Rondom Soverby

Wat is dit aan die Weskus wat mense so vasgryp? Baie kenners het al dié vraag probeer antwoord maar vir elke mens hou die streek seker iets anders in. Een ding wat die gebied uniek maak is die Weskus se onmiskenbare mense wat diep onder jou vel inkruip. Rondom Soverby is die verhaal van ´n groep van dié mense.

Die boek handel oor die vissersgemeenskap van Dwarskersbos en omgewing wat by Soverby hulle bestaan uit die see gemaak het in die uiters moeilike twintiger-jare tot laat in die veertigs. Soverby is geografies tussen Laaiplek en Dwarskersbos aan die St Helenabaai geleë.

Dit is ´n kontreiverhaal wat die lewenswyse van vissersmense uitbeeld uit ´n era wat verbygegaan het. Hulle was arm en geld was skaars. Maar dit het hulle nie ondergekry nie. Byname was algemeen en poetse bak was ´n daaglikse gebeurtenis.

Abraham sê hy het die boek geskryf omdat die geskiedenis van Soverby en sy mense anders vir die nageslag verlore sou gewees het. Nou is dit opgeteken – ook danksy die borgskappe van die voorsitter van die Fabrieksvereniging van die Weskus Gerhard Wiese en Greg Anderson van Sea Harvest.

Die skrywer sê ook dat Taat Visser aan wie die boek opgedra word ´n boorling van Dwarskersbos was wat ´n goeie stukkie navorsing agtergelaat het. Sy weduwee Babs het in 1992, ´n jaar voor sy dood, die notas aan Abraham beskikbaar gestel, waaroor hy baie dankbaar is.

Abraham Brink is ´n Sandvelder van geboorte maar het nie net Suid-Afrika en die destydse Suidwes-Afrika platgeloop nie, maar ook oorsee in plekke soos Amsterdam en Londen gewerk. Hy was lank aan die Suid-Afrikaanse Vloot verbonde en het hom na sy uittrede op Dwarskersbos gevestig. Daar is hy ´n vryskutjoernalis wat weens sy liefde vir die natuur ook betrokke is by die Weskus Nasionale Park.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply