstenaars het meer as vyf jaar aan die oorspronklike Graphic Bible gewerk.
Die vertaler na Afrikaans was George Louw, bekende taalmens, uitgewer, digter en dramaturg.
Ons groot Prentebybel word uitgegee deur Lux Verbi.BM. Daar’s ´n tolvrynommer vir navrae: 0800-231-231.
