Terugdink

As hierdie ding gaan land, gaan ek eerste Wimpy toe. Varkworsies en bacon. Ek proe dit al. En dan park toe. Net om onder ‘n boom sit. Met koelte. Regte koelte, nie seile nie. En gras onder my voete. Groen gras. Ek hoop die spreiers was aan.

Die tires skree en ons is hier. By die huis. Die ou langs my bewe van angstigheid om sy vrou te sien. Hy vergeet amper sy laptop. Die tweetjies voor ons het amper regdeur die vlug gevry. Sies. Honeymooners.

Ek is deur doeane met alles sonder probleme. Nou moet die mense so staan en soen en druk en vir altyd en ’n dag lank groet. Ek wil hier uit. Avis was reg met die kar en ek is vort.

Die stad se verkeer was boggerôl teen waaraan ek gewoond is. Snaaks om te sien die mense hier rond het ook maar net so min geduld. Sal snaaks wees om hulle te sien bestuur in die verkeersknope en verkeersirkels in die Midde-Ooste.

Magalies se Wimpy maak die bacon soos jy dit vra. Proe soos altyd. Sommer op Magalies onder die bome gestop en kaalpoot op die gras geloop. Rustenburg is net hier. Die pad lyk dieselfde. Die weer voel dieselfde. Klere uit en ‘n lekker stort en bietjie TV in my taal. Riaan Cruywagen soos ek hom onthou. Die nommers van die Pizza plek is nog teen my yskas, en is sowaar nog dieselfde. Ek bestel ‘n Blou-Bul pizza met ekstra biltong, asseblief. ‘n Paar koues opgetel sommer op pad huis toe. Ek het nie baie geslaap op die vlug nie, so ek sal maar vroeg inkruip. My eie bed. Hoe voel dit dan nou?

My eerste dag terug. Sal gou vir my ‘n paar stelletjies klere gaan koop en bietjie groceries vir die twee weke hier. Die mall lyk dieselfde. En dit ruik nog dieselfde. Dit is net die biltong-winkel wat nou groter is. Ek kan nie onthou wat was langs hom nie. Ek kyk maar eers ‘n fliek en eet ‘n roomys.

Die groceries word uitgepak en besef eers toe dat ek vir jou ook ‘n stuk biltong gekoop het. Net soos jy daarvan hou. Met ‘n lekker stukkie vet aan. Ek sit vir tien minute en huil. Net daar op die kombuisvloer. Ek gaan goed aan, dit is net die klein goedjies wat my nog vang. Al ons lekker doen goedjies. Ek mis jou. Ek mis jou baie. Tyd sal genees. Ek hoop so. Die jaar en ‘n half wat verby is, was nie maklik nie. Die afstand het gewerk. Daar was niks om my aan jou te herinner nie. Weet nie of dit ‘n goeie ding was nie. Ek wil jou nie vergeet nie. Jou ouers praat nou nog nie met my nie. Antwoord niks. Ek het ook maar ophou probeer. Genoeg gesanik, ek gaan gou weer ‘n stort vang en bietjie uit. Ek dink ek sal gaan dans. Donderdagaande is lekker rustig. Ek lyk goed in die nuwe klere. Ek ruik lekker en is mooi glad geskeer.

My kop is seer en my lyf is nog moeg. Ek moes maar seker nie so laat gebly het nie. Daar is niks wat my vandag rondjaag nie. Maar ek hou nie van laat inlê nie. Die opteldingetjie se onderklere lê nog op die vloer. Sal maar bêre. Ek weet nie hoe vroeg dié hier uit is nie. Kan nie eers ‘n naam onthou nie. Ek bak eiers en baie bacon. Sal maar draf om die spekkies af te werk, maar vir die volgende twee weke eet ek bacon. En biltong. Die bure groet nie juis nie. Beweeg net die koppe so effens. Fok hulle. Nog nooit met my gepraat nie. Afrikaners is onplesierig, en dan maak hulle so.

Die naweek was maar besadig. Nie veel gedoen nie. Die rugby was lekker om te kyk. Jy sou my lekker gehaat het Saterdag. My span het gewen. Die wedstryd het my so bietjie laat verlang. Dit was in Bloemfontein, en met tye kon die kameras so oor die stad vee en ek sien die geboue daar agter en verlang na daai dae. Dit is seker al dertien jaar terug. Ons altwee klaar geswot en vars in die tuig. Jonk en jeukerig. Het jy vir my of ek vir jou daai aand ogies gemaak? Ook maar goed my blinde-afspraak het nie opgedaag nie.

Die week het niks wat besonders is nie. My ouers weet nie eers ek is hier nie. Sal seker iemand stuur om my te vloek as hulle geweet het. Niemand weet nie. Niemand van ons nie. Net die eiendomsagent. Ek gaan eers volgende week alles pak en verkoop. Klaar kopers vir alles. Sal die laaste twee aande in Kempton Park slaap. Dan is alles nou weg. En klaar. Daar is nou niks meer hier wat my sal laat terugkom nie. Weet nie of die land genoeg is om my te laat terugkom nie. Dit is net mense wat jou laat verlang na ‘n plek. Die mense hier wil my nie hê nie. En so dan ek ook nie vir hulle nie.

Die plekkie lyk maar anders met alles uit. Net soos die dag toe ons ingetrek het. Leeg. Al wat oorbly hier is al die herinneringe. Die lekker onthou-goed. Ek gee die sleutel vir die agent en loop weg voordat dié sien ek huil weer ‘n bietjie. Vir oulaas stop ek op Magalies vir brekfis. Seker die laaste vir baie lank. Of dalk vir altyd. Weer huil ek ‘n bietjie. Die stoomtrein kom nie op Dinsdae verby nie. Sal daarvan gehou het as hy het. Net om koebaai te sê vir die ding. Die hotelkamer is maar klein en druk my vas. Ek sal gaan dans en rondry tot ek moeg is. Die hotelbed is lekker snoesig en die opteldingetjie lê moeg langs my. Ek het nie vir ‘n naam gevra nie.

Weereens word ek wakker met die opteldingetjie al klaar vort. Ook maar goed so. Was nie lus vir gesels nie. Môre vlieg ek hier uit en die vliegtuie herinner my daaraan elke paar minute soos hulle opstyg en land. Ek weet waarheen ek gaan, maar waarheen gaan ek regtig. As ek hier los, los ek jou. Agtien maande om presies te wees. Verstaan my mooi, ek hardloop nie weg nie. Hier is net mooi niks hier vir my nie. Ons plan was mos om oor te gaan elkgeval. Nou gaan ek maar.

My tassie op my skouer en daar stap ek die laaste tree op die Suid-Afrikaanse bodem. Niemand sit langs my nie. Ek kan lekker ontspan en die vlug geniet. Ek vang myself soek na bekende plekke uit die lug. Ek herken groot bakens en dink terug of ons al daar was of nie. Die vreemde sal my laat ophou so wonder. Ek weet nie of dit ‘n goeie ding is of nie.

Suid-Afrikaanse Lugdiens, 1970

Lewer kommentaar

Leave a Reply