In

Eden is Suid-Afrika se antwoord op die boyband pop verskynsel wat deesdae die wêreld gaande het. Met een groot verskil: EDEN sing ook in Afrikaans! Al die regte elemente kom in EDEN bymekaar: passievolle stemme, stralende skoonheid, verruklike harmonie, imponerende dansroetines en briljante liedjies. Dis verfrissende, jong musiek wat sal aanklank vind by almal wat jonk van gees is. EDEN bestaan uit Sean, Cornel, Johan en Paulo. Sean is bekend as akteur en is een van RSG se Stralerjakker-helde. Cornel is ‘n sport-fisioterapeut, Johan is ‘n musiekstudent en Paulo ‘n ervare klankingenieur wat gereeld vir Coleski en Drie van die Bestes werk.

Didi Kriel en Mark Kahn is die regisseurs en verwerkers van Eden en albei het jare lange ondervinding in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Vir die afgelope vyf maande is daar hard gewerk om EDEN se eerste CD vrystelling IN te voltooi. Die CD is daarna in Bop Studios gemeng en daarna finaal deur Peter Pearlson versorg. Die foto’s is deur Merwelene van der Merwe, Johannes Dreyer en Sally Shorkend geneem en Anton Sassenberg was verantwoordelik vir die omslag ontwerp. Na vele onderhandelinge met platemaatskappye, het Eden besluit om vir eers hul CD self te bemark en te versprei.

In Augustus 2000 was Eden die Geraas-makers van die maand op GERAAS met hul eerste video “HEMEL TOE”. Gedurende September verskyn daar ‘n artikel van hulle in Rapport en maak hulle ‘n draai op KWELA. Op 9 September tree hulle op in die voorprogram van DRIE VAN DIE BESTES by die AULA in Pretoria. EDEN se eerste CD IN word stil-stil op AARDKLOP (27Sept – 1Okt) vrygestel waar gillende meisies hul vertoning volpak. Hulle het ook reeds op STRALERJAKKERS verskyn en in Oktober verskyn daar ‘n prag artikel van hulle in die DE KAT tydskrif. Tussen 16 – 21 Oktober tree hulle by die RENDEZVOUS STAATSTEATER op. RSG en Radio Rippel het reeds lugtyd vir EDEN aangekondig en gedurende November is hulle Sterre van die Week op Radio Rippel. EDEN het ook reeds ‘n radio onderhoud op RSG agter die rug . Besprekings stroom in : Kersiefees, KKNK, Rustenburg Fees, Kreeffees ens. Teen die einde van die jaar wag daar ‘n groot vakansieoord toer op die vier goue seuns van Afrikaanse musiek! Die toer eindig met ‘n optrede by die kroning van Mej Hartenbos op die 1 Januarie 2001!

IN bestaan uit 12 snitte waarvan 3 hermengde snitte is. (Hermeng deur Chris Palmer en Gary van Riet) Daar is ‘n verskeidenheid van style : van liefdes-ballades (“HIER BY MY”, “EK HOU VAN JOU”) tot opgewekte dansnommers soos “HEMEL TOE” en “I WANT TO GO THERE”. Daar is ook ‘n nuwe kraakvars verwerking van die Groep 2 treffer “DINK JY DAREM NOG AAN MY”, asook Bread se immergroen “IF”. Afrikaanse snitte soos “DIAMANTE EN GOUD” word afgewissel met Engelse nommers soos Machiel Roets se “HERE WE ARE”. Alhoewel daar net twee bydraes van die groep self is, Johan se “I WANT TO GO THERE” en Cornel se komposisie “HELLO GIRL”, skryf al vier die lede van EDEN liedjies, speel kitaar (Cornel nog boonop viool ook!) en kan van hierdie komposisies in hul lewendige vertoning gehoor word. Die koreograaf Timothy le Roux het EDEN die afgelope paar weke deur hul danspassies geneem ter voorbereiding van hul vertonings en met die kontemporere uitrustings van Peter Reso, tesame met uitstekende klank en beligting, beloof EDEN ‘n aand van onvergeetlike en sprankelende vermaak.

Lewer kommentaar

Leave a Reply