Roekeloos
Jeff Bridges is al verskeie kere benoem in sy lang loopbaan, maar dit was Crazy Heart wat aan hom die Golden Globe, Screen Actors Guild-toekenning en ‘n Oscar besorg het.
Bridges vertolk die rol van Bad Blake. Bad is country sanger wat gepootjie is deur ‘n verlede met te veel vrouens en drank. Sy toekoms hou niks meer in as optredes in vervalle kroeë nie. Dit is tot die dag waarop ‘n jong joernalis (Maggie Gyllenhaal) aan sy deur klop. Bad sien die jong vrou as ‘n moontlike pleister vir sy gebroke hart.
Hierdie rol pas Jeff Bridges soos ‘n handskoen. Hy bied ‘n verweerde voorkoms aan die kyker op die oppervlak, maar net daaronder straal hy nog ‘n mate van trots uit.
Jeff Bridges verleen geloofwaardigheid aan die fliek. Regisseur Scott Cooper se prentjie van rokerige kroeë is gans te netjies en skoon en sy storie te sentimenteel.
Die fliek word sterk aanbeveel vir diegene wat ‘n ware Oscar-wenner in aksie wil sien.
Regisseur: Scott Cooper
Met: Jeff Bridges, Maggie Gyllenhaal, Colin Farrell, Robert Duvall

3.5 / 5