Dit is flippen koud hier langs die pad by Bloemfontein waar die son sak oor die 1SAI-hindernisbaan in die army-kamp wat ek in my diepste wese haat, nes hierdie intense koue wat in my lyf kom vassteek het soos ’n dolk met bibberende vrae. My lyf is koud, regtig koud en die beret op my kop maak niks toe nie, nie eens die wroeginge nie.
Orders en bevele hou jou hande langs jou sy, want om duim te ry is teen weermag reëls, nou hou jy hulle maar buite warm sakke om af te vries. Tuisgekom sal jou ma dalk hierdie stommerik moet voer.
Dis asof die son wat sak die deur groter oopmaak en die koue my in sy grynsende kokon kom toevou, terwyl ek suid kyk vir ’n lift voor die donker. Verwey kom hier dig by my uitgestap vanaf die kamp se draad.
Volgens hom het hy ook skielik naweekpas gekry, vuil boots en al. Hy bly ’n drol. Vreet al die stront op, sekerlik omdat sy kop nie sy lyf kan vertel “hi ou, jy tjop nou af” nie. Die ewige swaap smile asof alles en almal hom happy maak. Sy dankbaarheid mak almal rondom hom de moer in, want die korporaal lees dit as ’n uitdaging om sy idiotiese smile saam met ons sweet in die rooi grond met ons bloed te meng.
Dril kan hy nie, kan nie eers loop en kou gelyk nie. Barakinspeksie dop hy kronies en kry ’n koue stort as beloning. Hy het melkbaard wat jy met ’n lepel kan skeer, maar tot baardinspeksie kry hy nie geslaag nie.
En skielik kry ek warm. Hy het tot my koue kom steel. Die koue het ’n ontvanklike warm smile op sy bakkies vasgevries met die hartlike ongelooflik ingeligte uitlating “kry jy ook koud?”
Nee drol, ek sweet soos ’n Eskimo wat visvang by ’n gat in die ys in die Vrystaat langs die army-kamp in Bloemfontein in die Republiek van Suid-Afrika op die kontinent van Afrika omrede jou regering my grootouers bullshit verkoop het dat dit my ’n patriot sal maak.
Ja, my hart is koud en ek wonder of ’n siel ook kan vries. Verwey het my laaste hitte kom steel en my kanse op ’n lift met vyftig persent halveer. Hoekom op hierdie Vrydag, waar ek met my hele lewe weggepak in ’n army duffel-sak staan? Hoekom juis vandag?
Ek staan vasgevang met die wete dat die lift en die naweek ’n wrede retoerkaartjie het wat my weer gaan terugbring na hierdie hel wat my van keuses ontneem, en Sondag begin alles van voor af. Die terugkom is hel.
Ek soek ’n rede soek om eerder huis toe te stap, selfs verby te stap, selfs te stap om te kyk of ek verby die horison kan stap, maar stap wil ek stap, verby hierdie kots wat in my keel kom sit en my net leeg laat staar na die verstandelose sot hier in my koue spasie langs die pad.
Net dan stop ’n vuil kar reg langs ons innie pad.
Ek staan steeds vasgenael in my koue denke en kyk hoe Verwey agterin klim en die vuil kar wegtrek en my net daar los om weer alleen met die koue te gesels.
Verwey het my koue, my lift en my stap na die horison kom steel.
Ek kyk die kar in stadige aksie agterna toe die wind aan my regterskouer kom ruk en die trok die kar met Verwey in se reis huis toe kort knip. Die slag en stofreuk hang in my kop en ek wonder waar ek nou heen sal gaan?
Hier staan ek op die hoek van ’n straat, jare later, moeg gebloei vir ’n land wat ten gronde gaan. Skielik deel Verwey my koelte met ’n vrede op sy gesig wat my stil en rustig maak. My kans om dankie te kan sê vir ’n lift in die koue langs ’n teerpad wat hy by my gesteel het.
Dankie Verwey.

ek het julle e mail addres weerle
ek wil graag n plasing doen en sukkel so bietjie
bydraes@roekeloos.co.za