Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Die stories in hierdie boek is reise: na plekke, na tye her, na mense, na binne. En soos reise altyd maak, beweeg hulle jou, want jou siel is die eintlike reisiger. En soos met alle reise kleef daar ’n blouïgheid aan die opwinding.
Veertig jaar ná die verskyning van sy eerste, lank reeds beroemde kortverhaalbundel Duiwel-in-die-bos, het Chris Barnard baie om na terug te kyk. Seunskindjare in ’n landelike paradys. Die liefde in haar vele verleidinge. Vriende, en wat van hulle geword het. ’n Land, en wat dáárvan geword het. Dalk ’n singende en dansende land. In hul skone eenvoud soek hierdie veertig kort vertellings die plekke op waar lag en verlange naaste bure is. Stories sonder versiering, wat hulle juis die mooiste stories maak.
Daardie tyd was die enigste tyd wat die wêreld ‘n volmaakte plek was, sê die verteller in een van verskeie stories oor seunskinders in ‘n pastorale wereld van onskuld – en tog nooit sonder ‘n sydelingse blik op die slang in die paradys nie: die foon lui in die gang, sy ma sê al hoe minder, die dood van ‘n buurdogter wat sy eerste waardering vir vroulike skoonheid geïnspireer het.

Min kan Chris Barnard sy fyn aangevoelde uitdrukking van liefde en verlange nadoen, met soveel ekonomie van segging en soveel helderheid van styl. Die eenvoud van die stories verberg die diepte van hulle peiling van die menslike tweeling van glorie en onvolmaaktheid. Altyd met ‘n liefhebber se bewondering vir die teenoorgestelde geslag, druk baie van die stories hulle sin vir verlange uit in die vorm van mense op reis. Maar dis ook van hierdie verhale wat vir die kostelikste humor in die bundel sorg. Oulap se blou is ‘n titel wat vier, betreur vertroos, en ons ‘n bietjie beter laat verstaan wat dit beteken om ‘n mens te wees.
Uit Oulap se blou, bladsy 9
“Rooikoos het nooit gekla nie. Saterdagmiddae kon hy sy eie ding doen. Dan het ons met die honde in die veld gaan loop en likkewane gejag, voëleiers bymekaargemaak, bessies geëet, in die rivier geswem. Hy sou nooit ’n woord sê oor sy pa wat heeldag op die stoep sit nie. Behalwe skoolwerk kon hy als beter doen as ek. Hy was klein vir sy ouderdom, maar hy kon ’n klip verder gooi as ek; hy kon vinniger swem; hy kon enige boom tot in sy kruin klim; hy sou twintig klippies optel en negentien vir my gee om ’n mispel op vyftien tree af te skiet – en wanneer my negentien klaar weggeskiet is en die mispel hang nog, dan vat hy die laaste klippie en zwieng en weg is die mispel. “
